Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kapteinsbeurt nodig vir CR se staatsrede

Nogmaals ’n praatjie oor nasionale eenheid, wat almal laat goed voel, gaan vir die komende week se staatsrede by die opening van die sesde parlement nie goed genoeg wees nie.

Barnard Beukman

Pres. Cyril Ramaphosa het net ’n plan A. Dit is ekonomiese groei deur veral grootskaalse buitelandse beleggings. As hy dit nie kan maak werk nie, het hy nie iets om op terug te val nie.

Daarvoor moet vertroue geskep word. Daarom skuld hy homself en die land ’n ware kapteinsbeurt met gedetailleerde aksieplanne oor verskeie kwessies.

Hy sal moet uitstyg bo sy ondermyners, meestal in sy eie party teenwoordig. En die blitzkrieg lewer wat al sedert 2018 deur sy binnekringe voorgehou word as die plan vir vanjaar. Dit is om vinnig alles te begin doen wat nodig is en dan danksy die voordele daarvan reg te wees vir die volgende ANC-leierskonferensie in 2022.

As die staatsrede net nog ’n watertrappery is om pragmaties tyd te probeer wen weens die binnegevegte in die ANC, gaan dit die Ramaphosa-presidentskap by ’n kantelpunt bring. Ten beste kan dit dan ’n termyn van rondploeter en relatief gemiddelde teenstrydighede wees.

Die afgelope week was daar uiteenlopende ontledings van wat die stand van sake oor die ANC-gevegte is. Sommige meen kameraad Ace Magashule is Ramaphosa net altyd een voor. En dat die Cyril-kamp se enigste verweer ’n vae en onverstaanbare kompromis is. Een ontleder skryf vir elke ANC-lid wat ’n mens raakloop, is daar ’n ander uitleg van die beleid jeens die Reserwebank.

Maar kyk ’n mens na ’n klompie ontwikkelinge, is daar tog sterk aanduidings van die teendeel – dat dit eerder kameraad Magashule is wat aan die hardloop is. Hy is die reg ontneem om namens die ANC oor ekonomiese beleid te praat en nou word hy ondersoek weens moontlike bande met opposisiepartye. Daar is ook sprake dat die ANC ’n buitengewone vergadering van sy nasionale uitvoerende komitee (NUK) kan hou om na die funksionering van die sekretaris-generaal se kantoor te kyk.

Die vernederende en al skellende manier waarop Bathabile Dlamini die aftog uit die parlement moes blaas, is ’n belangrik simboliese sege vir Ramaphosa. Enersyds is daar vrese dat sy en andere elders kan gaan herorganiseer, maar andersyds moet hulle – Magashule ingesluit – snags wakker lê oor die korrupsiekommissies en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wat toenemend momentum opbou.

Van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie na die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan.

Vir die staatsrede sal Ramaphosa sy staatsgesag moet gebruik – soos hy reeds gedoen het – deur aan te dui die ANC-beleidsbesluite oor die Reserwebank is nie prakties haalbaar nie en dat die regering dit sal hanteer.

Dit is die terugskuif van regeringsmag uit die benewelde binnekamers van die ANC na die kabinet. Van die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie na die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan.

Tito Mboweni, minister van finansies, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se ingryping by plaaslike besture se besteding aan kredietkaarte en luukse motors is ’n begin.

Die uitkontraktering of privatisering van ten minste die SAL se internasionale vlugte, ’n bloudruk vir Eskom en hoe ander staatsondernemings aangepak gaan word, is kernkwessies waarop antwoorde wag.

Ramaphosa het versterkte politieke bande met Cosatu en die SAKP, wat hom in ruil vir poste met die kabinet se samestelling gehelp het. Dié gaan wel oor van die kwessies met hom verskil. Hy gaan grenshoue bo-oor hulle almal moet slaan.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Barnard Beukman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.