Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Keer ons terug na die tyd van skiet en donder?
Rapule Tabane

Suid-Afrikaners is maar ’n uitdagende spulletjie.

Sedert demokratisering in 1994 was ons aan soveel vryhede gewoond dat dit eintlik ondenkbaar is dat ons vandag agter mure in ons huis sit as gevolg van ’n regeringsopdrag.

Ons vryheid die afgelope 25 jaar het ons daaraan gewoond gemaak dat ons omtrent enigiets kan doen wat ons wil, behalwe misdade pleeg.

Ons kinders, veral dié wat sedert die vroeë 1990’s gebore is, het geen idee hoe dit voel as die weermag en polisie vir jou sê waarheen jy kan gaan en waarheen nie. Van ons ken dit, want ons het die kragdadigheid van die apartheid-veiligheidsmagte in ons hoërskooljare in die 1980’s gevoel.

“Hou jou bek” terwyl die polisie en weermag beheer neem, is dus werklik veel gevra. Ons beweeg waar en wanneer ons wil, ooreenkomstig ons eie oordeel. As die regering vir ons iets gratis gee, hou ons onmiddellik ’n protesoptog om iets anders gratis te eis.

Covid-19 is hier en dit verg moeilike keuses van ons en ons regering.

Maar Covid-19 is hier en dit verg moeilike keuses van ons en ons regering. Op die vasteland is Suid-Afrika die ergste geraak, waarskynlik omdat dit ’n kosmopolitiese land is waar die meeste internasionale maatskappye in Afrika gebaseer is.

Maar omdat ons lankal die dae van ministers van wet en orde soos Louis le Grange en Hernus Kriel vergeet het, is ons waarskynlik ook van die mees onregeerbare mense.

Maar ons is nou gevra om op te offer. Die vinnige verspreiding van die siekte in Europa, China en die VSA het ons geleer net die pynlikste isolasiemaat­reëls kan help om dit in bedwang te hou.

My hart gaan uit na mense wat in dié tyd alleen woon. Hulle gaan die volgende 21 dae in vier mure vaskyk. Dit gaan nie maklik wees nie. Tuisvermaak bied net soveel. Absoluut alles het tot stilstand gekom. Die TV-nuus is neerdrukkend en herhalend oor dieselfde onderwerp: Covid-19. ’n Mens kan ook net soveel video-oproepe doen.

My hart gaan uit na mense wat in dié tyd alleen woon. Hulle gaan die volgende 21 dae in vier mure vaskyk.

Ouers gaan sukkel om kinders besig te hou, wat onvermydelik rusteloos gaan raak as hulle elke dag dieselfde goed doen. Dit is moeilike tye sonder enige presedent hoegenaamd.

Maar as die regering ons vra om hom te gehoorsaam (iets wat ons jare lank nie gedoen het nie), is dit ewe belangrik dat ons regte gerespekteer word.

Die meeste Suid-Afrikaners is glad nie beïndruk deur die behae waarmee Bheki Cele, minister van polisie, hulle meegedeel het dat hulle in dié tyd geen regte hoegenaamd het nie.

Dit is heeltemal strydig met die gees waarin pres. Cyril Ramaphosa sy aankondiging gedoen het toe hy ’n beroep op burgers gedoen het om die virus te help verslaan. Cele het die publiek met smaak meegedeel “geen stappery met honde sal toegelaat word nie”. Dít vergeleke met Brittanje wat sy burgers toelaat om een keer per dag uit te gaan om ’n vorm van oefening te doen.

Sy houding kan meebring dat die polisie op grondvlak glo hulle het carte blanche om mense se lewe te beheer.

Weermagamptenare het ook al gespog hulle gaan “skiet en donder” – ’n apartheid-slagspreuk van die berugte destydse veiligheidsmagte.

Ek hoop nie dit gebeur regtig nie. Ek hoop hulle laat darem mense toe om uit hul huise te gaan om kruideniersware te koop.

So nie, kan ons terugkeer na ’n alte bekende gesig van mense wat ondernemings stroop omdat hulle sê hulle is honger.

Kom ons begin die moeilike reis deur te onthou die alternatief is die Italië-scenario, waar 600 tot 700 mense daagliks weens die virus sterf. Dit is nie bangmaakstories nie, maar ’n blik op die werklikheid.

* Tabane is politieke redakteur van City Press.

Meer oor:  Rapule Tabane  |  Inperking  |  Covid  |  Drank Verbode  |  Skiet En Donder  |  Korona  |  Draf Verbode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.