Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kan Hongarye en Pole die EU ook verlaat?

Eers was daar Brexit, Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU). Kom daar vorentoe ook ’n Polexit en Hongexit, waar Pole en Hongarye die Britte se voorbeeld volg?

Sulke plánne is daar weliswaar nie. Maar die laaste tyd het só ’n yslike rusie tussen Brussel enersyds en Warskou en Boedapest andersyds uitgebreek dat dit uiteindelik op ’n Pol­exit en Hongexit kan uitloop.

Formeel handel die rusie om ’n enigsins esoteries klinkende vraag: Staan die Europese reg, soos verwoord deur die Europese geregshof in Luxemburg, bo dié van die lidstate? Of juis andersom?

Die Europese Verdrag, die EU-hoeksteen, bepaal dat die Europese reg voorrang het. Maar Pole erken dit nie, al het hy die verdrag by sy toetrede aanvaar.

In Pole het die regs-populistiese regerende party, die PiS, die regbank einde verlede jaar met ’n Tugkamer uitgebrei. Formeel is die taak van dié liggaam om toe te sien dat regters hulle aan die reg hou, en die lede van die groep word deur die parlement – waar die PiS ’n meerderheid het – aangestel.

Kritici meen die Tugkamer is ’n sweep wat die regering gebruik om regters wat uitsprake doen waarvan hy nie hou nie te dissiplineer. Bowendien het die regering hom ook die reg toegeëien om álle regters te benoem, al bepaal die grondwet dat hy slegs ’n deel mag aanstel.

Die Europese geregshof het nou besluit dat die Tugkamer teen die Europese reg indruis omdat dit die onafhanklikheid van die regbank aantas en dat die beleid dus aangepas moet word. Dis hiér waar die rusie nou warm word, want die Pole meen húl reg geniet voorrang bo die Europese reg.

Om sake erger te maak, het die EU in ’n verslag gestel dat die agteruitgang van die regstaat in Pole “ ’n bron van ernstige sorge” is. Pole het drie weke gekry om die Tugkamer-beleid te hersien, anders word hy ’n eenmalige boete van meer as 3 miljard opgelê, asook waarskynlik 100 000 per dag wat hy die bevel negeer.

Die EU-verslag oordeel ook skerp oor Hongarye, waar die regeringsbeleid oorloop van korrupsie, nepotisme en voortrekkery van vriende. As die land nie sy huis in orde kry nie, kan hy maar vergeet van die EU-subsidie van 7 miljard vir die herstel van die korona-skade.

Dit beteken nie dat die twee lande op die punt staan om die EU te verlaat nie. In albei is dáárvoor geen steun in die bevolking nie – meer as tweederdes van die Pole en meer as 80% van die Hongare wil niks daarvan weet nie. Maar sowel die Poolse PiS as die Hongaarse regerende Fidesz het nou kragte saamgesnoer met ander Euro-skeptiese partye in die EU om die Unie ingrypend te hervorm. Hier wag nog kwaai rusies.

  • Dr. Scholtz is ’n skrywer en onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Wêreldburger  |  Leopold Scholtz.Meningsberig  |  Pole  |  Eu  |  Hongarye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.