Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaapstad is dalk geboorteplek van moderne fopnuus
Foto: Bun Booyens

Oral waar ’n mens kyk, lees of luister, kry jy deesdae fopnuus. Dis frustrerend, maar nie ’n nuwe verskynsel nie.

’n Mens wil dit liefs nie hardop sê nie, maar Kaapstad word wyd bestempel as die geboorteplek van fop- nuus in die moderne drukmedia.

Op 25 Augustus 1835 het The Sun, ’n sukkelende sensasie-dagblad in New York, op sy voorblad aangekondig: “Great Astronomical Discoveries Lately Made by Sir John Herschel at the Cape of Good Hope”.

Dié artikelreeks is geskryf deur Richard Adams Locke, ’n immigrant uit Engeland wat vir hom naam as koerantman in New York wou maak.

Dít het hy wel reggekry. Sy artikels oor hierdie “ontdekkings” het The Sun kortstondig die koerant met die grootste sirkulasie ter wêreld gemaak.

Die nuushoek? Die Britse sterrekundige sir John Herschel het lewe op die maan ontdek met behulp van ’n kragtige teleskoop van sewe ton in Kaapstad.

Die storie het aanvanklik geloofwaardig geklink, want Locke het sy inligting glo by ’n bron by die Edinburgh Journal of Science gekry. En sir John het inderdaad by die sterrewag in die Kaap gewerk. Én hy was immers die seun van sir William Herschel, die man wat in 1781 die planeet Uranus ontdek het.

Die lesers in New York was in rep en roer oor die berigte en Locke het die pap al dikker begin aanmaak, want “die hele beskaafde wêreld” moes van dié ontdekkings weet.

Die lesers in New York was in rep en roer oor die berigte en Locke het die pap al dikker begin aanmaak, want “die hele beskaafde wêreld” moes van dié ontdekkings weet.

Herschel se teleskoop was glo so sterk (danksy die “refrangebility of rays” en “transfusion of artificial rays” en ’n dosis “hydro-oxygen”) dat die maanlandskap lyk of dit skaars ’n honderd treë van jou af is.

En die tonele was asemrowend: Plate blomme wat amper soos papawers lyk, groot kristalle wat soos piramides bo die maanlandskap uittroon, en vlaktes wat wemel van troppe bisons, monsteragtige eenhorings en groot stertlose bewers. The Sun se sirkulasie het letterlik oornag van 8 000 tot 19 360 gestyg.

Toe kom die klimaks: Daar woon ook intelligente wesens op die maan, vier voet lank, met vlermuisagtige vlerke. Die wesens kan ook te voet beweeg – “regop en waardig” – en beduie dan met hul arms wanneer hulle kommunikeer.

Akademici het egter begin lont ruik, veral toe Locke vir sy lesers vertel het van ’n maantempel van saffier met ’n dak van goud.

Ander koerante het The Sun se berigte begin oorvertel en die besonderhede aangedik, soseer dat ene Harriet Martineau van Massachusetts aangebied het om sendingwerk onder die maanwesens te gaan doen.

Akademici het egter begin lont ruik, veral toe Locke vir sy lesers vertel het van ’n maantempel van saffier met ’n dak van goud.

Twee professore van Yale het na The Sun se kantoor gegaan en aangedring om die oorspronklike sketse te sien wat Locke by sy artikels geplaas het. Dit was helaas “by die drukpers”, en boonop is Herschel se teleskoop intussen per ongeluk deur “die son se strale” vernietig. Die storie het platgeval.

Locke het dit laat lyk na iets tussen ’n poets en satire, en The Sun het nooit ’n regstelling geplaas nie.

En Herschel? In die Kaap was hy salig onbewus van die fopnuus, totdat hy begin briewe kry het van mense wat vra of hy kan help om Bybels maan toe te stuur.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Kaapstad  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.