Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ken jy dié Karoo, vriend uit die Boland?
Deonette Haggard

My Bolandse vriend, jy sê die ou vaal Karoorantjies is vir jou saai en vervelig? En dan voeg jy by: Die Karoo is reg vir hidrobreking, want dis tot voordeel van die hele land. Jy steek daardie priemende dolk baie sekuur diep in elke Karooboorling se hart.

Hierdie rantjies, wat julle Bolanders blykbaar erg geringag wanneer julle dit met die dynserige skoonheid van jul blou berge vergelyk, het besondere, ondeurgrondelike eienskappe. Dis óns wêreld, dis óns liefde.

Het jy al ooit die bekoring van ’n nuwe dag vanaf so ’n koppie aanskou? Sien jy die dou op die plante? Sien jy doer ver hoe die vlakte al valer ver in die niet vervaag? Dring die wydheid hiervan tot jou deur? Die blouselblou lug, die goue son – ken jy dit soos ons dit ken? ’n Troppie witpens-springbokke wat in gelid boogspring in die verte? Ken jy die reuk van die bossies en skoon lug? Voel jy die suiwer lug in jou longe?

Weet jy wat Karoostilte is? Die stilte wat jy voel as jy op ’n ysterklip teen die rantjie sit? Die stilte van die veld wat jou omvou? Die stilte van die gousblomme, die plakkies en aalwyne wat in rooi vlamme teen die vaal opskiet? ’n Rolbos wat liggies oor die Karoobossies dartel? Hierdie stilte en die mooiheid van die natuur kan jou tot trane dwing.

Ken jy die rooskleure, die koper, die purper en die rooi wat in strepe oor die veld en koppies dans tot by die poorte in die Weste?

Ken jy die onbeskryflike skoonheid van ’n sonsondergang in die Karoo? Het jy al die aandvure geruik? Ken jy die rooskleure, die koper, die purper en die rooi wat in strepe oor die veld en koppies dans tot by die poorte in die Weste? Het jy al gesien hoe die oranje-rooi vuur op die kim sagkens tot pienk tot ’n ligte as verkrummel? Hoe die laaste dapper vlammetjie uiteindelik deur die donkerte gedoof word? Ken jy ons lanfernagte met ’n helder, oop naghemel waar skittersterre die silwermaan koggel?

Weet jy wat dit is om hierdie Karooveld swart en naak te sien? Weet jy hoe diere maerder word en jou so tot die besef van jou eie magteloosheid dwing? Weet jy hoe die lang, droë, winderige stofdae mens en dier tot in hul diepste wese uitmergel? Weet jy hoe ons aan hoop klou?

Ken jy die stapelwolke se magiese spel wat die donderstorms bring? Die grootsheid van die natuurkragte? Die kliefende weerligstrale, die rollende donder, die rukwinde, die reënvlae en uiteindelik die salwende, deurdringende, welkome reën wat die grond dankbaar indrink?

Dit, my vriend, is ’n stilte, ’n skoonheid, ’n grootsheid wat op geen fotografiese plaat verewig kan word nie.

Die Karoo is die verhoog waarop die Hemelvader die seisoene hul ewige ritmes laat uitspeel en elke fase bring iets nuuts en skoon en magies.

Ons Karoo-landskap, ons trots en vreugde, deur hidrobreking kom skend? Nee, my vriend, ons bid dat daardie dag nooit aanbreek nie.

Vir ons wat hier in die skadu van die koppies woon en werk, is die Karoo ons álles. Dis óns tuin van drome en wonderwerke. Dis óns werf.

Dis ons Skepper, joune en myne, se magnum opus.

Meer oor:  Karoo  |  Boland  |  Skoonheid  |  Hidrobreking  |  Natuur  |  Skaliegas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.