Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kersfees in die aangesig van die dood gevier
Nico Koopman

In my kinderdae was Kersfees in ons huis in ’n gewyde en selfs somber atmosfeer gevier. My jongste broertjie is drie dae voor Kersfees 1967 in die hospitaal van Prieska oorlede. Op Kersdag het ons hom in Koegasbrug digby Prieska begrawe. Veral noodlottige motorongelukke en geweldsvoorvalle in die Kerstyd bring mee dat talle gesinne Kersfees jaarliks met hartseer gedenk.

Kersfees roep ook romantiese gevoelens op, van samehorigheid, saamwees met geliefdes, ontspan, afskakel, rus, nadink oor die Oujaar en besin oor die Nuwejaar. Ná ’n vermoeiende jaar wens ’n mens dat hierdie romantiese kant van Kersfees nooit sterf nie.

Dié kant van Kersfees funksioneer in harmonie met die werklikheid van tragedie en sterfte. Reeds die eerste Kersgebeure het geskied in ’n konteks van geweld en moord, stukkendheid en lyding, armoede en dakloosheid, uitsluiting en swaarkry, verdrukking en onreg.

Die rol van die bedreigde heerser, Herodes, wat alle seuntjies onder twee jaar laat doodmaak en ma’s van die land laat ween het, is oorbekend.

Ten tyde van Covid-19 vier ons Kersfees meer intensief in die aangesig van die dood. Ons is geskok, verslae en byna verslaan deur die stroom van nuus oor geliefdes wat sterf.

Ons is geskok, verslae en byna verslaan deur die stroom van nuus oor geliefdes wat sterf.

Kersfees vertel ons die verhaal van God wat mens geword het. In Jesus Christus het God as mens die werklikheid van tragedie en dood binnegetree. Dit vertel ons van wat die gevierde teoloog Karl Barth die menslikheid van God noem.

God se menswording bevestig hoe swaar mense vir God weeg. Dit bevestig ons het onvervreembare menswaardigheid. God ken eerstehands ons kwesbaarheid en breekbaarheid. God vereenselwig met ons in ons leed en lyding. God is nie ’n veraf, apatiese en onbetrokke God nie.

Hierdie Kersfees geniet ons ietsie van die romantiek van Kersfees. Ons vier Kersfees ook met, wat ons kan noem, Christelike realisme. Hierdie realisme is helder beskryf deur die Amerikaanse teoloog Reinhold Niebuhr.

Christelike realisme erken dat mense broos en breekbaar is, sterflik en maar net stof; dat ons ten tyde van Covid-19 asof in ’n wêreldoorlog betrokke is en dat ons harte gevul is met bedreiging en vrees wat ons heel bewustelik, asook onbewustelik laat wonder waar die bomme volgende gaan tref.

Dieselfde Christelike realisme erken ook die werklikheid van God wat mens geword het en die naam Immanuel dra – God is by ons teenwoordig en desondanks ’n gesonde afstand is ons nooit alleen nie. God is met ons onderweg en al ken ons dikwels nie die weg nie, God ken dit. Dit neem die angs van ons, ons vrees nie meer nie. God is nooit teen ons nie, al voel dit soms so. God is altyd vir ons. En dit maak ons meer as oorwinnaars te midde van reuse soos Covid-19 met die skyn van onoorwinlikheid.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Kersboodskap  |  Covid-19  |  Kersfees  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.