Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaiings is die balans vir kaviaar
Prof. Hennie van Coller

Afwesigheid beteken dikwels gemis. Of dit ’n plek of huis is waarvan afstand gedoen moet word; besittings wat weggeraak het of – erger – iemand se plek wat leeg geraak het; eers later word opnuut met waardering bestek geneem van wat jy gehad het.

’n Paar jaar gelede het ons vir ’n jaar in Brus-sel gebly, ’n wêreldstad waar daar nooit rus is nie. Snags loei die sirenes van ambulanse en polisiemotors en by drinkplekke duur die rumoer tot vroegdag.

In ’n stad kwyn die natuurlike lewe. In ons woonstel op die sewende verdieping het ons by een geleentheid ’n kraai gewaar wat half despraat na kos gesoek het. Buite op straat was daar darem ’n paar duiwe wat gereeld deur buurt-bewoners gevoer is. Ander voëls het ons nooit gesien nie, behalwe in parke waar netjiese banke, beddings en paadjies die idille van ongereptheid onherroeplik vernietig het.

Terug by ons huis het ons eers werklik die stilte waardeer. As dit versteur is, was dit meestal voëls wat ons met nuwe oë aangekyk het en wat ons nader gelok het met water en kos. Die opwagting van fisante, tarentale en ’n skilpad of wat het gesorg vir opwin-ding. Selfs verniel-sugtige vetboud-dassies word ver-duur.

Kaviaar word in balans gehou deur kaiings; konjak deur mampoer.

Daar word vertel dat die vermyding van aardse kleure deur van die eksperimentele skilders van die 20ste eeu ’n voorkeur vir die stedelike omgewing uitdruk. Dieselfde sentiment skemer deur in van die gedigte van die Nederlandse digter J.C. Bloem. Daarteenoor het ’n satirikus soos Jonathan Swift werk waarin by wyse van spreke modder en drek voorkom, hewig verdedig.

Die mens het vervreemd geraak van die natuurlike, het hy beweer. Sy neus moet as’t ware weer in die nare dinge gedruk word; hy moet uitwerpsels hanteer om die onthegting van die natuurlike te besweer.

In praktiese terme: Iemand wat die “hoë dinge” soos musiek, kuns en letterkunde waardeer, moet steeds by tye in die grond wroet, wiele vol ghries vervang en roeserige lekplekke herstel. Kaviaar word in balans gehou deur kaiings; konjak deur mampoer.

Toe ons jare gelede twee jaar in Nederland gewoon het, het ons elke vakansie benut om met ons kewertjie en klein tentjie Europa te deur-kruis. Destyds was luukse woonwaens met TV-antennas ’n seldsame gesig. In Nederland is openbare vertoon van rykdom in die hoogbloei van die sosialisme boonop as onbehoorlik beskou. Selfs beroemdes het met hul tentjies op stap gegaan.

Op besoek by ons was my ouers, naby sestig, kwalik voorbereid vir ’n tentvakansie deur Frankryk, Duitsland, Italië tot in Griekeland. Onlangs het ek weer my pa se dagboek van dié vakansie gelees; hierdie reis van 12 000 km – waar hulle op ’n opblaasmatras geslaap het – was ’n hoogtepunt in sy lewe.

Luukses alleen bring selde geluk.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Kuns  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.