Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kan VF+ munt uit krisis slaan?
Alida Kok
Alida Kok

Onlangse drastiese veranderinge in die leierskorps van die DA het die amptelike opposisie – en liberalisme in Suid-Afrika – in ’n krisis gedompel.

Dit skep ’n geleentheid vir die VF Plus om ’n groot groep nuwe kiesers, veral in die noorde van die land, te werf. Sal die VF Plus daarin kan slaag as die party nie erkenning gee aan die veranderinge die laaste paar jaar in sy huidige en potensiële kieserskorps nie?

Ofskoon die DA nou nog 85 sitplekke in die parlement het en die provinsiale regering in die Wes-Kaap en leier van minderheidskoalisieregerings in Johannesburg en Tshwane is, het die party met die terugkoms van Helen Zille en die verlies aan swart leiers ’n knou gekry waarvan hy nie gaan herstel nie.

Die DA het nie die vermoë om stemme van groot groepe swart kiesers te werf nie en sal voortaan meeding om die steun van bruin, wit en Indiër-minderhede. Verder bestaan daar ’n sterk moontlikheid dat die DA met ’n suiwer liberale fokus kan terugkrimp tot ’n oorwegend Kaapse party met ’n oorheersend wit steunbasis.

Intussen is daar ’n groeiende groep wit Afrikaanse kiesers – veral in die noorde van die land – wat eintlik nog nooit ’n politieke tuiste in die DA gehad het nie.

Intussen is daar ’n groeiende groep wit Afrikaanse kiesers – veral in die noorde van die land – wat eintlik nog nooit ’n politieke tuiste in die DA gehad het nie.

Dié groep het tot en met die munisipale verkiesing in 2016 vir die DA gestem, want daar was nie ’n beter alternatief nie. Die DA kon dié kiesers nie in lojale kernkiesers omskakel nie en het hulle vervreem deur ’n transformasieagenda na te jaag wat verwronge geraak het.

’n Toenemend selfversekerde VF Plus kon dié kiesers reeds begin oorwen. Die verkiesingsontleder Dawie Scholtz het vroeër vanjaar bereken dat die DA se steun in wyke in die noorde afgeneem het van 94% in 2016 tot 66% vanjaar, terwyl die VF Plus se steun in die noorde toegeneem het van 6% tot 34%.

Die onus is nou op die VF Plus om munt te slaan uit die mislukkings van die DA. Sommige onlangse uitsprake deur VF Plus-leiers laat dit wel lyk asof die party nie gereed is daarvoor nie.

Afrikaners is beslis oorwegend konserwatief, maar talle Afrikaners in veral stedelike gebiede onderskryf ook beginsels wat as “liberaal” gesien kan word.

Sulke uitsprake sluit in dr. Pieter Groenewald se steun vir die terugbring van die doodstraf en dr. Wynand Boshoff se kommentaar oor die kunswerke van ’n leerling aan die Curro-skool Grantleigh. Boshoff sê dat die leerling se kunswerke klem plaas op die “spanning tussen gemeenskappe se gevestigde waardestelsels en die radikale individualisme van die liberale ideologie”. Van buite af lyk dit asof die party om politieke gewin op ’n skoolkind pik.

Afrikaners is beslis oorwegend konserwatief, maar talle Afrikaners in veral stedelike gebiede onderskryf ook beginsels wat as “liberaal” gesien kan word. Dit is ook die geval met wit Afrikaanse kiesers wat voorheen vir die DA gestem het.

Een van die grootste liberale beginsels wat belangrik is vir stedelike Afrikaners is die beskerming van indivi­duele vryhede, soos vryheid van uitdrukking. Dis ook belangrik om hier te noem dat die getal stedelike Afrikaners toeneem. Die platteland ontvolk en Afrikaners trek na stede en dorpe, waar hul konserwatiewe én liberale waardes verder gevorm word.

Die denkraamwerk van die VF Plus – veral in die denker-gemeenskap waaruit die party opereer – fokus op die belang van die gemeenskap. Hierdie fokus op gemeenskapsbelange is broodnodig, maar kan nie ten koste van individuele vryhede geskied nie.

Sal die VF Plus daarin slaag om die wit Afrikaanse konserwatiewe én liberale stem saam te bind sonder om die party se lojale kiesers te vervreem? Ons wag om te sien wat gebeur.

  • Kok is ’n dosent in politiek en interna­sionale verhoudinge aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Afrikaners  |  Krisis  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.