Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kan die NOP ons red ná Covid-19?
Henry Jeffreys

Die minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, kan haarself gelukkig ag dat sy lig daarvan afgekom het nadat sy op flagrante wyse die nasionale inperkingsmaatreëls oortree het.

Pres. Cyril Ramaphosa het – onwyslik – besluit om haar oor haar onbesonne kuier vir middagete by vriende net op die vingers te tik. Dit terwyl van gewone mense verwag word om te voldoen aan die streng maatreëls wat drie weke gelede afgekondig is. Mense is met reg gebelg daaroor dat die reëls klaarblyklik net vir sommige geld.

Ramaphosa se reaksie op sy minister se optrede is ongetwyfeld ’n swart merk agter sy naam vir sy hantering van die pandemie tot nou.

Ndabeni-Abrahams het wel verskoning vir haar optrede gevra, maar dit is nie genoeg nie. In Nieu-Seeland is die minister van gesondheid na ’n mindere pos geskuif nadat hy op soortgelyke wyse as Ndabeni-Abrahams dié land se Covid-19-regulasies oortree het.

Dit is te betwyfel of die ontslag van Ndabeni-Abrahams enigsins haar onderpresterende departement enige verdere skade sou berokken het.

Intussen ploeter twee ander ministers, Bheki Cele (polisie) en Fikile Mbalula (vervoer), lustig met onvanpaste en skadelike uitsprake oor die regering se Covid-19-planne voort.

Intussen ploeter twee ander ministers, Bheki Cele (polisie) en Fikile Mbalula (vervoer), lustig met onvanpaste en skadelike uitsprake oor die regering se Covid-19-planne voort.

Mbalula bevind hom midde-in ’n nuwe herrie. Hy het glo inligting oor Ramaphosa se aankondiging oor die verlenging van die inperkingstydperk vooraf aan ’n vriend, die vermaaklikheids­persoonlikheid Somizi Mhlongo, uit­gelap. Mbalula ontken die bewerings en het ’n aanklag gebring teen Mhlongo.

Hoe ook al, Ramaphosa het duidelik drie vrot appels in sy kabinet wat mekaar probeer oortref in hul pogings om die regering se stryd teen Covid-19 in die wiele te ry.

Deur nie teen Ndabeni-Abrahams op te tree nie, het Ramaphosa ’n gulde geleentheid laat glip om sy kabinet van dwarstrekkerige ministers te suiwer. Net hy sal weet waarom hulle nog daar is en nie die deur gewys is nie.

Op die oog af vaar die res van die kabinet uitstekend, met ministers wat reeds hul aandag na die herstelproses ná die tyd van Covid-19 verskuif.

Dit is hoe dit hoort. Benewens die stygende sterftesyfer, sal die ekonomie die grootste slagoffer van die pandemie wees. Ons ekonomie is nie naastenby sterk genoeg om die aanslag van Covid-19 te weerstaan nie.

Ekonomiese aktiwiteite is vir alle praktiese doeleindes tot byna algehele stilstand gedwing. Dit sal jare neem om hiervan te herstel.

In die onmiddellike nasleep van apartheid het die ANC met die sogenaamde Heropbou-en-ontwikkelingsprogram (HOP) vorendag gekom om die ekonomie op die herstelpad te kry.

Die plan is ná net twee jaar deur die Gear-strategie vervang. Gear was gerig op groei, indiensneming en herverspreiding (van welvaart).

Nie een van die twee planne was heeltemal suksesvol nie, hoewel die ekonomie in die eerste jare van Gear met 5% tot 6% gegroei het. Wat sal die land nie gee om vandag teen ’n soortgelyke koers te groei nie!

Gear is egter in sommige kringe geteer en -veer as niks meer nie as ’n siniese plan om die armes verder te verarm en die rykes verder te verryk.

Gear is in 2011 deur die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) – wat nog steeds as die land se primêre ekonomiese riglyn dien – vervang. Dit gaan egter gebuk onder dieselfde kritiek uit dieselfde kringe as Gear.

Die NOP se voordeel is dat dit Rama­phosa se persoonlike ondersteuning het. Net die tyd sal leer of dit Covid-19 sal oorleef en nuwe lewe kry om die land uit ’n erge ekonomiese krisis te red.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Ministers  |  Presidensie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.