Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaapse afstigting onhaalbaar en onmoontlik
Jan-Jan Joubert
Netwerk24

In hierdie dae word op sosiale media, daardie hutspot van onbenullighede, ’n versoekskrif versprei dat die Wes-Kaap moet afstig. En wil jy glo, sommige teken dit.

Om enigiets betreffend die staat of beleid op sosiale media te teken, is mos reeds sinloos, want dit wek geen verpligting by enigeen nie. Dit beteken dus letterlik niks.

Maar daar is ook redes hoekom afstigting eerstens onhaalbaar en tweedens onmoontlik is.

Eerstens is dit grondwetlik onwaarskynlik. Vir enigiets omtrent ’n provinsiale grens om te verander, word die instemming van die nasionale parlement, asook die wetgewer van elke provinsie wat die grens deel, vereis.

Dit beteken die regerende party sowel as die magshebbers van die provinsiale wetgewers in Kimberley en Bhisho (tans almal die ANC) sal moet instem en dis ten diepste onwaarskynlik.

Die laaste keer dat ek gekyk het, het die Wes-Kaap probleme gehad om Sylvester die rondloperleeu provinsiale grense te laat respekteer . . .

As jy dit onwettig wil doen, kan jy altyd ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring (UDI) doen. Die laaste ouens wat dit probeer het, was die Rhodesiese Ian Smith-regime in 1965, en dit het nie so goed vir hulle uitgewerk nie.

In elk geval sou dit nie ’n goeie plan wees om af te stig nie. Enige Kapenaar wat tans kla oor hulle nie die provinsiale grense kan oorsteek nie, moet eerder nie eens wonder hoe dit sal wees as daardie grense internasionaal is nie. Hoe gaan jy dan vir die familie kuier?

Daardie grense sal voorts bewaak moet word. Wie gaan dit doen en wie gaan daarvoor betaal? Wil die ondertekenaars ’n toestroming uit die Oos-Kaap keer? Amerika kry dit dan juis so puik reg aan sy suidelike grens, en Europa aan die suidoostekant en die Middellandse kus! Dit gaan nie gebeur nie.

Die laaste keer toe ek gekyk het, het die Wes-Kaap probleme gehad om Sylvester die rondloperleeu provinsiale grense te laat respekteer . . .

Nee wat, die eintlike rede waarom hierdie versoekskrif op sosiale media die rondte doen, is omdat ons in aanloop staan van ’n munisipale verkiesing. Daar is ’n party genaamd die Kaapse Party wat desperaat is vir steun, want in al die jare kon hy nog nooit iewers ’n wyk of setel in enige vlak van regering wen nie.

En al is sy kanse nul om die bewind oor te neem en sy beleid te verwesenlik, kan dit darem ’n aanvullertjie van inkomste wees om in die sagte magsbanke sit, of hoe?

Die rede waarom soveel mense wel in die versoeking is om die versoekskrif te teken, is sekerlik omdat hulle nie wil hê die Wes-Kaap moet dieselfde pad van verval loop as die res van die land nie.

En dit is, op die keper beskou, hoekom die versoekskrif benewens alles anders ook onnodig is.

Die Wes-Kaap is reeds anders as die res van die land. Dis nie die hemel nie, maar ons het beter paaie, onvergelykbaar minder korrupsie, amper al die munisipaliteite kry skoon oudits, die laagste werkloosheidsyfer, ’n funksionerende openbare hospitaal- en onderwysstelsel, en ’n korona-respons waarop mens trots kan wees.

Die Wes-Kaap het baie probleme en tekortkominge, maar dis anders en dis beter, wat afskeiding en versoekskrifte die tydmors maak wat dit is.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Grense  |  Politiek  |  Afstigting  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.