Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kerkwees nie net vir Sondag

Op ’n reis deur die Duitse platteland is kruise met die Christus-figuur daaraan opvallend. Dit is aan kerklike tradisie verbind, maar ook ’n sigbare herinnering aan die soenoffer van Christus.

Laetus O.K. Lategan

Vir my is die plek waar die kruise staan meer opvallend: langs die pad. Hiermee word die reikwydte van Christus se verlossing gesimboliseer: daar waar die lewe gebeur.

Verlossing, so het my professore gemeen, is nie om weg te beweeg van die wêreld nie, maar juis om dit ín die “wêreld” te beleef.

Tydens die afgelope Pase het die beeld van die kruis langs die pad weer by my opgekom.

Waar is Christus vir jou?

Dié vraag is versterk deur die tonele van die Notre Dame wat brand. ’n Simbool van die Franse kultuur. ’n Vertoonlokaal vir ongelooflike kunswerke. ’n Museum wat miljoene voete jaarliks ontvang.

Nodeloos ook hier die vraag: Wat sou die rede vir jou besoek wees?

Nodeloos ook hier die vraag: Wat sou die rede vir jou besoek wees?

Die mistieke ervaring van God en kerkwees of omdat dit ’n moet-sien-bestemming is?

Gaan dit oor die stil word en geestelike ontmoeting voor die altaar of die oopmond aangaap van die katedraal wat religie en menswees verweef?

’n Derde ervaring het Paasfees nog skerper in die kollig gestel. Ná die stigtelike nagmaal het ek die ontwaking van ’n inkoopsentrum aanskou.

Wat bly die grootste ervaring? Die nagmaal met die eeue oue simbole van brood en wyn wat lewe versinnebeeld of die winkelsentrum wat meedoen aan die sogenaamde “ervaringsekonomie”?

Mense wil iets ervaar om die soeke na sin en betekenis te versterk.

Wat beteken Pase vir ons?

Het die nagmaal enige betekenis hiervoor?

Die beeld van die kruis langs die pad, die brandende katedraal en die ontwakende mall het die sin en betekenis van die Paasgebeure weer op die voorpunt geplaas.

Wat beteken Pase vir ons?

Dan het ek nog geen woord gerep oor hoe elke mens worstel met eksistensiële vrae nie: oor siekte, lyding, mense se verguising, werkloosheid, die ontspoorde en gekaapte staat en verlies aan sin en betekenis.

Hierdie ervarings het opnuut die oortuiging kom versterk dat godsdiens en elke dag se gebeure nie geskei kan word nie. Die Bergrede (Matt. 5-7) gee juis uitdrukking hieraan.

Die besef het weer gekom: Vir te lank was kerkwees ’n Sondag-gebeurtenis.

In die konteks van die Nuwe Testamentiese wêreld sou ons kon verwys na geloof wat op die markplek tereg moet kom. Verandering daar waar jy is.

Die besef het weer gekom: Vir te lank was kerkwees ’n Sondag-gebeurtenis. Nee, meer spesifiek, gebeure wat op ’n bepaalde uur op ’n Sondag afspeel. Min hiervan is teruggevind ná die uur. Met geloof het dit nie veel beter gegaan nie. Die egtheid van geloof is getoets aan dogmatiese grondwaarhede. Kan ’n mens met sekerheid sê dat al die dogmas jou geloof kwalitatief of kwantitatief verbeter het?

Dié vraag het Jesus reeds in die Bergrede geopper. Ons geloof moet kwalitatief anders wees as dié van die Fariseërs wat alles stiptelik volgens reëls nakom. Ons geloof moet inhoud hê. ’n Hartsoortuiging wat deur die dubbele liefdesgebod bevestig word: God bo alles en die naaste soos jouself.

Dié oortuiging vra vir ’n geloof om daar waar Christus vir jou gekruisig is, jou verlossing te beleef. Vir my is dit ’n kruisiging langs die pad. Dit is waar ek my weg deur die wêreld baan. Só word God deel van die konkrete lewe.

Hiersonder word elke Paasfees, nagmaal en geloofsbyeenkoms maar net nog ’n datum op ons kalenders.

Daarom is Christus vir my langs die pad gekruisig. Beter nog: Hy is in my hart gekruisig.

Meer oor:  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.