Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kerskaartjies soos dié sien ons nie meer

En nou stuur ons nie meer sulke Kerskaartjies vir mekaar nie.

Ek praat van ’n Kerskaartjie wat jy in ’n koevert plaas, een met ’n prentjie daarop van ’n baba wat met sy beentjies in die lug in ’n krip in ’n stal lê, en drie wyse manne wat bystaan, elkeen met ’n lang staf in die hand. Dikwels was daar ook ’n donkie op so ’n kaartjie, so ’n somber donkie wat op die agtergrond wag, asof hy ’n verteenwoordiger is van almal wat nog nie die goeie tyding gehoor het nie.

Dana Snyman.

Dikwels was daar sneeu op daardie stal se dak, al sneeu dit nie juis in Bethlehem, waar Jesus gebore is, nie. En byna vergeet ek: Op die kaartjie was ook altyd so ’n puntige ster wat met blinkertjies versier was. Wanneer jy daaroor gevryf het, het van die blinkertjies losgekom en aan jou vingerpunte geklou.

Binne-in die kaartjie was ’n Kersboodskap in swierige letters: “Mag hierdie Kersfees vir u en u gesin ’n ware Christusfees wees.” Die een wat die kaartjie gestuur het, het gewoonlik sy naam onderaan geskryf. “Met liefde van Ben en Grieta,” sou daar in Grieta se handskrif staan. Of: “Van die Steyns.”

Die jaarlikse Kerskaartjie was ’n soort vredeoffer tussen mense, ’n manier om te sê ek dink aan jou, al gesels ons min.

Soms het sake­ondernemings vir jou ’n Kerskaartjie gestuur. “Dankie vir u mildelike ondersteuning,” sou die boodskappie wees van die polisman by wie jy daardie polis gekoop het wat jou ná 23 jaar se getroue betalings ’n hele R56 000 ryker sou maak.

Die jaarlikse Kerskaartjie was ’n soort vredeoffer tus­sen mense, ’n manier om te sê ek dink aan jou.

Die kaartjies is trots in party huise ten toon gestel: op die klavier en op die saaidbord. Soms selfs in die toonkas, by die versameling teelepeltjies en die botteltjie waarin Seun se blindederm in versterkwater lê. My oorlede tannie Ann het haar kaartjies oor die gordynkap in die sitkamer gehang. Ander mense het sommer ’n tou in die sitkamer gespan om die kaartjies oor te hang.

Die kaartjies is ook nie ná Kersfees weggegooi nie. Party is in ’n album gehou. Een van die kaartjies het handig te pas gekom wanneer die kinders se skoolboeke oorgetrek moes word: Die prentjie voorop die kaartjie is uitgeknip en is dan op ’n kind se godsdienswerkboek geplak.

Een jaar, onthou ek, was daar verwarring onder ons nadat ’n artikel in Die Kerkbode verskyn het waarin mense gevra is om “soberder Kerskaartjies, met ’n suiwer Kersgroet daarin” aan mekaar te stuur. Mense het raad by Pa, die predikant, daaroor gevra. Pa het hulle vermaan teen oormatige klem op Kersvader en hulle daarop gewys dat daar nie noodwendig net drie wyse manne was nie. Maar stuur daardie kaartjies, broer en suster. Stuur dit gerus.

Nou is ’n Kerskaartjie ’n WhatsApp of ’n SMS of ’n toneel op jou rekenaar se skerm van ’n wulpse, uitbundige Kersvader en ’n span takbokke wat deur die ruimte trek, tussen flikkerende sterre deur. Of ’n swerm duiwe wat oor jou skerm vlieg en die woorde “Happy Xmas” vorm.

Dít is wat alles nog in hierdie desperate tyd op ons wag.

Meer oor:  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.