Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Kanselierskap en die duiwel’

Oudregter Edwin Cameron behoort op etiese regsgronde uit sy amp as kanselier van die Universiteit van Stellenbosch te bedank; prof. Wim de Villiers as rektor en die hoofregter moet die taaluitspraak oor die US ter syde stel, meen Gustaf Pienaar.

Die Universiteit van Stellenbosch.

’n Enkele sinnetjie in prof. Philip Spies se artikel “Jan Marais- ideaal dood” wat op 17 Oktober 2019 verskyn het, het my as regsgeleerde laat regop sit. Spies het sy teleurstelling oor die beslissing van die konstitusionele hof in verband met die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid uitgespreek, en geskryf: “Dit is . . . van belang dat [regter] Cameron in die loop van die hangende hofsaak deur die US se rektor, prof. Wim de Villiers, genader is om hom as kanselier beskikbaar te stel.”

Dit is ou nuus dat Edwin Cameron toe wel op 25 September tot nuwe kanselier van die US verkies is. Dit was ’n gewilde keuse. Wat ek – en ongetwyfeld die meerderheid Suid-Afrikaners – tóé egter nié besef het nie, is dat Cameron een van tien regters van die konstitusionele hof was wat moes beslis oor Gelyke Kanse se appèl na dié hof oor US se taalbeleid van 2016.

En toe kom die hof se eenparige uitspraak op 10 Oktober: Dis téén Gelyke Kanse en ten gunste van US, én dit is gelewer deur die US se aangewese kanselier . . .

Nóg Cameron nóg De Villiers het intussen Spies se opsienbarende stelling betwis. Trouens, in ’n plofbare berig hieroor wat op 24 Oktober in Beeld verskyn het, word die kern van Spies se stelling bevestig aan die hand van dokumente wat in die koerant se besit gekom het. Daarvolgens was daar inderdaad oor ’n lang tydperk gesprekke en ’n uitruil van briewe tussen De Villiers en Cameron oor laasgenoemde se kandidatuur vir US se kanselierskap.

Nie volle verhaal

Cameron het – luidens die berig in Beeld – heel korrek ongeveer twee weke voordat Gelyke Kanse se appèl geargumenteer is, botweg geweier om verder met De Villiers oor sy kandidatuur te onderhandel. Hy het egter mettertyd geswig onder die volgehoue druk van verskeie rolspelers uit US se geledere en toe laat blyk dat hy wel vir die prestigeryke amp beskikbaar sou wees – mits Gelyke Kanse daartoe sou toestem.

Dit is in essensie ook De Villiers se verweer. “Cameron se nominasie vir kanselier het voortgegaan met die instemming van Gelyke Kanse,” het hy in ’n verklaring aan Beeld gesê.

Dit vertel egter nie die volle verhaal nie. Volgens die dokumente wat nou in die oopte is, het die leier van Gelyke Kanse se regspan in ’n brief aan Cameron daarop gewys dat hulle ook aanvanklik aan hom as kandidaat vir die kanselierskap gedink het, maar toe die onvermydelike belangebotsing ingesien het. Nogtans het hy ruimhartig verklaar dat Gelyke Kanse in beginsel nie bewaar sou maak teen Cameron se kandidatuur nie.

Van sleutelbetekenis is dat hy dié toegewing uitdruklik slegs namens sy kliënte gemaak het; nié ook namens die ganse Suid-Afrikaanse bevolking, vir wie die onafhanklikheid en integriteit van regters van die hoogste belang behoort te wees. Wat meer is: Toe Gelyke Kanse die toegewing gemaak het, was hulle – volgens die berig in Beeld – nie daarvan bewus dat juis die US se aangewese kanselier die hof se uitspraak sou lewer nie. Dit maak ’n reuseverskil.

By nader ontleding kom Cameron se optrede op die volgende neer: Hy het Gelyke Kanse mooitjies opgesaal om namens hom ’n regs-etiese besluit te neem wat nét hy kon neem. Om nou die blaam op Gelyke Kanse te plaas vir dié ontluikende skandaal, herinner aan wyle Hansie Cronjé: Hy het mos die skuld vir die wedstrydknoeiskandaal, wat die krieketwêreld destyds geruk het, oplaas op die duiwel – pleks van sy eie gebrekkige morele oordeel – gepak.

Edwin Cameron

Middagete

Kort nadat Cameron die spreekwoordelike groen lig van Gelyke Kanse gekry het, het hy minstens een persoonlike gesprek oor middagete met De Villiers – wat ’n getuie in die saak was – gevoer. Vir seker het Gelyke Kanse se “toestemming” nie só ver gestrek nie. Immers: ’n regter vergader nooit privaat met iemand wat ’n getuie is in ’n saak wat voor hom dien nie. Nooit nie. Punt.

Wat ek – of wie ook al – verkies om te glo (of nie te glo nie) oor wat in werklikheid tussen Cameron en De Villiers afgespreek is, is volkome irrelevant. Laat ek verduidelik: In 1923 is ene McCarthy iewers in Engeland strafregtelik vervolg nadat hy met sy motorfiets in ’n botsing betrokke was. Die klerk van die regters was terselfdertyd ook verbonde aan ’n regsfirma wat opdrag gehad het om ’n skadevergoedingseis teen die einste McCarthy – voortspruitende uit dieselfde voorval – in te stel. Daarvan was die beskuldigde en sy regspan nie bewus nie.

Dit het later geblyk dat die betrokke klerk teenwoordig was toe die regters in kamers oor hul uitspraak besin het. McCarthy is skuldig bevind en gevonnis. Toe dit aan die lig gekom het dat die klerk die beraadslagings bygewoon het, het McCarthy die King’s Bench Court genader met ’n aansoek om die tersydestelling van sy skuldigbevinding en vonnis. Die betrokke regters het in beëdigde verklarings vertel dat die klerk hoegenaamd geen rol gespeel het tydens hul beraadslaging nie.

Hoofregter lord Hewart het ’n uitspraak gelewer wat tot vandag toe wêreldwyd – ook in Suid-Afrika – gereeld in hofuitsprake weerklink. Terwyl hy die egtheid van die regters se verklarings aanvaar het, het die hoofregter betekenisvol opgemerk dat die vraag nie is wat presies in kamers gebeur het nie, maar hoe dit vir die buitewêreld kan lyk. “[It] is of fundamental importance,” het hy verklaar, “that justice should not only be done, but should manifestly and undoubtedly be seen to be done.” McCarthy se skuldigbevinding is ter syde gestel.

Die toets is wat die redelike mens van al hierdie dinge sal maak. Oorweeg die volgende: “Hoe waarskynlik” sou iemand kon gis,” is dit dat Cameron vir De Villiers sou inlig dat juis hy aangewys is om die konstitusionele hof se uitspraak in die Gelyke Kanse-appèl te lewer?” Hóógs waarskynlik, sou die hipotetiese vraesteller se gevolgtrekking kon wees.

Persoonlike vernedering

Verder: Dit blyk dat De Villiers persoonlik probeer verseker dat Cameron onbestrede verkies word. (Daar was ook ander kandidate.) Die redelike mens sou dus kon gis: “Hoe waarskynlik is dat De Villiers Cameron se kandidatuur met soveel entoesiasme sou bevorder as daar by hom die geringste spesmaas sou wees dat die Universiteit sy saak teen Gelyke Kanse kon verloor? Vir De Villiers sou so ’n verwikkeling immers ’n enorme persoonlike vernedering ingehou het.”

Nog iemand anders sou kon gis: “Sal jy die man wat pas ’n streep deur jou universiteit se omstrede taalbeleid getrek het, daarna tot kanselier bevorder?”

Die antwoord is dat niemand stellig ooit sal weet wat die waarheid is nie, al verduidelik De Villiers en Cameron – nes die regters in die McCarthy-saak – totdat hulle blou in die gesig is. En dit is juis die probleem: ’n Gebrek aan geloofwaardigheid is nou die vroedvrou vir allerlei gissings, persepsies, skinderstories. Die slagoffer is die integriteit van ons regstelsel.

Die vraag is: Hoe nou vorentoe? Wat regter Cameron betref, kan hy sy welverdiende hoë reputasie slegs red deur afstand te doen van sy verkiesing as US se volgende kanselier. Terugskouend sal hy seker met my saamstem dat hy nooit as regter by die Gelyke Kanse-geding betrokke moes geraak het nie. Die feit dat hy ’n oud-Matie is, kon hom nog verskoon word, maar dat hy vroeg in prof. de Villiers se termyn as rektor ’n eredoktorsgraad van sy alma mater ontvang het, moes by hom gevaarligte laat flikker het.

John Vorster

Cameron behoort ’n les uit die vorige bedeling te neem: Premier John Vorster het hom óók laat verlei om benoem te word vir ’n prestigeryke amp – dié van staatspresident. Dit, terwyl die inligtingskandaal (wat hom betrek het) aan’t broei was. Minder as agt maande later was hy verplig om te bedank. Dit was ’n vernedering wat hom vir die res van sy lewe agtervolg het.

Die minsame Cameron wat ek persoonlik én deur sy voortreflike uitsprake en skryfwerk leer ken het, se oordeel het hom dié keer ernstig in die steek gelaat. Dit is menslik; dit is bitter jammer; dit is teen sy aard – noem maar op. Maar dit bly ’n onvergeeflike etiese mistasting wat sy ampseed in gedrang bring het.

Met prof. Wim de Villiers het ek minder simpatie. Sy betrokkenheid by hierdie aangeleentheid was uiters naïef. Hy het klaarblyklik ’n gevaarlike mynveld betree sonder om die US se regspan te raadpleeg. De Villiers het Cameron geen guns bewys nie en skande oor sy amp en US gebring. Slim het sy baas gevang. De Villiers behoort die eerbare weg te volg en te bedank.

Dit laat ons met Cameron se uitspraak waarmee ál nege ander regters saamgestem het. Dit is onherroeplik bevlek, en omdat ons hier te make het met die absolute finaliteit van ’n uitspraak van ons land se hoogste hof, is dit waarskynlik die grootste skandaal wat die Suid-Afrikaanse reg sedert 1994 getref het – te meer nog as dit blyk dat die ander regters van Cameron se kwesbare posisie bewus was en níks gedoen het om die hof se integriteit te beskerm nie.

Die vraag is: Noudat die hoofregter hiervan bewus gemaak is, wat is hy van voorneme om te doen ten einde die konstitusionele hof se reputasie en integriteit te herstel? Gaan hy waak oor die wagters van die Grondwet?

Ek het met opset enige bespreking van die meriete van die hof se uitspraak oor US se taalbeleid vermy. Vir die rekord: Selfs al het die hof ten gunste van Gelyke Kanse beslis, sou die standpunte wat ek hier bo ingeneem het, presies dieselfde gewees het.

  • Pienaar is ’n regsjoernalis en nie-praktiserende advokaat van Vleesbaai.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.