Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaapstad hou karnaval!
karnival
karnival

Die eerste Kaapstad Karnaval in 2010 in Langstraat het sowat 11 000 toeskouers gelok. Verlede jaar se karnaval het sowat 54 000 toeskouers gelok – en vanaand om 19:00 word selfs méér verwag, skryf Jay Douwes.

Die tema vir vanjaar se Kaapstad Karnaval-optog is “Vuka Ukhanye: Arise ’n Shine!”.

Dié tema is spesifiek gekies omdat die karnavalgemeenskap ’n oop gesprek ontwikkel het om die kwessies wat in die tema ingesluit is, te verken.

Vuka Ukhanye nooi almal om die beste te wees wat hulle kan wees – in hul eie lewe en in hul gemeenskappe. Mense word uitgenooi om op te daag, beperkende oortuigings af te skud, vrese te oorkom en standpunt in te neem oor kwessies in hul gemeenskappe – deur saam te staan en erkenning te gee aan samehangendheid en lig te werp nie net op die uitdagings nie, maar ook op persoonlike en kollektiewe krag.

Dit stuur ’n boodskap aan land­genote dat die Kaapstad Karnaval staan by sy oortuigings en bly is om sy krag ten toon stel en te werk aan positiewe verandering in gemeenskappe.

Skep ’n samewerkende platform

Elke jaar word ’n tema vir die karnaval gekies om die samewerkende aktiwiteite in die aanloop na die karnaval te bou.

Wanneer die tema gekies word, word gedink aan die kuns wat geskep word om die tema te beklemtoon en om te gesels oor die kwessies wat individue in gemeenskappe en die stad as geheel in die gesig staar.

Deur die jaar word die tema ondersoek en geïnterpreteer. Só word die sierwaens, kostuums en stukke wat opgevoer word, in stories omskep om die publiek te inspireer en in te lig oor dié kwessies.

2 200 kunstenaars van 54 groepe van verskeie gebiede van die metropool gaan vanaand deelneem aan die karnaval.

Die publiek word uitgenooi om te kom kyk hoe die stories op ’n kreatiewe manier vertel word. Die karnaval vier gemeenskappe se ont­waking, ontwikkeling, die worsteling met daaglikse uitdagings; om vrese in die gesig te kan staar, om op te staan en die krag te ontsluit terwyl energie uitgestraal word; die samekoms van die wonderlike, verskillende en pragtige mense van Kaapstad.

Ekonomiese voordele

Die karnaval het nou sy tiende jaar betree, en het ’n ekonomiese op­lewing vir die stad bewys. Daar is bereken dat die direkte bydrae van die karnaval tot die stad se bruto binnelandse produk in 2018 R58,5 mil­joen was.

Meer as 50 energieke en talentvolle gemeenskapsvertoningsgroepe, skouspelagtige sierwaens, reusepoppe en buitensporige kostuums gaan die Groenpunt-lekkerlooproete ophelder, terwyl toeskouers van oor die wêreld heen saamkom langs die optogroete van 1,2 km.

Vaardigheidsoordrag

Een van die groot voordele van die karnaval is die vaardigheidsontwikkeling wat onder die deel­nemers en produksiespanne plaasvind.

Deur die loop van die wordings­jare van die karnaval was daar wonderlike suksesverhale onder die personeel. Yolanda Mtshawu het by die karnaval begin as ’n kunstenaar in die optog en is nou ’n bemarkingsassistent en koördineerder.

Sy is verantwoordelik vir die koördinering en beplanning van sommige van die karnaval se mees kritieke elemente. Michael Bagapi, wat as junior lid van die kostuum­produksiespan begin het, is nou ’n toesighouer van vervaardiging in die kostuumdepartement. Daar is baie sulke stories.

Grimering, kostuumontwerp en -vervaardiging, skildertegnieke, beeldhouwerk, choreografie, stelbou-, bemarkings- en gebeurtenis­logistiek, sierwaproduksie, houtwerk, sweiswerk en staalkonstruksie is net ’n paar van die vaardig-hede wat in die karnavalwerks-winkel ontwikkel is.

Personeellede floreer op die ontdekking van nuwe en innoverende maniere om die beste effekte met vlotte, kostuums en grimering te bereik, insluitend vindingryke herwinning van materiale en komponente.

Werksgeleenthede wat deur dié geleentheid en projek geskep word, is seisoenale en kontrakwerk. Werknemers kan aan die einde van die karnaval in ander nywerhede werk deur gebruik te maak van vaardighede wat in die aanloop na die karnaval aangeleer is.

Die karnaval ondersteun entrepreneurs en klein ondernemings en het in 2018 werksgeleenthede vir 1 399 mense geskep. Byna die helfte hiervan is vroue, wat hulle in staat stel om ’n belangrike rol te speel in die bevordering van positiewe veranderinge in hul gesinne en binne hul gemeenskappe.

Die karnaval speel ook ’n belangrike rol vir die streek se jeug met 70% van die karnavaldeelnemers wat tussen 16 en 25 jaar oud is.

Dit bied ’n platform vir die jeug in die Wes-Kaap om bemagtig te word, wat hul vertroue en vaardigheidsontwikkeling bou om die arbeidsmark te betree.

Minimum omgewingsimpak

Elke jaar fokus die karnaval op die omgewing – in boodskappe, aktiwiteite en gesprekke.

Die karnaval het sy belangrikste fokus op die omgewing gehad deur die Moederaarde-tema vir verlede jaar se karnaval te gebruik.

Die karnaval het sy doelwit bereik dat hy geen afval na die stortingsterrein geneem het ná die geleentheid nie. Dit is te danke aan die Kaapstad-marathonspan, wat dit begin het.

Die karnaval het ook in ’n reënwateropvangstelsel by sy werks­winkel in Maitland belê en het nie enige munisipale water gebruik om verlede jaar se geleentheid aan te bied nie.

Daarbenewens het bouers van sierwaens en kostuumvervaardigers herwonne en hergebruikte materiale gebruik om die karnaval se kuns­werke te vervaardig.

Internasionale platform

Nadat die Hongkong-toerismeraad die karnaval se kostuums gesien het, het hy ’n groot groep karnaval-kunstenaars genooi om deel te neem aan die internasionaal bekende Cathay Pacific- internasionale Chinese Nuwejaarsoptog, wat op 5 Februarie plaasgevind het.

Die geleentheid dui daarop dat die kostuumontwerpe en kreatiwiteit op internasionale vlak gesien en waardeer word.

Die reis

Die karnaval is ’n trust sonder winsbejag en die koördinering is nie ’n kleinigheid nie.

Ons span sierwabouers, kostuumontwerpers, borge, professionele personeel en kunstenaars is toegewyd aan die projek.

Hulle het nagenoeg ’n jaar lank onverpoos gewerk om die 2019 Kaapstad Karnaval op die been te bring.

Die karnaval-optog vind vanaand vanaf 19:00 in Groenpunt plaas. Vanaf 15:00 is daar vermaak, kos en drank in die Carnival Village.

Douwes is uitvoerende hoof van die Kaapstad Karnaval.

Meer oor:  Kaapstad Karnaval  |  Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.