Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ds. Nelis: 'Kerk se krag in eenheid'
Die NGK moet sy bagasie afskud en die land wys hoe ’n gemeenskap lyk wat aan Jesus Christus behoort, sê ds. Nelis Janse van Rensburg.

Die Moreletapark-sage is vir hom sleg, hoewel hy die gemeente se besware verstaan. Tog meen hy die kerk maak ’n fundamentele fout, het ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk se algemene sinode en Wes-Kaapse moderator, aan Jana Marx gesê.

Janse van Rensburg sê die tyd toe die NG Kerk (NGK) op ’n eiland gebly het, is verby.

Die kerk moet sy bagasie, wat plek-plek diep in die apartheidsjare en verdeeldheid gewortel is, afskud en die land wys hoe ’n gemeenskap lyk wat aan Jesus Christus behoort.

Die onderhoud het Donderdagaand telefonies geskied. Janse van Rensburg, steeds ’n predikant aan die NG kerk Welgemoed in die Kaap, het pas teruggekom van huisbesoek.

“Ons het vir ’n tannie met longprobleme gaan bid,” sê hy. “Daar is ook lidmate in die NGK wat geweldig swaar kry, om politieke of ekonomiese redes . . . of dink maar aan plaasmoorde.

“Die NGK moet altyd ’n plek van troos en moed wees. Ons eenheid is nog nie waar dit moet wees nie.”

Janse van Rensburg se kerkpligte by Welgemoed gaan voort, al staan hy die afgelope vier jaar aan die stuur van die land se grootste gereformeerde kerkverband.

Hy sê sy gemeente is sy vangnet wanneer hy ’n moeilike sinodale week agter die rug het.

“Ek dink dis ’n wins om in ’n gemeente én in die algemene sinode te dien. Die NGK leef in sy gemeentes. Die goed waaroor jy op sinodale vlak moet besluit, moet vir lidmate toeganklik wees. Jy moet heeltyd ‘gemeente’ dink,” sê Janse van Rensburg.

Die NGK moet altyd ’n plek van troos en moed wees. Ons eenheid is nog nie waar dit moet wees nie.
“Ons moenie toelaat dat identiteitspolitiek ons van mekaar vervreem nie,” sê die NG Kerk se ds. Nelis Janse van Rensburg oor Morelexit. Foto’s: bianca smit

Moreletapark

Dis skaars 24 uur nadat hy teruggevlieg het ná ’n besoek aan die NG kerk Moreletapark in Pretoria.

Dié makrogemeente het verlede week bekend gemaak dat hy die NG-kerkverband wil verlaat weens “verskeie woelinge in die NGK en teologiese strominge wat die NG kerk Moreletapark nie mee vir lief kan neem nie”.

Sedertdien gons dit oor #Morelexit.

“Die feit dat die NGK so in die kalklig is en die feit dat daar soveel debatte heers, is tekenend van die belangrikheid van die kerk in hierdie land,” sê Janse van Rensburg.

“Jy kan onbelangrik wees en dan praat niemand oor jou nie, of jy kan ’n geweldig sterk teenwoordigheid hê, dan praat almal oor jou.”

Die Moreletapark-sage is vir hom sleg, hoewel hy die gemeente se besware verstaan, sê hy.

“Ons het ’n groot diversiteit van teologiese voorkeure en spiritualiteite in die NGK, maar Moreletapark deel in ons kernidentiteit. Hy is nie besig met ’n weerstandsaksie om die kerk seer te maak nie, maar dink dat hy sy roeping beter op sy eie kan uitleef.

“Ek dink hy maak ’n fundamentele fout. Gemeentes wat soos hulle dink, het hulle nodig, en hulle het daardie gemeentes nodig.

“Ons moenie toelaat dat identiteitspolitiek ons van mekaar vervreem nie. Die getuienis van die evangelie sê juis dat ons beter getuies is as ons één is.”

Identiteitspolitiek en radikale bewegings soos Brexit

Die NGK in Suid-Afrika gaan deur ’n tyd van groot aanpassing, maar dit vorm deel van ’n veel groter stryd “wat globaal in ons drinkwater beland het”, sê Janse van Rensburg.

“Godsdiens gaan wêreldwyd deur ’n beweging waar mense, kerke en godsdienste weer hul identiteit moet bepaal. Dis ’n tyd van identiteitspolitiek. Mense glo dat identiteit so na as moontlik aan ‘my en my leefruimte’ gevind moet word. Hulle soek ook saam in groepe – dis hoekom daar dinge soos Brexit gebeur.”

Janse van Rensburg sê die NGK moet homself afvra of hy die identiteitspolitiek van die wêreld wil speel, “onsself wil afsonder, eng dink en na binne leef”.

Die evangelie van Jesus Christus staan vir gemeenskap, die afbreek van grense tussen mense en versoening.
“Daar heers ’n verstommende diensbaarheid by NG gemeentes.”

“Ons mag nie. Die kerk is kontra-kultureel. Die evangelie van Jesus Christus staan vir gemeenskap, die afbreek van grense tussen mense en versoening.”

Hy sê onmiddellik dat waar die kerk op die middelgrond staan, dit nie beteken dat die kerk nie ’n sterk identiteit het nie.

“Ons weet presies wie ons is. Ons staan al oor eeue heen by die belydenis. Die vraag is egter of ons al ontslae geraak het van al die goed wat oor die jare bygekom het, soos kultuur en ras en die oortuiging dat mense aan ons kultuur en voorkeure moet gelyk word om in ons ruimte welkom te wees.”

Sy wens is dat die NGK ’n kerk kan word wat al die “ekstras en voorwaardes” uitskakel en sê: “Die enigste identiteit wat ons almal het, is in Jesus Christus.”

Kan die NGK té toeskietlik raak?

“Die NGK is nie ’n liberale kerk nie. ’n Liberale kerk is ’n kerk wat twyfel aan die opstanding, die ewige lewe en Christus se verlossingswerk,” sê Janse van Rensburg.

Die NGK was onlangs in die nuus nadat ’n Kaapse NG predikant vir die Moslems wat onder die terreuraanvalle in Christchurch, Nieu-Seeland, deurgeloop het, gebid het.

Hoewel Janse van Rensburg die gebaar gesteun het, het hy verlede week ’n uitnodiging na ’n gesamentlike gebedsbyeenkoms by ’n moskee van die hand gewys.

“Ons wil baie graag ’n gesonde verhouding met mense van ander godsdienste handhaaf en saam weerstand teen radikaliteit en haat bied. Dit moet egter nooit beteken dat ons ons eie en mekaar se identiteit in gevaar stel en nie ons geloof hardop kan bely nie.”

Hy sê die aard van so ’n byeenkoms kan daartoe lei dat Christene wat dit bywoon, se “geloof in die Drie-enige God onder verdenking kom”.

Die indrukwekkende Moreletapark-kerkgebou kan duisende mense huisves.Foto: theana breugem

Die beeld van die NGK is nie goed nie . . .

“Die indruk daarbuite is dat die NGK presies die teenoorgestelde doen (as die versoening wat gepreek word) en ons sal daardie indruk moet regstel. Dit gaan dalk langer neem as wat ons gehoop het. Dis nie so maklik om van al die ‘ou voorwaardes’ en aannames oor mense ontslae te raak nie,” sê hy.

Die werk van die NGK word egter veral deur sy gemeentes weerspieël.

“As jy wil weet hoe dit met die kerk gaan, moet jy na gemeentes gaan kyk. Daar heers ’n verstommende diensbaarheid en ’n openheid en gemeentes beweeg oor grense. Daar is buitengewone verhale om te vertel.”

En die kerk se geldsake?

“Ek dink die meeste kerke se geldsake is steeds beter as wat in die land se ekonomie aangaan. Dit sê iets oor lidmate se offervaardigheid.”

Die einde van die pad?

Janse van Rensburg se voorsitterstermyn verstryk in Oktober, wanneer die NGK sy vierjaarlikse algemene sinodesitting hou.

“Die 2015-besluit oor selfdegeslag-verhoudings het destyds saam met my verkiesing gekom. Ek het geweet dit gaan ’n moeilike tyd wees en my rol saam met die ander leiers was om die liefde van Christus in die NGK te beliggaam.”

Ingevolge die sogenaamde “2015-besluit” kon NGK-gemeentes self kies of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante aanstel. In 2016 is dié sinodebesluit op ’n buitengewone sinodesitting tersyde gestel. ’n Groep lidmate het hulle verlede jaar tot die hof gewend wat gelas het dat die 2016-besluit ongrondwetlik en dus ongeldig is.

Die vraag is of ons die genade wat ons vir die mense buite die kerk het, ook vir mekaar kan hê.
.

“Die vraag is of ons die genade wat ons vir die mense buite die kerk het, ook vir mekaar kan hê. Ek glo tog die kragte van genade in die kerk is sterker as die kragte van veroordeling.”

As hy weer ’n rol in die algemene sinode se moderamen kan speel, sal hy graag die NGK se “genadeteologie” wil bevorder, sodat die kerk ’n “oper ruimte” is.

“Ons moet ook bly stry vir ’n korrupsievrye land, waar daar geregtigheid is vir almal – ook vir ons lidmate.”

Oor sy termyn se hoogte- en laagtepunte erken Janse van Rensburg: “Ons het beslis nie goed gevaar in ons prosesse oor selfdegeslag-verhoudings nie. Dis ’n buitengewone laagtepunt en was ’n baie moeilike ervaring vir die NGK.”

’n Hoogtepunt is dat teologiese opleiding by die drie teologiese fakulteite en kweekskole waar NG predikante opgelei word (die Universiteit van die Vrystaat, Stellenbosch en Pretoria) nou toegankliker as ooit gemaak is, sê hy.

Meer oor ...

Janse van Rensburg is op die oomblik nog “ ’n bietjie te besig vir stokperdjies”, maar hy en sy vrou, Aletta, ontlaai graag by goeie vriende, gaan eet uit of gaan fliek. Aletta is ’n onderwyseres aan die Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier.

Die egpaar het vier kinders. Een is ’n joernalis, een ’n prokureur en een studeer nog en die derde oudste is verstandelik gestrem en woon saam met hulle.

Die gesin hou vakansie in Glentana aan die Kaapse suidkus en Janse van Rensburg en sy derde oudste gaan kyk graag rugby op Nuweland.

Die NGK het beweeg van een manier van teologiese opleiding na vyf maniere, wat ook afstandsonderrig insluit.

“Die verhouding tussen die NGK en die fakulteite het ook baie gegroei. Studente ontvang akademiese opleiding, maar word ook geestelik begelei totdat hulle georden word.”

Nog ’n hoogtepunt was toe die NGK in 2016 weer lid geword het van die Wêreldraad van Kerke nadat hy in 1961 uitgetree het.

“Dit het die kerk weer toegang gegee tot verhoudinge met ander kerke en die afsondering beëindig wat daar tussen ons en buitelandse kerke tydens die apartheidsjare was.”

Janse van Rensburg sê die groot vraag ná die vierjaartermyn is of die sinode in sy hoofdoelwit – om ’n missionale beweging te wees – geslaag het.

’n Missionale kerk wil in gemeenskappe waar hy teenwoordig is, ’n verskil maak in die lewe van álmal, ook diegene wat nie tot die kerk behoort nie.

Hoewel Janse van Rensburg meen die sinode het hier vordering gemaak, glo hy die NGK se verhouding met ander kerke op plaaslike vlak moet nog verbeter. “Ons het vir onsself gesê ons is hier met die oog op die transformasie van die wêreld.”

  • Jana Marx is ’n joernalis van Netwerk24.

Meer oor:  Nelis Janse Van Rensburg  |  Kerk  |  Ngk  |  Moderator
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.