Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kersfees op ’n ligblou spikkel
Prof. Anton van Niekerk

Sommige lesers het moontlik al die aangrypende video gesien, toegelig met kommentaar deur Carl Sagan, van beelde van die aarde – ’n ligblou albaster teen die agtergrond van die oorweldigende duisternis van die heelal; ’n albaster wat al hoe verder uit ons gesigsveld skuif.

Sagan het Nasa in 1990 oorreed om net voordat Voyager 1 alle visuele kontak met die aarde sou verloor, die tuig se kameras om te draai en vir oulaas op die aarde te rig.

Wat dan gesien kan word, is ’n nouliks sigbare, ligblou speldekop.

In sy toeligting herinner Sagan ons daaraan dat daardie prikkie in die ruimte die enigste woning is wat ons as spesie geken het.

Al ons lewens is dáár geleef. Alle godsdienste, alle ideologieë, alle teorieë, is dáár bedink.

Alle helde en skurke, alle konings en kleinboere, alle heiliges en sondaars het dáár geleef.

Teen die agtergrond van die oneindigheid van die ruimte blyk dit dat ons niks meer as ’n spikkel is nie.

Nogtans haat ons mekaar met oorgawe en gaan ons tot verterende uiterstes om mekaar te onderdruk.

Die beslissende punt is dat ons saam is hier op die ligblou speldekop.

Hierdie spikkel is ons verootmoedigende herinnering dat ons geen bevoorregte plek in die heelal het nie en dat ons steeds nêrens het om heen te vlug nie.

Die beslissende punt is dat ons saam is hier op die ligblou speldekop.

Ons het geen ander keuse as om met mekaar te probeer saamleef nie, al is daar hoeveel van ons wat steeds glo dat óns lewe ten koste van dié van ander kan verloop.

Hoe begin ons sin maak van die werklikheid en onbegryplikheid van ons “hier-wees”?

Ek vermoed dat die meeste godsdienste pogings is om op die een of ander stotterende en onbeholpe manier te probeer om iets kleins te kry van die geheimenis wat aan die kern van ons mens-wees lê. Elke godsdiens ontwerp daarom ’n meesterverhaal wat op die een of ander manier uitdrukking gee aan ons radelose onvermoë om rus daarin te vind dat ons lewe geen maklik aanduibare doel of sin het nie buiten die uitdaging om elke beskikbare dag voluit te leef en miskien iets vir iemand anders te beteken.

Die meesterverhaal waarmee verreweg die meeste lesers van dié rubriek die beste vertroud is, is die verhaal van die evangelie.

Ná drie jaar sterf Hy aan die skandpaal van ’n kruis, verlate van die mense.

Die evangelie is die verhaal van dié God aan wie ons nie net op die een of ander manier ons bestaan te danke het nie; dit is die verhaal van dié God wat ons ook kom besoek het.

In die onthutsende eenvoud van ’n storie wat ons almal van kindsbeen af ken, tree Hy ons bestaan binne as ’n pasgebore baba, neergelê in ’n krip in ’n stal, sonder toegang tot die herberg.

Drie dekades later versamel Hy volgelinge en onderrig hulle. Ná drie jaar sterf Hy aan die skandpaal van ’n kruis, verlate van die mense en, soos Hyself in sy laaste oomblikke uitroep, ook van God self.

Dat sy lewe nie vergeefs was nie en dat geloof in Hom sin in ons lewe bring, verwoord Christene met die belydenis van sy opstanding.

Hierdie meesterverhaal, al is dit hoe dikwels verwring en verkrag deur tiranne en swendelaars wat dit vir hul eie doeleindes misbruik het, bly vir diegene wat die naam dra van die Een wat gesterf en opgestaan het, steeds die beste beskikbare interpretasie van hoe ons geroep word om saam te leef op dié klein ligblou spikkel waarop ons dryf in die onmeetlikheid van ruimte en tyd.

Daarom vier ons vanjaar, en elke jaar, Kersfees.

’n Geseënde Kersfees vir al die lesers.

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Jesus  |  Kersfees  |  Geboorte  |  Christenskap  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.