Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kambro-kinders van Suid-Afrika
Willie Spies

Die kambro is ’n tingerige Karoo-plantjie waarvan die groenbruin blaartjie altyd vars lyk, selfs in die droogste, moeilikste tye.

Frans Venter is op 27 November 1916 gebore. Sy ouers, Herman en Nellie, het in die Britstown-omgewing geboer. Met die uitbreek van die Groot Griep van 1918 was hy nog nie twee jaar oud nie.

Die Spaanse griep het sy pa en ma ondergekry en hulle was albei ’n dag of twee bewusteloos in die bed weens die ontsettende koors en suurstofnood. Sy ma het eerste haar bewussyn herwin en klein Frans op die grond langs die bed gekry, waar hy weens honger en dors aan die tosseltjies van sy ouers se beddeken gesuig het.

Die Venters het die Groot Griep oorwin en Frans se ouers het herstel. Aangesien klein Frans altyd gelukkig en lewenslustig gebly het, selfs in die droogste en moeilikste tye, het sy ma hom haar “kambro-kind” genoem.

Frans was op pad hoërskool toe toe die Groot Droogte uitgebreek het. Hy het sy skoolloopbaan onderbreek en saam met sy ouers ’n swerwersbestaan begin voer op soek na weiding vir hul kleinveetrop, wat elke dag gekrimp het weens massiewe sterftes.

Uiteindelik het hulle staanplek gekry in die Kalahari nadat hulle nie die grens na Suidwes-Afrika kon oorsteek nie.

Die Venters het oorleef danksy die ontferming van familie en medemense.

Die Venters het oorleef danksy die ontferming van familie en medemense. Nogtans het hulle byna alles verloor wat hulle voor die droogte gehad het.

Maar Frans het in 1934 aan die Hoërskool Hopetown gematrikuleer as een van die topmatrikulante van die destydse Unie van Suid-Afrika. Hy het in Stellenbosch gaan studeer en sou uiteindelik bekend word as die skrywer en Hertzogpryswenner F.A. Venter, met boeke soos Swart pelgrim, Gelofteland, Bedoelde land, Man van Ciréne en Diekoning se wingerd.

Sy boek Kambro-kind vertel juis die verhaal van sy grootwordjare in die moeilike tye van die Groot Griep, die Groot Droogte en die Groot Depressie.

Daar is vandag, aan die vooraand van Suid-Afrika se 21 dae van inperking of grendelstaat weens die Covid-19-pandemie, vir ons lesse te leer uit die lewe van die kambro-kind, Frans Venter.

Die eerste is juis in die voorbeeld van die nederige kambro-plantjie wat vars en lewenslustig bly ten spyte van die felste droogte.

Die tweede is dat die wêreld en die lewe­ sal voortgaan ten spyte van die krisis, maar dat totaal nuwe maniere van doen begin posvat omdat die gemak­sones van ons bestaan lank genoeg versteur was om nuwe maniere van doen te begin gebruik.

Herstel en gewoonlik geweldige groei volg altyd ná elke skynbaar vernietigende krisis.

Die derde is dat herstel en gewoonlik geweldige groei altyd volg ná elke skynbaar vernietigende krisis. Dit het gebeur ná die Groot Griep van 1918, die Groot Depressie van 1932 en die groot wêreldoorloë.

Ons kan verwag dat dit ná Covid-19 ook sal gebeur, ons moet net uithou.

Die laaste is dat ontferming oor ons medemens noodsaaklik is, dikwels nie net ter wille van ons medemens nie, maar ook ter wille van onsself. Welwillendheid keer altyd terug na dié wat dit uitdeel.

Viktor Frankl, wat self in die Tweede Wêreldoorlog die Nazi-konsentrasiekampe oorleef het, het tot die slotsom gekom dat diegene wat oorleef het één ding gemeen gehad het, naamlik dat hulle hul lewensdoel of roeping altyd voor oë gehou en die toekoms met hul eie besondere rol daarin voor oë gehou het.

Ons gaan dus hierdie krisis oorkom en ons gaan sterker anderkant uitkom.

Ons is nie verniet kambro-kinders van hierdie bedoelde land nie.

Meer oor:  Willie Spies  |  Inperking  |  Covid  |  Oorlewing  |  Krisis  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.