Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kerk: Foon sorg vir spontane gevroetel

Die staaltjies oor eredienste deur Johan van Wyk en Tex de Swardt in By het my lagspiere só geprikkel dat ek graag ook twee wil bydra, albei onlangse gebeurtenisse by ’n Engelse kerk in Stellenbosch, met vertaling waar nodig.

Dit is die gebruik by die kerk dat jong kinders die begin van elke diens bywoon.

Ná die opening, ’n liedjie en gebed gaan sit die kinders op die trap voor die kansel, waar die predikant ’n bietjie met hulle gesels voordat hulle Sondagskool toe gaan.

Nou die dag praat hy van eerlikheid en hy vra die bloedjies toe wat in hul opinie die leuen is wat hy as predikant die meeste hoor. Die antwoord wat hy wou gehad het is “Ek sien jou Sondag in die kerk”, maar die bloedjies is tjoepstil.

Hy vra toe die grootmense wat hulle dink die algemeenste leuen is, en oombliklik antwoord een van die ouderlinge kliphard van agter in die kerk: “Ek het jou preek baie geniet!”

Almal, predikant inkluis, het uitbundig en oneerbiedig gelag.

’n Paar maande voor dit het ’n selfoon gedurende die preek begin lui.

Daar was dadelik ’n spontane gevroetel in baadjie- en handsakke soos mense seker gemaak het dit is nie hul foon wat lui nie, maar die gelui het voortgeduur, vir ’n ewigheid het dit gevoel. Uiteindelik het dit gestop, net om ’n paar sekondes later weer te begin. Koppe het in alle rigtings gedraai om te sien wie die sondaar is, maar die selfoon het maar sy gang gegaan totdat dit uiteindelik weer gestop het.

Almal, die predikant inkluis, het met ingehoue asem gewag vir die volgende selfoonoproep. Daar was ’n pouse, net lank genoeg dat die predikant weer aan die gang kon kom, voor die volgende gelui.

Nou was die gemeente duidelik geïrriteerd, maar die inbeller, asook die ontvanger van die oproep, was natuurlik onbewus daarvan en die selfoon het on­ophoudelik gelui.

Nadat dit die derde keer ophou lui het, het die predikant, met ’n lag in sy stem, opgemerk dat die mense hulle tog nie moet ontstel nie.

Hy het vertel daar is verskeie bejaardes in die gemeente, en hy is seker daarvan die eienaar van die foon het dit eenvoudig nie gehoor nie, en is dus salig on­bewus van die steurnis.

Hy was reg. Ná die diens, terwyl die mense in die saal tee gestaan en tee drink het, het die foon nogmaals begin lui.

Almal kon toe duidelik hoor waarvandaan die geraas kom – vanuit die handsak van die oudste lid van die gemeente, en sy was toe steeds salig onbewus daarvan!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.