Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kan jy nog met die hand skryf (en dit lees)?
Emile Joubert

Daar is 26 letters in die alfabet, maar by tye lyk dit of ek die helfte van hulle nie ken nie. Veral hierdie tyd van die jaar, wanneer seisoenale groete, seënwense en boodskappe van innerlike liefde oorgedra word via ’n skryf-instrument wat teen ’n stuk papier of ’n kaartjie gedruk is. Om iets met die hand te skryf. Wat ek af en toe moet doen, maar waarvan die resultaat veel te wense oorlaat.

Dink aan ’n inkbesmeerde brommer wat oor ’n stuk papier skarrel of ’n oor-energieke kleuter se handgebare met sy ma se gegapste pen.

Hoe skaarser dit raak, hoe meer bewonder ek diegene wat steeds ’n samehangende reeks letters in vloeibare sinne kan neerpen. Danksy die tegnologies gedrewe proses van menslike evolusie is ’n gepende geskrif deesdae skaarser as ’n stedelike tiener sonder selfoon-data.

’n Handgeskrewe brief toon sorg, moeisaamheid en trots van die skrywer se kant. Dit wys dat, ondanks die vinger-gereed-gerief van e-pos, WhatsApp of die rits direkte boodskappe wat op mense se sosialemedia-platforms beskikbaar is, die betrokke persoon besluit het om tydsaam en meer persoonlik met jou te kommunikeer.

Dis nou behalwe die haastig geskryfde nota op jou kantoor-lessenaar of sitkamer-koffietafel wat vra: “Het jy my selfoon iewers gesien?”

Sommer nou die dag nog was handgeskrewe korrespondensie alledaags. En die handskrif-styl van jou familie en vriende bekend genoeg dat jy by die ontvangs van die geadresseerde koevert presies geweet het wie se brief daarbinne is. Ek wonder hoeveel van vanjaar se matrieks of finalejaarstudente gaan ooit weer ’n pen optel, behalwe om ’n geskarrelde handtekening te krap.

My eie wankelrige handskrif had seker ook met tegnologie te make. As jong koerantverslaggewer moes notas in die hof en tydens onderhoude met sportlui en bekendes in kunskringe aller-haastig in boekies neergekrap word. Behalwe dat baie van daardie geskrifte vir myself onleesbaar was, het hierdie rustelose skryftegniek ’n gewoonte geraak. Met die gevolg dat my handskrif dié van ’n oorwerkte staatsdokter na die pynlik netjiese sierskrif van ’n Middeleeuse monnik laat lyk.

Ná twee weke se daaglikse sessies van 15 minute se pen op papier voel my voorvinger of dit in ’n deur vasgeslaan is.

Die waardering vir en bewondering van die ontvangs van ’n handgeskrewe brief het my dit ten doel gestel om te kyk of iets aan hierdie gekrap gedoen kan word. Makliker gesê as gedaan.

Ná twee weke se daaglikse sessies van 15 minute se pen op papier voel my voorvinger of dit in ’n deur vasgeslaan is. Ek verlê omtrent een pen elke drie dae. En blaai gedurig my pronkerige moleskin-notaboek deur om te kyk of daar nie ’n e-pos ingekom het nie. As sneltikker van formaat sukkel my handskrif boonop om by my gedagtes te bly wat gewoond geraak het om op vier, vyf digitale platforms gelyk vir ’n uiting te soek.

Maar hulle begin nou wraggies sigbaar raak, hierdie letters wat uit ink geskep word. Sommer al 26 van hulle. “L” is vir lekker. Of, dalk een van die dae, “leesbaar”.

Meer oor:  Menings  |  Emile Joubert  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.