Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaptein Siya gee rigting eerder as parlement

Indien ’n mens die voorreg gehad het om op die persgalery te sit van die 1994-parlement, was die lae vlak van eergister se vraesessie in die Nasionale Vergadering aan pres. Cyril Rama­phosa ’n ontnugtering.

Barnard Beukman

Vergeet ’n oomblik enige politieke standpunte. Maar ’n mens kon destyds luister na die gravitas van inhoud of selfs net debatstyl van Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Joe Slovo, Jay Naidoo, Dullah Omar, Kader Asmal en Trevor Manuel, om enkeles te noem. Die ANC se topdebatteerder was waarskynlik Mac Maharaj, wat gewoonlik in belangrike sessies net ná FW de Klerk ingestuur is. Dit omdat De Klerk self min gelykes op die vloer gehad het en omring was met Pik Botha, Dawie de Villiers, André Fourie, Leon Wessels en vele ander wat hul merk met die gesproke woord kon maak. Die DA het Tony Leon, Douglas Gibson, Dene Smuts en Mike Ellis gehad en bloot die teenwoordigheid van genl. Constand Viljoen aangevul deur Pieter Mulder se vaardighede het die vlak gelig. Met ’n waardige Frene Ginwala vlymskerp in die speakerstoel.

Vergelyk dit nou met die C-span wat vandeesweek op die veld was. Beledigings op ’n lae vlak oor en weer en sinlose punte van orde. Opposisielede het origens gelyk soos skoollaaities wat ba­klei soek met swak of hoogs gemiddelde vrae. In skaak is daar soms die gevaar dat ’n swak teenstander jou spelpeil kan aftrek tot op sy vlak. Moontlik is dit wat ’n grootliks stug en lustelose president meegebring het.

Die vars bries kom toe van gisteroggend se sportblaaie?.?.?.

Takties het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sekerlik die dag onder opposisielede gevat. Hy kon Rama­phosa ten minste uit sy hoek lok, wat ontaard het in ’n onoorspronklike lesing waarin hy (Ramaphosa) lewe probeer blaas het in die saf geslaande perd van “dis nog alles apartheid se skuld en kyk hoe ruk ons dit reg met regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en herverdeling”.

Die vars bries kom toe van gisteroggend se sportblaaie toe berig word oor Siya Kolisi, Springbokkaptein, se onvermoeide ywer om kos by diegene te kry wat dit nodig het. Dit in teenstelling met ANC-raadslede wat dit steeds steel en aan hul meelopers en buurtintimideerders uitdeel – wel, ten minste in Soweto as ’n huiswerker se mededeling vandeesweek aan my reg is.

Deur die mislukte resep wat Ramaphosa probeer voorhou het, trek Kolisi ’n streep wanneer hy in ’n ander konteks opmerk: “Dis meer as 20 jaar sedert Suid-Afrika ’n demokrasie geword het en mense sukkel steeds. Ek’s seker die mense wat om ’n beter Suid-Afrika baklei het, het dit nie in gedagte gehad nie.”

Maar Kolisi praat ook hard met ons almal en vra dat ons onsself vergewis van wat in arm gebiede aangaan en inspring om ’n verskil te maak. Ons sal moet, want die aspirant-pensioenstropers het nie sulke planne nie.

  • Beukman is die redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.