Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kapitalisme: Te veel of te min?
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Ek het die afgelope vakansie Naomi Klein se The Shock Doctrine (2007) gelees, ’n vreesaanjaende blik op hoe politici krisisse (skokke) veroorsaak en dit dan gebruik om neoliberale kapitalisme te laat seëvier terwyl hulle lande se bestaanswyse uitwis.

Klein is een van die mees insiggewende skrywers van ons tyd. Haar ander twee belangrike boeke is oor klimaatsverandering, This Changes Everything, en No is Not Enough, oor pres. Donald Trump van Amerika se presidensie waarin sy hom die “master of disaster” noem en die soort gedrag voorspel waaraan ons gewoond geraak het.

Sy ontbloot presies hoe wêreldleiers die mensdom uitverkoop. Aan die kern van die probleem is neoliberale kapitalisme. Hoe dit die wêreld ’n politiek onstabiele plek gemaak het, ontbloot sy in The Shock Doctrine.

Die navolgers van die ekonoom Milton Friedman en die sogenaamde Chicago-skool het hulle daaraan toegewy om Keynesiaanse ekonomie, wat ’n vorm van gemengde ekonomie voorstaan, om te keer. Volgens die Keynesiaanse denkrigting is daar ’n rol vir die vrye mark en die staat wat ontstaan het aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog as ’n poging tot heropbouing vir die vernietiging van die oorlog.

Friedman en die Chicago-skool staan privatisering, deregulasie van handel en drastiese vermindering van regeringsubsidies voor. Staatsubsidies vir gesondheid, onderwys en landbou moet ingekort of opgeskort word.

Van die eerste eksperimente hiermee is in Suid-Amerika toegepas, waar Friedman ’n konsultant vir die regime van genl. Augusto Pinochet in Chili was. Ons weet nou daardie beleide is met grootskaalse verdrukking toegepas en het gelei tot die ondergang van die gemengde ekonomieë van Suid- Amerikaanse lande. Dit het aanleiding gegee tot die huidige populisme (eweneens dodelik) as teenvoeter.

Die oortuiging van die Chicago-skool is dat krisisse gebruik kan word om neoliberale beleide van stapel te stuur, maar ook om groot maatskappye te laat baat hierby.

Wapenvervaardigers, byvoorbeeld, maak miljarde in profyt ná 9/11, asook die vervaardigers van hommeltuie.

Die teregstelling van genl.maj. Kassem Soleimani van Iran het dit gewys. Dit het ’n nuwe krisis veroorsaak wat uitgebuit kan word.

Een van die grootste nalatenskappe van neoliberale kapitalisme is die skep van ’n besittersklas wat skatryk is en min omgee oor die plundering van die omgewing of klimaatsverandering.

Die gaping tussen ryk en arm skep ook ’n klas van “oortolliges” – werkloses wat “ ’n las” vir die samelewing is.

Het ons meer of minder van hierdie kapitalisme nodig? As ons Klein glo, is neoliberale kapitalisme een van die slegste dinge wat met die mensdom gebeur het. Dit gaan die ondergang van die omgewing en die mens beteken.

Om dus soos prof. Johan Fourie te redeneer dat Suid-Afrika meer kapitalisme nodig het, is ’n denkfout.

Om te glo dat meer eienaarskap en privatisering gaan bydra tot die oplossing van ons probleme, is om te vergeet dat apartheid ’n vorm van rassekapitalisme was wat gefloreer het op goedkoop swart arbeid en dat tuislande ’n vorm van arbeidsregulering was. Kapitalisme is slegs vryheid vir dié wat geld het. Geld maak geld.

Fourie beskuldig die fakulteit sosiale wetenskappe daarvan dat ons ’n gebrekkige begrip van ekonomie aan studente oordra. In politieke wetenskap leer ons hulle om krities oor die ekonomie te dink, nie om slaafse navolgers van ekonomiese leerstellings te word nie.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die US.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Mening  |  Kapitalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.