Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Kakies kan my vang, maar roer kry hulle nie!’

Hierdie verhaal kry ek van Mazotinyane (Dawie) de Villiers.

Fransjohan Pretorius

Wat maak jy as jy sien dis klaarpraat, die Britte gaan jou vang? Op hierdie vraag moes Mazotinyane se oupa, David de Villiers, as 17-jarige lid van die Harrismith-kommando in die Anglo-Boereoorlog vinnig ’n antwoord kry.

Toe besluit hy: “Die Engelse kan my maar vang, maar my geweer kry hulle nie.”

David (gebore 1884) het grootgeword in ’n militêre tradisie. Sy oupa, C.J. (Mazotinyane) de Villiers, was kommandant van Harrismith tydens die Tweede Vrystaat-Basoeto-oorlog teen Moshoeshoe in 1865-1866.

David se pa (ook C.J.) van die plaas Kransfontein, destyds in die Harrismith-distrik, is met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog as kommandant van sy distrik na Natal gestuur. David het sy pa met sy splinternuwe Mauser 7x57 met die unieke nommer 1111 vergesel.

Die jong David se vuurdoop was met die Slag van Platrand, buite Ladysmith, op 6 Januarie 1900. Sy pa het saam met die Vrystaters Wagon Hill suksesvol verower, hoewel die helfte van die burgers se moed hulle teen die steilte uit begewe het.

Teen die aand het Britse versterkings hom genoodsaak om die heuwel ná 16 uur se geveg te verlaat.

Op heldhaftige wyse was hy die laaste wat padgee. Pa en seun het betyds uit die Brandwaterkom ontsnap toe Marthinus Prinsloo einde Julie 1900 met 4 400 man oorgegee het. Daarna was veg vir David onder genl. Christiaan de Wet vinnig maar gevaarlik.

In Februarie 1902 kom David se keuse: óf ek óf my Mauser.

In Februarie 1902 kom David se keuse: óf ek óf my Mauser.

Die Britte het met lord Herbert Kitchener se “new model drives” die Vrystaters onder De Wet in die Noordoos-Vrystaat teen die blokhuislinies vasgekeer.

By Kalkkrans tussen Vrede en die huidige Warden het die Boeremag met pres. M.T. Steyn en die regering die aand van 23 Februarie deur die Britse linies gebreek, en in die proses die 7th New Zealand Mounted Infantry groot verliese toegedien. Die Boere-linkerflank waarby die jong David hom bevind het, is egter in die proses afgesny.

Hulle het glo nie eens ’n uur gegrawe nie, toe kry hulle die Mauser met 1111 duidelik daarop.

Die volgende oggend, 24 Februarie, het David besef hulle is vasgekeer. Dis toe dat hy sy Mauser se kolf gebreek en die staalgedeelte in ’n gat onder ’n krans weggesteek het met die woorde: “Die Engelse kan my maar vang, maar my geweer kry hulle nie”.

Ná ’n draai in Indië as krygsgevangene het David ná die oorlog op die familieplaas, Kransfontein, gaan boer. Hy het gereeld ná ’n paar sopies jenewer vertel hoe hy sy Mauser met die nommer 1111 by Kalkkrans weggesteek het.

Teen 1943 het David se seun, ook David, die storie al genoeg gehoor. Dis toe dat hy sy pa uitdaag om sy verhaal te bewys. Hulle en ’n span werkers is vroegoggend Kalkkrans toe.

Hulle het glo nie eens ’n uur gegrawe nie, toe kry hulle die Mauser met 1111 duidelik daarop.

In 1995 het Mazotinyane (wat by die Sotho’s sy oorgrootjie se naam gekry het en wat beteken “bruin gelaatstrekke en klein van postuur”) die geweer geërf en hom tot sy oorspronklike glorie gerestoureer.

Dis voorwaar ’n meesterstuk in sy Anglo-Boereoorlog-museum tuis!

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Roer  |  Oorlog  |  Anglo-Boereoorlog  |  Geweer  |  Kakies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.