Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaboem! Regdeur sy kop en daar lê Phineas toe
Heinz Mödler

Vir die 25-jarige Phineas Gage was dit maar net nog ’n gewone werkdag. Phineas was ’n verantwoordelike en hardwerkende voorman wat aan ’n spoorlyn in Vermont in Amerika help bou het.

Op 13 September 1848 het Phineas met ’n koevoet plofstof in ’n gat vir ’n latere beheerde ontploffing vasgestamp. Ongelukkig was dit ’n metaalkoevoet en die gestampery het ’n vonk veroorsaak – wat die plofstof ontsteek het.

Die gepaardgaande ontploffing het die koevoet van langer as ’n meter uit die gat teruggeskiet – regdeur Phineas se kop. Sy kollegas het die missiel, besmeer met bloed en breinweefsel, later doer ver in die bosse gaan optel.

Die koevoet het deur Phineas se linkerwang gedring en sy kop in die middel van sy skedel weer verlaat.

Ongelooflik genoeg het Phineas, wat deurentyd nog by sy volle bewussyn was, uit die stof opgestaan, sy kop geskud en met ander werkers begin gesels. Hy kon alles wat gebeur het, haarfyn onthou.

Op die rit na die dokter, dr. Edward Williams, het Phineas nog aantekeninge in sy werkboek gemaak. Williams kon nie glo wat hy sien nie – en het ook nie geweet wat om te doen nie.

Hy het maar net die wond skoongemaak en van die stukke skedel wat nog tussen die hare verstrengel was, netjies teruggeplaas.

Hy het maar net die wond skoongemaak en van die stukke skedel wat nog tussen die hare verstrengel was, netjies teruggeplaas, met ’n pleister toegeplak en Phineas na ’n spesialis, dr. John Harlow, verwys.

Phineas het nog 12 jaar ná die insident geleef om sy storie te vertel. En hoewel hy sy linkeroog verloor het omdat die oogsenuwee in die koevoet se pad was, het Phineas feitlik geen neurologiese uitval oorgehou nie.

Maar Phineas was nie meer dieselfde man as voor die insident nie. Skielik was hy onbetrokke by die werk en só onbetroubaar dat hulle hom moes laat gaan.

Hy het absurde idees begin kry en daar was selfs sprake dat hy vroue molesteer het. Dit alles druis in teen die grein van die verantwoordelike en eerbare man wat hy voor die ongeluk was.

Harlow kon dit verduidelik. Hy het die veranderinge in Phineas se persoonlikheid toegeskryf aan die skade wat die koevoet aan sy frontale breinlob veroorsaak het.

Ander dokters het Harlow se teorie egter afgeskiet, maar die fisioloog David Ferrier het tien jaar later die belang van die mens se frontale lob in van sy eksperimente bevestig.

Deesdae weet ons dat die frontale lob sterk assosiasies het met funksies soos geheue, besluitneming, persoonlikheid en die beheer van inhibisies. Ook is defekte in hierdie area, asook van die temporale areas van die brein, een van die oorsake van epilepsie.

Phineas het ’n paar jaar ná die insident epilepsie ontwikkel. Om die waarheid te sê, hy het gesterf weens status epilepticus, ’n lewensgevaarlike toestand waarin die konvulsies van ’n epileptiese aanval nie deur medikasie gestop kan word nie.

Sou jy verkies om op jou volgende buitelandse vakansie nie die gewone katedrale en museums te besoek nie, maar liewers iets meer uitdagend te doen, gaan na Harvard se mediese skool.

In die anatomiemuseum sal jy Phineas se skedel in lewende lywe sien. Ook die koevoet.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Kop  |  Skedel  |  Phineas  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.