Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kerk moet leer om meer met minder te doen
Jaco Strydom

Voor ons te ontsteld raak oor kerkgetalle wat daal, voor ons verder droom van ’n groot kerk wat floreer, is dit dalk nodig dat ons net weer onthou wie ons is.

Vriende van my was onlangs op ’n staptoer. Weer eens moes ek dieselfde ou storie hoor: “Ons het te veel goed saamgevat.”

Ek is nie ’n vreeslike stapper nie, maar ek het destyds met ’n kajak van die Vaaldam af see toe geroei en dieselfde ervaring gehad.

’n Klomp van die goed wat ek saamgevat het om my reis beter te maak, het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad. My kajak was onnodig swaar en het water ingelaat.

Ek moes afpak en dinge agterlaat. Om ligter te reis, was ’n moeilike maar nodige besluit, ’n besluit waarsonder die reis vorentoe onmoontlik was.

Hierdie beginsel geld ook die kerk. Deur die jare het hy al swaarder begin reis, groter strukture gebou, al hoe meer hulpmiddels bymekaargemaak, dikwels met die beste bedoeling.

In die proses het ons egter vergeet hoe min ons eintlik nodig het.

Ons het die kuns van die vroeë kerk om lig te reis, verleer. Die kuns om baie te doen met min.

Ons het die kuns van die vroeë kerk om lig te reis, verleer. Die kuns om baie te doen met min.

As die vroeë kerk so baie reggekry het met so min (hulle het die gesig van die magtige Romeinse ryk verander), is dit onredelik om te verwag dat ’n groot kerk met soveel strukture, geboue en ander hulpmiddels nog meer regkry?

Waarom is die impak van die groot kerk van vandag kleiner as die impak van die klein kerk van destyds?

Waarom gaan dit nie beter in ’n gemeenskap met letterlik ’n kerk op elke hoek nie? Moet daar nie groter vrede wees in ’n land met soveel vredemakers nie? Daar is dorpe met meer kerkgeboue as straatkinders en steeds is die kinders op straat.

Dalk het die kerk te veilig en te groot geword om in die donker krake van ’n stukkende samelewing in te pas.

’n Kerk wat probeer floreer is met ander vrae besig as ’n kerk wat, soos Jesus, sy lewe probeer gee vir ’n stukkende wêreld.

Dalk het die kerk te veilig en te groot geword om in die donker krake van ’n stukkende samelewing in te pas.

Miskien is dit nodig om die waarde van klein wees en lig reis te herontdek.

Ek vermoed dat, of die kerk nou doelbewus gaan stop en afpak of nie, die kans goed is dat hy hom in die toekoms in elk geval in ’n al hoe weerloser posisie gaan bevind, en ek is nie seker dat dit noodwendig slegte nuus is vir die evangelie nie.

Volgens Jesus word die evangelie die beste verkondig nie vanuit ’n posisie van mag nie, maar vanuit ’n posisie van weerloosheid.

Liefde word geloofwaardig wanneer jy so naby kom dat die een vir wie jy sê “ek het jou lief”, jou kan seermaak – in Jesus se geval kon doodmaak.

Wie weet, dalk ontdek die kerk in die proses weer die kuns om met min baie te doen.

Strydom is die leier van Echo-jeugontwikkeling.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.