Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kallie: Dís waarom AfriForum Senzo se familie help

Waarom raak AfriForum by die Meyiwa-saak betrokke? Die kort antwoord is eenvoudig: Dit is die regte ding om te doen, skryf Kallie Kriel.

Daar is geen twyfel wat dié roubeklaer vyf jaar gelede wou hê met Senzo Meyiwa se moordenaar(s) moet gebeur nie. Foto: Gallo Images

AfriForum se besluit om op versoek van die familie van die vermoorde Senzo Meyiwa, voormalige kaptein van Bafana Bafana, ondersoek na dié moord in te stel, is oorweldigend positief vanuit alle gemeenskappe ontvang.

Gewone, sout van die aarde swart mense het op sosiale media vinnig klaargespeel met diegene uit die verlinkse EFF-stal wat weens hul anti-Afrikaner-sentiment dit net nie kon aanvaar dat swart mense en Afrikaners positief kan saamwerk om ’n gemeenskaplike doelwit te bereik nie. Ook gewone, sout van die aarde Afrikaners en Afrikaanssprekendes wat trots is op hul taal en identiteit het nie geskroom om in groot getalle diegene te roskam wat vanuit ’n verregse perspektief glo dat Afrikaners dit nie durf waag om op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek oor sake van gemeenskaplike belang met alle gemeenskappe saam te werk nie.

Die Meyiwa-familie verdien geregtigheid.

Dit was ook opmerklik dat daar weens wanpersepsies oor AfriForum verbasing by sommige was oor die feit dat AfriForum ’n familie help wat ná vyf jaar nog geen antwoorde ontvang het oor hul geliefde wat vermoor is nie. Die vraag is gevra: Waarom raak AfriForum by die Meyiwa-saak betrokke? Die kort antwoord is eenvoudig: Dit is die regte ding om te doen. Die Meyiwa-familie, soos enige ander familie wat geliefdes afstaan aan die geweldkultuur wat in die samelewing heers, verdien geregtigheid.

Die lang antwoord is dat betrokkenheid by die Meyiwa-saak ooreenstem met drie van AfriForum se doelwitte: dat hy geregtigheid moet bevorder, openbare druk op die owerheid moet toepas om die strafregstelsel reg te ruk en dat die beter toekoms wat ons vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes wil help skep, gebou moet wees op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek tussen alle gemeenskappe.

Geregtigheid

AfriForum veg onbeskaamd vir geregtigheid. Dit het die afgelope jare onder meer behels dat ons met groeiende sukses ’n internasionale veldtog teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding van stapel gestuur het.

Dié veldtogte is daarop geskoei dat alle mense, insluitende minderhede soos Afrikaners, aanspraak op geregtigheid kan maak.

Wanneer AfriForum in opregtheid in hierdie sake geregtigheid vir minderhede opeis, doen ons dit vanuit ’n moreel regverdige posisie dat ons glo almal is op geregtigheid geregtig – ook die Meyiwa-familie.

Openbare druk op die strafregstelsel

Die ikoniese foto van Sam Meyiwa, pa van die vermoorde Senzo, wat vir die skare in Durban waai wat die begrafnisdiens vir sy seun bygewoon het. Sam is in Augustus dood nadat hy vir vyf jaar lank vergeefs probeer het om sy seun se moordenaar(s) te laat boet. Foto: Gallo Images

Die jongste misdaadstatistieke wys dat 21 022 mense in een jaar in Suid-Afrika vermoor is. Volgens die nasionale vervolgingsgesag se eie jaarverslag beland minder as 20% van moordsake uiteindelik in die hof. Van die klein getal oortreders wat uiteindelik vervolg word, word 22% vrygespreek.

Die beteken in die praktyk dat daar jaarliks nou meer as 17 000 sake is waar daar, soos in die Meyiwa-geval, geen geregtigheid vir slagoffers geskied nie. Die tragedie is dit: As ’n nasionale held soos Senzo Meyiwa se familie nie geregtigheid ontvang nie, wat is die kans dat my en jou familie geregtigheid sal ontvang as só iets met ons gebeur? Instellings soos AfriForum en ander wat nie belastingbetalergeld ontvang nie, het ongelukkig nie die hulpbronne om meer as 17 000 moorde per jaar op te los nie. Dit beteken egter beslis nie dat ons in moedeloosheid moet verval en tou opgooi nie. Dit sal die situasie net vererger.

Deur onder meer by prominente sake soos dié van Senzo Meyiwa betrokke te raak, kan AfriForum toesien dat die huidige mislukking van die strafregstelsel onder die loep geneem word. Ons doen dit nie om enigiemand te verneder nie, maar dalk sal die verleentheid wat AfriForum se betrokkenheid veroorsaak tóg die nodige druk op die owerhede toepas om wakker te skrik en hul werk te begin doen.

Wedersydse erkenning en respek

Senzo Meyiwa in aksie vir Orlando Pirates. Foto: Gallo Images

AfriForum kan met selfvertroue en selfrespek vra dat Afrikaans, Afrikaanssprekendes en Afrikaners ook ’n plek in die son moet geniet, juis omdat ons ook dieselfde soort respek teenoor alle gemeenskappe betoon.

Dit beteken hoegenaamd nie dat daar nie soms meningsverskille en wrywing in die openbare debat sal wees nie. Wat wel belangrik is, is dat ons toesien dat dit waaroor ons soms verskil, nie mag veroorsaak dat ons nie kan saamwerk vir dit waaroor ons wel saamstem nie.

Dit geld natuurlik vir samewerking tussen kultuurgemeenskappe, maar ook vir interne samewerking binne kultuurgemeenskappe. Dit is binne dié konteks dat mense met uiteenlopende standpunte en kulture met groot gemak kan saamstem dat die Meyiwa-familie geregtigheid verdien.

Kortweg, AfriForum sal volstoom veg téén dit wat ons glo verkeerd is, maar ons kan ook volstoom sáámwerk vir dit wat reg is.

Dit is binne dié konteks dat AfriForum volstoom internasionale druk teen plaasmoorde sal mobiliseer, maar terselfdertyd kan veg vir geregtigheid vir die Meyiwa-familie.

Kallie Kriel

AfriForum kan ook volstoom veg teen Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, se rassistiese aanslag op Afrikaanse skole, maar terselfdertyd ’n suksesvolle hofsaak teen die staat namens Zoeloesprekende kinders van die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla aanpak om ’n skool in hul gemeenskap te laat bou.

AfriForum kan ook met gemak namens die “Coligny-2” in die howe help veg nadat hulle valslik van ’n moord op ’n jong swart seun beskuldig is, terwyl ons ook vir geregtigheid vir Senzo Meyiwa veg.

AfriForum se boodskap is eenvoudig: Kom ons veg met selfvertroue vir dit wat vir ons gemeenskappe belangrik is, maar kom ons veg ook sonder huiwering vir geregtigheid vir almal.

Ons Afrikaanse en Afrikanergemeenskappe het die deugde van ’n vrou: Ons kan meer as een ding op ’n slag doen. Kom ons doen albei!

* Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Nasionale Vervolgingsgesag  |  Kallie Kriel  |  Senzo Meyiwa  |  Geweld  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.