Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kapers speel hul hoogste Ace – en dis toe dit

Op ’n Vrydag van politieke hoogdrama speel die staatskapers toe hul groot kaart: ’n op die oog af verdoemende bevinding deur die openbare beskermer (OB) teen die president en ’n opdrag vir optrede teen hom.

Barnard Beukman

In die spel om die siel van ons demokrasie is dit beslis nie hul laaste kaart nie, maar in alle waarskynlikheid hul hoogste. En dis toe dit.

Nog ’n sterkerige kaart in hul hand is om op die ANC se volgende beleidskonferensie ’n oordeel te kry dat pres. Cyril Ramaphosa en sy regering afgewyk het van amptelike ANC-beleid oor kwessies wat insluit die reserwebank, monetêre beleid en grondsake. Oorleef hy dit alles op ’n manier, wil hulle hom inwag by die volgende leiersverkiesing ten tyde van die volgende nasionale konferensie in 2022.

Maar vir eers hoop hulle die OB-verslag kan ver gaan om hom te stuit, of minstens sy energie grootliks wegtrek van sy politieke en ekonomiese agenda.

Dit terwyl hy aldus hulle “veg om politieke oorlewing”.

(Wie die enkele R120 miljoen vir sy CR17-veldtog inbetaal het, is seker iets waaroor die staatkapers vanaand fantaseer wanneer hulle die sjampanjeproppe oor hul goeie dag op kantoor laat skiet. Dis nou as hulle Suid-Afrika se mees besproke politieke raaisel, sedert gister, se antwoord nie reeds aan die Sondagkoerante laat uitlap het nie.)

Maar wie veg werklik om politieke oorlewing?

Hul groot beskermheer het soos te wagte en gewoonlik sy nou reeds bekende JZ-truuks uitgehaal voor die Zondo-kommissie. Van alles gestroop, het hy benoude spronge begin maak toe hy met daadwerklike feite gekonfronteer is. Want hy en sy regspan het gou gesnap dis tronksake as hy te veel daaroor moet praat. En uiteindelik het hy sy hele kamp ’n reuse-nederlaag laat ly deur die knie te buig dat hy moet terug voor die kommissie. Want dis ’n verlengstuk van ons regsorde en uiteindelik die Grondwet. Dis ’n onkeerbare meule wat gaan maal. Met die nasionale vervolgingsgesag in pas. Maar die OB tog ook? Ja, maar twee van die huidige karakter in die amp se verslae is al ter syde gestel en Maandag beslis die konstitusionele hof ook of sy haar magte oorskry het. En verskeie ander verslae is ook oppad hof toe. Ace Magashule word nog deur Kgalema Motlanthe vir die ANC ondersoek oor sy beweerde bande met die ATM-partystigting. En dan is hy en vele ander vermeende staatskapers nog die onderwerp van Zondo- en ander ondersoeke.

Dis ’n onkeerbare meule wat gaan maal. Met die nasionale vervolgingsgesag in pas.

Die groot vraag is egter of ’n totale samelewing, wat ongekend saamgetrek het teen die Zuma-bewind, nou bloot handdoek ingooi. Gaan hulle opstaan vir die goeie ou – al is dit simbolies vir wat sy amp verteenwoordig – soos hulle opgestaan het teen die slegte ou? ’n Mens wil vra, liewe hemel, waar is die ruggraat?

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.