SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Kantlyne waar die duiwel rondomtalie draai
Tom Dreyer

Onlangs lees ek dat ’n student in Dubrovnik in Kroasië op iets interessants in ’n 15de-eeuse manuskrip afgekom het.

Naas die siertekeninge en die handgeskrewe teks wat van uur tot sorgvuldige uur getuig, is daar ’n duidelike stel inkswart katspore op die perkament.

Ta het oënskynlik van links af gekom, toe tipies kat ’n tydjie bo-op die bladsy vertoef, en toe met ’n winkelhaak by die geskiedenisboeke uitgestap.

Merke soos hierdie verskuif die leser se aandag vanaf die inhoud van die teks na die omstandighede waaronder dit voortgebring is.

’n Toneeltjie speel voor jou geestesoog af. ’n Monnik staan op van die manuskrip waaraan hy al heel dag gearbei het om deur die oop venster ’n vy te pluk, of dalk om te gaan kyk waarom die poue so in die kloostertuin raas.

Die moedswillige kat, wat seker in die loop van die dag talle afjakke gekry het, gebruik sy kans om die objek te inspekteer wat sy eienaar dan so fassineer, sonder enige ontsag vir die inkpotjie op die tafelblad, of vir al daardie ure se werk wat weerloos voor hom lê.

Daar is al eeue ’n ongemaklike simbiose tussen kat en skrywer.

Daar is al eeue ’n ongemaklike simbiose tussen kat en skrywer.

Ek het al gehoor van ’n Middeleeuse manuskrip waarop ’n kat klaarblyklik water afgeslaan het. Die ontstoke kalligraaf het hierdie episode opgeteken deur middel van ’n sketsie van ’n wysvinger wat na die skade wys, en met ’n vers waarin hy sy gevoelens oor katte ondubbelsinnig uiteensit.

Dit is egter nie net die huistier wat die krabbelaar se siel kan versondig nie. In die Bodleian Library in Oxford is glo ’n manuskrip wat met hoen­der­spore oortrek is.

’n Mens kan maar net bespiegel oor die intimiteit waarin mens en hoender skynbaar hul dae deurgebring het.

Ek verkies om te glo dat die betrokke bib­liofiel gewoon in die tuin gesit en werk het, en toe vir ’n oomblik ingedommel het.

Ek het ’n sagte plekkie vir sulke randverskynsels, want dit herinner ons aan ’n meer kleurryke verlede as die gefiltreerde weergawe wat geskiedenisboeke dikwels aan ons voorhou.

Hierdie wêreld is net so helder en baldadig soos ons eie, bevolk deur opsetlike katte, voortvarende hoenders en verstrooide boekwurms.

Hierdie wêreld is net so helder en baldadig soos ons eie, bevolk deur opsetlike katte, voortvarende hoenders en verstrooide boekwurms, soos die een wat skynbaar iewers in die 1300’s sy bril tussen die bladsye van ’n manuskrip vergeet het – dit het so lank daar gelê dat die afdruk van raam en lense nou nog gesien kan word.

Ek wonder of hy vergeefs na die brilletjie gesoek het, of het hy en sy behoefte aan ’n bril saam-saam weggeval? Was hy in die lewe ’n liefhebber van katte? Was hy een van daardie monnike wat marginalia in die kantruimtes van manuskripte gekrabbel het, daardie fantasmagoriese afbeeldings waaruit selfs Hieronymus Bosch iets oor die groteske en onbetaamlike sou kon leer?

Doen jouself ’n guns en gaan kyk na daardie karnaval van sketse: Daardie monnike en nonne wat meer vleeslik as geestelik verkeer, daardie poedelkaal trompetblasers of ridders wat met swaard en skild reuse-slakke die stryd aansê.

Gaan kyk na die sluwe hase, prinse verbaster met vis of flamink, of vroue wat soos lelies uit bloeiwyses spruit. Kyk na die dansende duiwels, of lees ’n enkele naam oor en oor in die kantlyn geskryf, en kyk of jy kan sin maak uit ’n monnik se verlangens en begeertes ná ’n lang aand met net ’n kat en ’n kers vir geselskap.

  • Dreyer is ’n skrywer.
Meer oor:  Tom Dreyer  |  Hoenders  |  Katte  |  Troeteldiere  |  Skrywers  |  Monnike
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.