Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Keer die ‘ou man’ wat aan die deur klop
Wilhelm Jordaan

‘Don’t let the old man in . . .” sing Tobie Keith aan die einde van The Mule, die fliek waarin Clint Eastwood ’n bejaarde tuinier speel wat ’n dwelmdraer word.

Daar is iets weemoedigs aan dié lied, en tog ’n les vir almal wat ouer word en is.

Die storie is dat Keith en Eastwood saam gholf gespeel het. Eastwood sê toe hy word die volgende dag 88. Wat gaan jy doen? vra Keith. Ek gaan ’n fliek begin skiet, sê Eastwood.

Wat hou jou aan die gang? wil Keith weet. Waarop Eastwood antwoord: “I get up every day and don’t let the old man in.”

In die trant van die lied is die “old man” die ouderdom wat aan die deur klop. En die kuns is om hom die deur te wys. Hoe? “Try to love on your wife / And stay close to your friends / Toast each sundown with wine / Look out the window and smile / Don’t let the old man in . . .”

Die oumense praat nie meer nie / Hul illusies is verby / Die oumense droom nie meer nie / Hul boeke het gaan slaap.

Maklik gesê, sal baie oues van dae sê – die lewe is nie ’n lied nie. Eintlik is dit soos ­Jacques Brel droefgeestig sing: “Die oumense praat nie meer nie / Hul illusies is verby / Die oumense droom nie meer nie / Hul boeke het gaan slaap / Die klavier is vals . . . / Die oumense beweeg nie meer nie / Hulle wil het stadig geword . . .

Sekerlik geld dit talle oumense. Vir húlle het die lewe ’n ondraaglike las geword – siekte, pynlike lyding van liggaam en gees, en ander onoorbrugbare lewensellendes. Inderdaad: Ouderdom is ’n wreedaard wat die veerkrag van jou lyf wegraap en die vuur van jou siel steel.

Tog kán ’n mens die “ou man” die deur wys. Dit begin by die aanvaarding dat ouderdom ’n natuurlike afloop van alle lewe is. “Ons is nie hier vir die verblyfste nie. Ons is hier vir die vergaanste,” skryf die kruiebereider Antoinette Pienaar in die boek Wreed én mooi is die dood.

Dié besef help jou om “nee” te sê vir die “for­ever young”-kultus wat verkondig word deur roekelose selfhelp-ghoeroes en medisynemaatskappye wat maak asof die ouderdom ’n geringe lastigheid is wat tjoef-tjaf oorkom kan word.

Belangriker as medisyne wat die verkalking van are vertraag, is daar die “medisyne” wat die “verkalking” van jou lewe vertraag. Dít behels verset teen die gangbare gedagte dat hoë ouderdom rustige stoepsit beteken. Om as’t ware te sê: Nou’t ek genoeg gehad van besig wees.

Op dié manier verban baie bejaardes hulself tot niksdoen of geleentheidsdiens vir kerk en kleinkinders én ’n leë verblyf in veiligheidsbuurte, aftreeoorde en ouetehuise met eindtyd-name soos Altena, Avondrus en Afsaal.

Waar hulle, met of sonder grasie, hul senior burgerskap beoefen en dikwels verval in oumens-wrokkigheid, nukkerige suurheid en ’n uitmergelende beterweterigheid wat op die rug van verdwaalde alkundigheid ry.

Dít moet beveg word deur te werk aan die ewewig tussen die grasie van grysheid én onverbloemde stuitigheid; tussen soberheid én sotterny; en tussen rustiger uitspan én onstuitbaar voortgaan met die lewe totdat jy nie meer asem het om te haal nie.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Jeug  |  Bejaardes  |  Ouderdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.