Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kese is g’n dom

Hulle sê boerdery is soos ’n bok en ’n bok is ’n bliksem. Rerig?

’n Bok, die veredelde Suid-Afrikaanse boerbok, nou wêreldwyd gesog en bekend as die “Kalahari Red,” is dan so ’n pragtige, uiters nuttige, geharde, vrugbare dier en die lekkerste vleiskos, lekkerder as skaap.

Ek sal my land verraai vir ’n vet tweetandkapater se sout, winddroog-ribbetjie, nie op die kole gebraai nie, maar stadig in ’n langsous opgekook in ’n swart platboomysterpot op ’n Aga-stoof se louplaat.

Ons kon darem lekker lag vir die kostelike foto onlangs in Die Burger van Bollie die bokwagterbobbejaan van die Kamiesberge op ’n pragtige boerbokooi wat hy agter sy trop aan veld toe ry.

KYK: Hoe ry die kees 'n bok dan sit-sit so!

Baas van die plaas: Bollie die bokwagterbobbejaan van die Kamiesberge op ’n pragtige boerbokooi. Foto: Verskaf

Soos die hoenderhaan by aanskoue van ’n volstruiseier vir sy henne gesê het: “Wys jou wat gedoen kan word, nè? So, haal uit en wys!” Bollie is nie die eerste bobbejaan wat as bokwagter diens gedoen het nie. In 1964 het Die Landbouweekblad my Suidwes-Afrika toe gestuur om ’n foto-artikel te gaan doen by ’n Duitse boer wat by Okahandja ’n makgemaakte bobbejaan as bokwagter ingespan het.

Hy het wel nie soos Bollie van die Kamiesberge ’n bok gery nie, maar is soggens met ’n hoed op sy kop agter die boktrop aan veld toe.

Ek weet daar is mense wat sê ek kan verskriklik lieg, maar nie hierdie keer nie. Ek het dit met my eie oë gesien en met ’n Rolleiflex-kamera afgeneem.

Die Duitse bokboer was hoogs in sy skik. Sy bokwagter het hom niks gekos nie en sy bokke was teen roofdiere beskerm. Jy soek nie skoor met ’n uitgegroeide bobbejaanmannetjie nie. Met slagtande so lank soos ’n koubeitel in gapende kake wat ’n rooijakkals se kopbeen in ’n enkele slag kan vermorsel, is hy niemand se maat nie. Maar laat ons hou by die sports wat ’n bobbejaan kan verskaf.

Ou Tat, ’n dierekenner en -temmer by uitnemendheid het sy eie mense geken.

Lank gelede het die mense op Calvinia se jaarlikse boereweek, soos die landbouskou in die ou dae geheet het, gelê soos hulle gelag toe Tat Vi­sagie ’n span van agt boerbokke voor ’n ligte waentjie ingespan het, met ’n mak bobbejaan, gedas en gehoed, wat die leisels hou. Ou Tat, ’n dierekenner en -temmer by uitnemendheid het sy eie mense geken.

Soos die Engelse spreekwoord lui: “Many a truth is spoken in jest.”

Dan was daar die sinjaalwagter op die spoorweë in die Karoo wat ’n bobbejaan geleer het om die hefbome te gooi wanneer hy ’n uiltjie knip.

Dan sê die mense ’n bobbejaan is dom.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Boerdery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.