Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Kelder die Bismarck!’

In die era van die grootkanonslagskepe was die nooiensvaart van die “magtigste slagskip ter wêreld” die agtergrond vir die mees dramatiese seejag van die 20ste eeu, skryf Gustav Hendrich.

Die dramatiese stryd om die Bismarck. Foto: REVEL BOXART

Vanjaar, 80 jaar ná die seejag op die Duitse slagskip die Bismarck in die Noord-Atlantiese Oseaan, bied die ooggetuies se vertellings vir ons ’n verhaal van dapperheid, angs en noue ontkomings.

Met die Tweede Wêreldoorlog teen Mei 1941 in volle gang en die suksesse van die Duitse duikbootoorlog teen Britse konvooie wat broodnodige voedselvoorrade na Brittanje verskeep het, is besluit om die net nóg stywer te span.

Die Bismarck is ter see gelaat om die Britse voorraadtoevoer af te sny om sodoende die Britte tot oorgawe te dwing.

Raeder se Rynoefening

Erich Raeder, die Duitse grootadmiraal, was ’n kundige strateeg. Hy het sy beswaar aan Hitler uitgespreek dat die Duitse vloot eers teen 1944 gereed sou wees om die Britse koninklike vloot teen te staan.

Maar Hitler se traak-my-nie-agtige houding jeens sy vloot en sy prioriteit om Sowjet-Rusland in Junie 1941 binne te val, het Raeder genoop om met sy Operasie Rynoefening, of Rheinübung, voort te gaan.

Die reusagtige en swaar bewapende Bismarck het op 18 Mei 1941, vergesel van die grootkruiser Prinz Eugen, vanuit die hawestad Gdynia in Pole vertrek.

Admiraal Lütjens Foto: BISMARCK IN TRIUMPH AND DEFEAT

Onderweg deur die Kattegat-waterweg tussen Denemarke en Swede is die geheimhouding van die operasie egter gefnuik toe die Britse admiraliteit ’n wenk van die Sweedse geheime diens ontvang het.

Nadat die twee Duitse skepe Kors Fjord naby Bergen in Noorweë bereik het, is hulle weer deur ’n Britse verkenningsvlug gewaar.

Die inligting is na die Britse vlootbasis te Scapa Flow gestuur waarna die tuisvloot se hoofkommandeur, sir John Tovey, onmiddellik sy vloot ontbied het. Die elegante en trotse vlagskip van die Britse vloot, die HMSHood, het die leiding geneem, gevolg deur die slagskip Prince of Wales en ses torpedojaers.

Die Duitse skepe het intussen in gure weerstoestande vanuit Noorweë gevaar, maar is deur die bemannings van die HMS Suffolk en Norfolk, wat in die nabyheid was, gewaar en agtervolg.

Gruwel van die Hood

In ’n afwaartse roetebeweging tussen Ysland en Groenland het die Duitse skepe daarin geslaag om deur ’n Britse seemynveld te dring. Maar net nadat hulle op 24 Mei deur die Straat van Denemarke gevaar het, het die Duitsers lynreg teen die Britse skepe inbeweeg en ’n direkte vlootkonfrontasie ontketen.

Op ’n afstand van 27 km het die grootkanonskepe met hul donderende kanonvuur op mekaar losgebrand. Die Hood, met vise-admiraal Lancelot Holland as bevelvoerder, het die aanval ingelui. Die seeslag sou slegs agt minute duur.

Tot vandag toe bly dit ’n raaisel vir historici oor wat volgende gebeur het.

Ronald C. HayFoto: IMAGES OF WAR

Die meeste is dit eens dat die vyfde salvo van die akkurate kanonvuur van die Bismarck die dun gepantserde bodek van die Hood, waarin die kruitkamer was, binnegedring het.

’n Ontsettende ontploffing het gevolg.

Die skip het in twee gebreek en onder ’n grys rookwolk verdwyn. Hood het met ’n bemanning van 1 419 gekelder – slegs drie het oorleef.

Die seekadet Robert Kilburn, wat as lugafweer-bemanningslid op die bodek gestasioneer was, was een van die gelukkiges.

“There was a fire on board the upper deck and the ammunition was exploding. We were laid on the upper deck, and then there was this terrific explosion. It was most peculiar, the dead silence that ollowed . . . I noticed that the ship was rolling over and the bows were coming out of the water,” het hy agterna vertel.

Kilburn het byna saam met die skip onder die water verdwyn. Toe die skip omrol, het Kilburn in die water beland met antenna-kabels wat aan sy voete verstrengel geraak het. “I cut my sea boots off with a knife and shot up, like a cork out of a bottle. I must have been 10 ft down by then. The ship was about 10 yards away from me, with her bows straight up in the air – and she just sank. There I was in the water”. Meer as vier ure lank het hy, tesame met Ted Briggs en William Dundas, in die ysige olieslik water op ’n vlot rondgedryf.

“We were in a state of shock and very, very cold,” het Kilburn vertel.

Eindelik het die Britse torpedojaer Electra tot hul redding gekom. Die Prince of Wales is beskadig en het onttrek. Een van die slagskip se projektiele het egter die Bismarck se petrolkompartement getref, sodat dit begin lek en sy spoed verminder het.

’n Watergraf . . . die Bismarck op die seebodem.Foto: www.wrecksite.eu

Jubel en angs van ’n seejag

Tovey wou die Hood wreek. Hy het daarom beveel dat die tuisvloot met sy slagskip HMS King George V, die HMS Rodney en vliegdekskip Victorious vanaf Scapa Flow, sowel as Force H – bestaande uit HMS Renown, Sheffield en die vliegdekskip Ark Royal vanaf Gibraltar – teen die Bismarck moet opruk.

Op die Bismarck het ’n jubelgees onder veral die jonger bemanningslede geheers. Die jong Duitse luitenant-kommandant Gerhard Junack wat as turbine-ingenieur gewerk het, het vertel dat die gevoel van triomf egter kortstondig was.

Gerhard Junack Foto: BISMARCK IN TRIUMPH AND DEFEAT

Die Duitse admiraal Günther Lütjens het op sy verjaarsdag die Bismarck se kaptein Ernst Lindemann en bemanning toegespreek.

Sy boodskap van lof sou algaande ’n pessimistiese inslag kry. Lütjens het hulle ingelig dat die ergste voorgelê het want “die hele Britse vloot is nou beveel om die vernietiger van die Hood te kelder”.

Volgens Junack het die moreel van die bemanning toenemend gedaal. Volgens Lütjens was die einde van Nazi-Duitsland naby, en die Bismarck se leeftyd selfs nog korter. Die ouer offisiere het beaam dat “daar geen uitweg was nie”.

Weens die verminderde brandstofvoorraad het Lütjens die noodlottige fout begaan deur vir Hitler ’n telegram te stuur. Daarin is gepleit vir hulp en ook die sege oor die Hood vermeld.

Die boodskap is deur die Britse intelligensie onderskep en ontsyfer, maar die Bismarck het toe van Prinz Eugen weggebreek en sy eie koers na Frank­ryk ingeslaan.

Nadat die slagskip vir meer as 31 uur vermis was, het ’n Catalina-seevliegtuig van die Britse lugmag die silhoeët van die Bismarck opgemerk. En daarmee is die seejag voortgesit.

In reënweer het oudmodiese dog hoogs doeltreffende Swordfish torpedo-vliegtuie van Ark Royal in ’n lugaanval op 26 Mei die Bismarck se bemanning feitlik die heel nag geteister.

Met ongelooflike waagmoed het die Britse vlieëniers onder hewige masjiengeweervuur deurgeloop, maar merkwaardig daarin geslaag om die Bismarck met slegs een torpedo teen sy roer te tref.

Daarmee was sy roer en stuurmeganisme erg belemmer. Die roer moes vervang of met plofstof uitgeskiet word.

Lütjens het enigiemand die Ysterkruis beloof wat sou afduik om die roer onderwater met ystersae los te sny. Een seeman was gewillig, maar weens die onstuimige see was sy poging onsuksesvol.

Vir Junack was dit opvallend dat daar nie groter ywer onder die bemanning was nie. (Niks) “menslik moontlik is werklik gedoen om die Bismarck in hierdie kritieke nag te probeer red nie”.

Volgens Junack was die gevoel op die Bismarck deurgaans gespanne.

Wie het die Bismarck gekelder?

Met die Bismarck se beweegbaarheid aan bande gelê, kon die Britse vloot die Duitse slagskip inhaal. Op 27 Mei 1941 het die laaste en beslissende slag teen die Bismarck begin.

’n Oormag Britse vlootskepe met Rodney, King George V, Dorsetshire en die vierde torpedojaer-flottielje het die Bismarck omsingel.

Weens die krisis aan boord die Bismarck en veral hul oormoegheid is die akkuraatheid van die bemanning se kanonvuur verydel.

Bismarck se eerste salvo’s het die Rodney net-net gemis, maar daarna het projektiele van die Britse slagskepe op die Bismarck se dek neergeplons.

Admiraal ToveyFoto: BISMARCK INTRIUMPH AND DEFEAT

Die Bismarck is onophoudelik bestook. Die dek was in ligte laaie. Skrapnel het talle seemanne beseer.

Die beheertoring is verwoes terwyl die voorste kanonne buite aksie gestel is. Hans Zimmermann, ’n stoker, het vertel die slag het 45 minute geduur. “Bodek is in stukke gebreek – ’n massa rommel.”

Die Swordfish-vlieënier Ronald C. Hay, wat ’n boodskap gelees het wat Tovey aan Winston Churchill in Whitehall gestuur het, het later onthou:

“He (Tovey) was unable to sink the Bismarck by gunfire”. Churchill het dadelik beveel: “Sink the Bismarck!”

Churchill wou daardeur die eer aan die Britse vloot gee en het versoek dat die Dorsetshire met sy torpedo’s die verpletterde skip die genadeslag moes toedien.

Uit vrees dat die skip as buit deur die Britte ingepalm sou word, het die Duitsers volgens Zimmerman egter self plofstof aan die binneromp van die skip vasgemaak.

Nadat Zimmermann opdrag ontvang het om die skip te ontruim, is ’n verdere bevel gegee: “Skiet die seekleppe oop!”

Junack het dit ook bevestig. “Die onderdek was helder verlig – die stilte is net verbreek deur die ontploffing van ons eie vernielingslading benede”.

Met die swastika-vlag steeds wapperend het die oorblywende bemanning die laaste “Sieg heil!” uitgeroep. Daarna het die brandende wrak omgerol en gesink.

Uit ’n bemanning van 2 400 is slegs 115 oorlewendes getel wat deur die Dorsetshire, Maori, sowel as ’n verbygaande Duitse duikboot en weerskip gered is.

Zimmermann het vertel hoe ’n Britse skeepskadet, ene Brooks, van die Dorsetshire hom gehelp het “ . . .ten spyte daarvan dat hy daarteen beveel is, het hy teen ’n ankertou afgeseil om ’n Duitse seeman sonder arms te help. . . dit was ’n geval van ‘jy vandag, ons môre’.”

Ten spyte van die gruwel van die seeoorlog was daar ’n sprankie menswaardigheid en is die Duitse krygsgevangenes as die Britte se gelykes behandel.

Einde van ’n era

Die sink van die Bismarck het ongetwyfeld die ergste bedreiging vir die Britse handels konvooie in die Atlantiese Oseaan verwyder.

Raeder se Rheinübung het misluk, hoewel die duikbootoorlog tot die einde van die oorlog sou voortduur.

Gustav Hendrich

Die ondergang van die grootkanonslagskepe – grootliks vanweë lugaanvalle – het die beskouing oor die eens roemryke en heersende posisie van slagskepe ter see radikaal verander.

John Pimlott, ’n Britse historikus, het hieroor geskryf: “The demise of both Hood and Bismarck perhaps marked the end of an era – the era of the battleship, of the mighty Kingship which reigned supreme on the seas”.

Ofskoon die Amerikaanse oseanograaf Robert Ballard reeds in 1989 die Bismarck opgespoor het, is ’n ekspedisie in Julie 2001 deur die oseanograaf David Mearns onderneem om ook die Hood in sy watergraf te besoek.

Dit het gelei tot die vervaardiging van die Britse dokumentêre program How the Bismarck Sank H.M.S. Hood.

Vir die oorlewendes van die Bismarck, ondersteun deur die Duitse regering, tesame met Ted Briggs, die laaste oorlewende van die Hood, was Mearns se ekspedisie ’n emosionele afsluiting van ’n gewelddadige hoofstuk.

Ter herinnering aan die gestorwenes is simboliese gedenkplate teen die ankers van die wrakke op die seebodem laat afsak.

Vir Briggs het dit genesing gebring. Hy het ’n krans in die water neergelaat en sy verligting uitgespreek: “I’ve finally laid a ghost to rest”.

  • Hendrich is ’n historikus van Kaapstad.
Meer oor:  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.