Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Keer só dat die inperkingsvlak verhoog word
Jan-Jan Joubert

Daar is tans allerlei aanduidings dat die inperkingsvlak in verskillende distrikte en/of provinsies verhoog kan word omdat die voorkoms van Covid-19 daar steeds toeneem.

Dit wil ook voorkom asof ANC-beheerde provinsies en distrikte in hierdie stadium ten gunste van so ’n stap sal wees.

Die Gautengse premier, David Makhura, het trouens reeds aangedui dat hy en sy provinsiale regering ’n hoër inperkingsvlak sou verwelkom, en die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het ook al om hulp van die nasionale owerhede aangedring.

Daar blyk minder aptyt vir hoër inperkingsvlakke te wees by die DA-beheerde Wes-Kaap, en by name sy premier, Alan Winde.

Winde was die eerste premier wat aangedring het op ’n verlaging van die inperkingsvlak weens die vernietigende impak daarvan op die provinsie se ekonomie.

Die Wes-Kaapse regering het dan ook vroeg in die pandemie ’n redelik slap kans gevat om hulself van die res van die land te onderskei deur te probeer om sigaretverkope op vlak 5 toe te laat.

As ’n mens kyk hoe vinnig die nasionale regering maatreëls aanpas sodra ’n hofsaak begin, is hulle ook maar baie onseker oor die regsgeldigheid van talle maatreëls.

Die ministers van polisie en van handel en nywerheid het dié vlammetjie egter spoedig gesnuit deur – heel korrek – daarop te wys dat die ramptoestand se maatreëls landwyd dieselfde moet wees, want dit word deur die nasionale owerheid uitgevaardig.

Die Wes-Kaap het dalk in daardie rondte harpuis geruik, maar nou dat die data aandui dat die nasionale regering onderskeid kan tref tussen verskillende provinsies, maak dit die deur oop vir die Wes-Kaap om dieselfde argument van nasionale eenvormigheid aan te wend om te keer dat die provinsie aan ’n hoër inperkingsvlak onderwerp word.

Maar dis net die eerste in ’n tweeledige regsargument wat die enigste blou provinsie kan voer.

Die tweede deel van so ’n argument is ’n administratiefregtelike beginsel in die Grondwet wat ek sommer “niks oor my, sonder my nie” noem as ’n vertaling van die Engelse “nothing about me, with-out me”.

Die bekendste voorbeeld daarvan is in die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (algemeen bekend as die Paia-wet), en die toepaslikste voorbeeld is die grondwetlike reël oor die verandering van provinsiale grense. Art. 74 (8) van die Grondwet bepaal naamlik provinsiale grense kan naamlik slegs verander word as die nasionale regering en die twee provinsiale regerings wat daardeur geraak word, daartoe instem.

Indien die Wes-Kaap (of enige ander provinsie of distriksmunisipaliteit) dus kan aantoon dat die besluit om hul inperkingsvlak te verander sodat dit verskil van ander dele van die land s’n, sou ek voorstel hulle gebruik hierdie twee argumente.

As ’n mens kyk hoe vinnig die nasionale regering maatreëls aanpas sodra ’n hofsaak begin, is hulle ook maar baie onseker oor die regsgeldigheid van talle maatreëls.

Indien die nasionale regering dus onwillige regerings op provinsiale of distriksvlak erger wil inperk, kan dit die moeite loon om die regering hieroor ook in die hof te toets.

  • Joubert is ’n onafhanklike kommentator en skrywer.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Koronavirus  |  Koronasyfers  |  Provinsies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.