Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Keer terug uit dié ballingskap
Willie Spies

So ’n week of wat gelede het ek saam met twee goeie ou vriende ontbyt geëet.

’n Man en sy vrou.

Hulle is heelwat ouer as ek – minstens 25 jaar – met volwasse kinders wat omtrent my ouderdom is, maar op-en-wakker, ingelig en intellektueel, met ’n baie wye ervarings- en belangstellingsveld.

Ek vra uit oor hulle kinders. Die vrou vertel opgewonde hulle kinders is ongelooflik suksesvol. Die kleinkinders is in private skole en toppresteerders. Hulle huise is imposant en niks is uit plek uit nie.

Sy vertel dat sy soms bel om te hoor hoe dit met die kinders en kleinkinders gaan en dan dadelik hoor hoe besig hulle is.

Hulle vra soms of hulle kan kuier en of die kinders dalk wil oorkom, maar hoor dan hoe besig hulle is.

“Ons woon net 24 km van ons kinders af, maar as iemand vra waar woon my kinders, dan sê ek vir hulle my kinders het geëmigreer,” vertel sy afgetrokke.

Het jy ook al geëmigreer?

Ek praat nie van emigrasie na Perth, Londen, Frankfurt of Auckland nie. Ek praat van emigrasie na jou eie klein private lewetjie toe.

Ek praat nie van emigrasie na Perth, Londen, Frankfurt of Auckland nie. Ek praat van emigrasie na jou eie klein private lewetjie toe.

Dis ’n ander soort emigrasie. Dis emigrasie na ’n plek wat nóg hier nóg daar is.

Jy is nie in Europa met sy goed georganiseerde samelewing en eeue-oue tradisie nie.

Jy is ook nie in Londen met sy moltreine, rooibaksteenhuise en eindelose nywerhede en fabrieke nie. Ook nie in Australië met sy vlieë, grootpraters en kangaroes nie.

Jy is sommer hier naby. Net hier om die draai, maar jy het in jou dop gekruip.

Nie die dop van ’n kluisenaar nie. Nee, jy is sigbaar, allermins ’n kluisenaar. Sigbaar in jou werksomgewing. Sigbaar in die openbare lewe. Selfs sigbaar by sosiale funksies. Sigbaar in jou spoggerige huis op die bult. Sigbaar, maar afwesig.

Die mense wat jou liefhet en jou mis weet nie waar om jou te vind nie.

Hulle sien jou ook, van tyd tot tyd – miskien vinnig – net in die verbygaan. Dan moet jy vinnig praat, vinnig groet, vinnig vra hoe dit gaan en vinnig terugkruip in jou dop, want jou pligte, take en verantwoordelikhede binne-in die dop roep onversadigbaar om aandag.

Dis ’n bestaan wat jou deurgaans laat glo jy is op pad om groot dinge te vermag, maar dat daardie groot dinge jou gaan ontwyk as jy nie gou weer terugkeer na die dop nie.

Terwyl die pligte in die dop jou altyd weer terugroep, is die mense buite daardie dop geduldig op wag vir daardie oomblik wat jy die dop gaan verlaat en weer jou lewe met hulle gaan deel.

Ironies genoeg ontwyk daardie groot dinge wat jy hoop om te vermag jou meestal, ten spyte van daardie nimmer versadigbare pligte en roepstemme binne-in die dop.

Ek self het my ’n paar jaar terug in so ’n dop bevind.

Ek onthou nog baie goed daardie dag laat in November 2013 toe ek my bejaarde pa gebel en vertel het dat ek uiteindelik my tafel skoon gewerk het en reg was om te kom kuier.

Die volgende dag was daar egter ’n krisis en my tafel was weer vol lêers. Die kuier het nie gerealiseer nie.

Vyf dae later is hy opgeneem in die hoësorgeenheid. Ek het elke dag daar gaan kuier en gepraat, maar hy kon nie meer terugpraat nie en op Oujaarsdag het hy vir altyd geëmigreer na ’n ander lewe.

Dis tyd om terug te keer uit ons ballingskap. Ons mense en geliefdes het ons nodig.

  • Spies is ’n prokureur en uitvoerende-voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Europa  |  Ballingskap  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.