Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kersfees op die platteland

’n Kersspel op die platteland het goed begin met Kerssang en kostelike kinders in hul Kersgewade. Maar toe kry skaamstuipe Maria beet, skryf LD van Vuuren.

Plaasskool-Kersfees kan ’n interessante gedoente wees . . .Foto: tara harris

Die skooltjie was op ’n plaas in die noordweste. Meneer Frylinck was skoolhoof en onderwyser vir die kinders van st. 4 en 5 en ook die aanpassingsklas. Juffrou Almenkerk het die kleintjies gehad.

Twee klaskamers, ’n benoude kantoortjie waar die administrasie gedoen is, die twee tee gedrink en personeelvergadering gehou het asook twee longdrop-toilette teen die bult.

Ná een so ’n personeelvergadering voor skool roep Juffrou al die kinders met die koper handklok bymekaar en daar word gelees, gebid en gesing. Veral gesing: “Jeezis min my salig lot”, “As hy weer kom” en al dié.

Toe sê Meneer “ons gaan nou ook ‘Stille Nag’ sing, want ons moet begin oefen vir die Kersspel wat julle moet opvoer die aand met prysuitdeling. Juffrou sal julle sê wat jul rolle is”.

En so kry die kinders elkeen ’n rol. Die kleintjies is die skapies, die twee lang seuns in st. 4 is die donkies – hulle moet gate in streepsakke sny vir hul bene en arms om uit te steek en vir hulle lang ore van karton maak. Die drie kinders in st. 3 is die wyse manne.

Daar was net twee in st. 5 en wragtig – hul noemname was toevallig ook Josef en Maria – uitgeknip vir hul rolle, hulle hoef nie eens name te geleer het nie! Die res van die kinders was die koor en elke dag ná skool het hulle vir 30 minute geoefen aan die singery.

Reëlings is getref met die oom van die plaas om sy skuur te gebruik. Smiddae oefen die koor en saam met die koor het die donkies, skapies, wyse manne en Josef en Maria solank kleedrepetisie gehou, want “pactice makes vir perfect”, het mnr. Frylinck gesê.

Die groot aand van die prysuitdeling en die Kersspel het uiteindelik aangebreek. Veel is daar daai dag nie op die plase gewerk nie, want daar was groot opgewondenheid. By die skool kon die kinders heeldag buite speel, terwyl Juffrou en Meneer die boekpryse, wat deur boere geskenk is, in bruinpapier toegedraai het.

So het almal die aand by die skuur aangekom. Party in bakkies, ou motors en vragmotors. Die eregaste het eenkant gesit saam met Eerwaarde.

Mnr. Frylinck het welkom gesê en oorgegee aan Eerwaarde, wat mooi gelees en kort gebid het. Hy’t gesê hy dink die Here is net so nuuskierig om te weet wie die boekpryse gaan ontvang.

Toe lees mnr. Frylinck die name uit en Juffrou en die boer op wie se plaas die skool is, oorhandig dit. Trots en vreugde.

Die tante van die plaas speel toe ’n keurspel op die klavier en die st. 3-spreekkoor doen toe (sommerso in hul wyse manne-gewaad) vir “Amakaya”.

En toe die Kersspel: Eerste kom die skapies ingekruip, almal in lakens gedrapeer en sê “Mê, mê” en die een maak of hy ’n bok is en sê “Baa”. Toe sing die koor. Onder die geklank van “O Come, All Ye Faithful” kom die donkies in en gaan staan vreedsaam agter die stellasie wat vir hulle gebou is.

Die koor kom aan die noot met “Bethlehemster, o, wonderlig” (lekker trekkerig), terwyl Josef en Maria stadig ingestap kom. Josef het so ’n bont, te groot kamerjas aan en Maria is toegedraai in ’n laken.

Maria gaan sit met die pop op haar skoot langs die appelkis wat met strooi uitgevoer is, en Josef staan so beskermend by haar. Die drie wyse manne kom in. Die eerste sit sy voorvingers dramaties teen sy voorkop, kyk op na die dak en sê “ek sien ’n ste!”. Wyse nommer twee kap ook sy hand so tuit teen sy voorkop en kyk in die dieselfde rigting en beaam “Ek sien ook ’n ste!”.

Vermoedelik het wyse nommer drie besluit om te ad lib en hy sê “Wragtig – da sit ’n ste!” met soveel oortuiging dat die boer glad kyk of daar nie dalk ’n gat in die dak is nie. Toe sê die een wyse man: “Ek bring vir die seuntjie wierook en mirre”.

Doodse stilte . . .

Skaamstuipe had Maria beet. Die wyse man sê weer ’n slag: “Ek bring vir die seuntjie wierook en mirre”. En Maria se skaamstuipe raak erger – sy trek haar kennetjie so onder haar blad in en die koppie sak.

Juffrou por van agter die gordyn: “Maria! Sê nou welkom wyse manne!”. Maar Maria sit so stil soos Lot se vrou – skaamstuipe as hy eers vat gekry het, los nie maklik nie.

Die spanning laai op. Daar’s ’n murmerering in die gehoor, haar ma skril uit die gehoor “blêrrie kind!” en Maria besef dis maak of breek – sy vlieg op – gee die pop aan vir Josef en sê klokhelder:

“Djouzef, hou djy eers vir Liewe Djeezes vas, nou móét ek eers gaan piepie.”

Meer oor:  Ld Van Vuuren  |  Kersgety  |  Rubriek  |  Kersfees  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.