Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaders kan nie wegbly van krip

So ’n bietjie meer as twee maande gelede het pres. Cyril Ramaphosa op ’n wildveiling binne 10 minute bykans R20 miljoen in sy sak gesteek.

Nduvo, ’n vierjarige buffel, het op sy eie Cyril se beursie met R4 miljoen gestyf. Dis maar ’n paar stuks vee wat Ramaphosa van die hand gesit het. Ons weet ook dat hy al R18 miljoen op ’n buffel gebie het.

Johann Maarman

Kyk jy na die inskrywings in die bateregister van LP’s, beslaan Ramaphosa s’n ’n paar bladsye. Hy is nie ’n rand-miljardêr nie, maar ’n dollar-miljardêr.

Daarom raak ’n mens nogal bekommerd dat Ramaphosa ’n skenking van ’n lieplapper-maatskappy soos Bosasa aanvaar het. Die geld is glo gebruik om sy presidensiële veldtog te help finansier.

Maar dit het ons net twee dae gelede uitgevind.

Ramaphosa het nog twee weke gelede oop kaarte gespeel en gesê die R500 000 wat Bosasa betaal het, was vir konsultasiewerk wat sy seun vir dié maatskappy gedoen het.

Hy het selfs sover gegaan en gepredik dat volgens sy inligting is hy verseker dat daar niks ongerymds is aan die betaling nie en dat hy self sy seun na die polisiekantoor sal bring indien daar ’n sweempie van bedrog of korrupsie is.

Met hierdie versekering het hy natuurlik vir hom politieke punte gekoop, want hy het oop kaarte met die publiek gespeel en hom aan die toets van deursigtigheid onderwerp.

Nou hoor ons egter ’n ander storie, dat hy direk baat gevind het by die skenking. Dit help nou geensins dat hy die geld wil terugbetaal nie. Dit is vir hom kleingeld, maar dit is die beginsel wat hier ter sprake is.

Ramaphosa of sy verkiesingshoof behoort onmiddellik alarm te gemaak het en Bosasa in sy peetjie gestuur het.

Al voordat hy aan die bewind gekom het, was Bosasa geteer en geveer as ’n maatskappy wat nie die nodige integriteit het nie. Hulle het lankal die etiese beginsels by die deur uitgesmyt toe hulle geld gekanaliseer het na ANC-LP’s, senior ANC-lede en ministers om hul rug te krap wanneer dit nodig is.

Daar is mos die ou sê-ding dat daar niks soos ’n gratis maaltyd is nie.

Ai, man, waar is die dae toe bevryding hoog op die agenda van die ANC was sonder om een keer te dink watter materiële voordeel daar vir hulle sou wees?

Bosasa met sy gekonkel het vir ’n netwerk van patronaatskap gesorg. Die tjeks wat hy so mildelik aan ANC-kohorte uitgeskryf het, was maar ’n klein paaiement. Hierdie ANC-apparatsjiks moes maar net sorg dat die vet kontrakte na Bosasa gekanaliseer word.

Dit help niks die president wil stof opskop oor die VBS-skandaal en oor staatskaping maar hanteer die Bosasa-kiem met wit handskoene nie.

Ons weet hoe Jacob Zuma hierdie land in sy peetjie laat gaan het met sy netwerk van patronaatskap. Ons kan ongelukkig nie terugkeer na die Zuma-jare waar ons anderpad kyk wanneer dit by korrupsie kom nie.

Ramaphosa het beloof dat hy vir ons ’n nuwe geskiedenis gaan skryf. As hy ernstig is dat korrupsie met wortel en tak uitgeroei moet word, sal hy homself nou moet onderwerp aan ’n kommissie van ondersoek. Laat die kommissie al Bosasa se regeringskontrakte ondersoek en sommer ook aan wie Bosasa geld geskenk het.

Hierdie land is siek en sat vir rampokker-politici. Wys ons ’n slag jy is ernstig toe jy gesê het jy gaan ontslae raak van hierdie kartelle wat Suid-Afrika rot en kaal besteel in die naam van swartbemagtiging.

Ai, man, waar is die dae toe bevryding hoog op die agenda van die ANC was sonder om een keer te dink watter materiële voordeel daar vir hulle sou wees? Maar nou staan die kaders by die krip en vreet hulle trommeldik. Lyk dan nou asof die struggleons baie honger gemaak het.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.