Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kies skole reputasie dan bo integriteit?

Geen skool is gevrywaar van slegte voorvalle nie. Sulke voorvalle maak ook nie van skole “goed” of “sleg” nie. Die skool se hantering daarvan is wel belangrik, skryf Jannie van der Westhuizen.

Foto: istock

Die toppresterende skole in ons land bevind hulself vandag in ’n baie mededingende omgewing.

’n Goeie reputasie en ’n gerespekteerde handelsnaam is iets waarvan alle skole droom. Dit het vir skole ononderhandelbaar geword en word dus doelgerig nagestreef.

Die noodwendige uitvloeisel is dat aansoeke om toelating na dié skole sal instroom en dat veral talentvoller leerlinge om toelating sal aansoek doen.

Potensiële borge sal graag betrokke wil raak. So ook talentvolle opvoeders en veral dinamiese jong onderwysleiers wat graag die leer wil klim. ’n Sneeubal-effek word geskep, want sukses kweek sukses.

Die skool se finansiële vermoë sal sterker word, beter geriewe en hulpmiddels sal volg, die akademiese sowel as buitekurrikulêre kurrikulum sal verbreed.

Die skool sal weens sy groter volhoubaarheid meer innoverend kan wees, meer en beter tegnologiese hulpmiddels in werking kan stel ensovoorts.

Sodoende word nie noodwendig ’n “beter” skool geskep nie, maar word daar beslis ’n breër skoolervaring geskep wat leerlinge sal inspireer, uitdaag en ook meer dikwels uit hul gemaksone sal haal. Die geleenthede, asook die omvang en die aard van die blootstelling wat leerlinge sal beleef, sal net soveel meer en groter wees.

Dit is dus logies dat skole alles moontlik sal doen om hul openbare beeld en reputasie te beskerm en deurlopend te versterk. Boonop is gesonde mededinging ’n goeie ding en spoor dit almal aan om optimaal te presteer.

Dit hou egter die onbedoelde risiko in dat skole ’n oordrewe fokus op hul beeld en reputasie kan hê en kan “wegdwaal” van hul kernsake.

Die versterking van die beeld, reputasie en handelsnaam van die skool word dan ongelukkig dikwels ’n doel op sigself.

Die gevolg is dat dinge dan dikwels gedoen word tot eer van die skool en dat die belange van die leerlinge, onbedoeld en dikwels onbewustelik, sekondêr word. Daar vind ’n subtiele en geleidelike verskuiwing van fokus en/of prioriteite plaas.

Die skool is immers daar ter wille van die leerlinge en nie andersom nie.

Dissipline as bemarking

Dié risiko het groot implikasies en noodwendige gevolge. Dit word weerspieël in die wyse waarop skole hul geld bestee (dus skole se prioriteite), of ’n werwingsbeleid wat nie eties of opvoedkundig verantwoordbaar is nie.

Dit word weerspieël in ’n benadering wat uitsluitlik gerig is op sukses, prestasie en resultate en nie in die dieperliggende waardes wat tot die sukses aanleiding gegee het nie.

Resultate, soos in die sakewêreld, is al wat as belangrik geag word en ’n grootse poging word so dikwels misken.

Dissipline word nie geag as die medium wat ’n funksionele skoolomgewing moet skep waar leerlinge optimaal kan leer en ontwikkel en opvoeders optimaal kan onderrig nie, maar as ’n bemarkingsinstrument wat die skool se reputasie van “daar is nog dissipline” kan gestand doen.

Dissipline is immers nie ’n doel op sigself nie, maar slegs die middel tot die groter doelwit.

’n Oordrewe fokus op die beeld en reputasie van die skool hou dus bepaalde risiko’s in en skole moet versigtig daarmee omgaan, want die beste belang van die leerlinge behoort altyd die deurslaggewende faktor te wees.

Die tradisie dat “jy nie klik nie” is sterk gevestig by baie skole. As daar ’n bepaalde voorval was, word die skuldige tot elke prys deur die ander leerlinge beskerm.

Wanneer dié tradisie in die regte konteks beoordeel word, is daar respek en begrip daarvoor. Dit dui op ’n bepaalde onderlinge lojaliteit.

Wanneer hierdie tradisie verabsoluteer word, hou dit wel dwingende gevolge in, want “when good men do nothing, evil flourishes”.

Leerlinge moet dit besef. Skole moet ook hierdie werklikheid besef en bestuur.

Tradisie in perspektief

Dit verg onder meer dat hierdie tradisie deurlopend in perspektief gestel word sodat almal besef dat dit nie verabsoluteer mag word nie en dat dit nooit die verkeerde tyd is om die regte ding te doen nie.

Daar kom tye en geleenthede waar leerlinge moet besef dat eerbaarheid belangriker is as lojaliteit en dat skole moet besef dat integriteit belangriker is as ’n reputasie of ’n “goeie naam”.

Soos die tyd verloop, is dit dan ook juis hierdie aspek wat skole se beeld en reputasie as gerespekteerde instellings veel eerder sal bou en versterk: die bereidwilligheid om onbevange, en te alle tye, te doen wat reg, eerbaar, eties en moreel verantwoordbaar is – ongeag die implikasies daarvan.

Hierdie werklikheid geld natuurlik nie net skole nie, maar skole is die een plek in die samelewing waar leerlinge dit ongekwalifiseerd moet beleef en ervaar. Dit wat gepredik word, moet ook prakties uitgeleef word.

Skole moet dus noodwendig daarna streef om te presteer en suksesvol te wees. Dit moet egter altyd plaasvind binne die raamwerk van opvoedkundige, morele en etiese verantwoordbaarheid.

Hier het veral ook ouergemeenskappe en oudleerlinge ’n baie groot verantwoordelikheid, want dit is dikwels druk deur hierdie groeperings wat skole in bepaalde rigtings dwing. Dit is juis hierdie druk om te presteer, asook die eensydige oorbeklemtoning en selfs verheerliking van sekere aspekte van die skoollewe, wat die ego van die skool verhef tot die allesoorheersende faktor.

Dit wat goed, reg en eerbaar is, is ongelukkig soms die slagoffer daarvan.

Ons is gelukkig dat ons in Suid-Afrika skole het wat gekenmerk word deur ’n trotse verlede, besondere tradisies en roemryke prestasies. Skole wat leidinggewend, relevant, gerespekteerd, vernuwend en aanpasbaar is by die uitdagings en werklikhede van die tyd.

Dié skole vergelyk goed met die beste ter wêreld en hulle is uiters belangrik vir die toekoms van ons land – in so ’n mate dat hulle tereg as ’n nasionale bate beskou kan word.

Dit is juis dié skole wat ook leidinggewend moet wees in terme van daardie aspekte wat ons land vandag so nodig het: verantwoordbaarheid, integriteit, eerbaarheid, openheid en etiese optrede.

Verbind tot eerbaarheid

Slegte gebeure of voorvalle vind by alle skole plaas. Geen skool is daarvan gevrywaar nie. Sodanige geïsoleerde voorvalle maak ook nie van hulle “goeie” of “slegte” skole nie.

Die skool se hantering van of reaksie op sulke voorvalle is egter wel belangrik.

Onlangse bewerings oor die “toesmeer” van ’n voorval van byna 30 jaar gelede by ’n bekende skool in ons land en waarin daar gesinspeel word op die oormatige beskerming van die reputasie van die skool ten koste van die beste belang van ’n leerling, verdien aandag.

Die betrokke skool se bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing is enorm en word wyd erken en gere­spekteer. ’n Enkele beweerde voorval sal dit ook nie verander nie, maar dit moet opnuut rooi ligte by alle skole laat flikker.

Dit is boonop nie ons taak om te bespiegel oor die feite van die beweerde gebeure nie, maar dit is veel nodiger dat alle skole opnuut daarop bedag gemaak word dat die “reputasie” van die skool nie verhewe is bo die beste belang van leerlinge of van dit wat reg is nie. Laat ons almal maar, sonder om te oordeel, iets daaruit leer.

Uiteindelik gaan dit nie oor ’n spesifieke voorval nie, maar wel oor ’n filosofie, ’n oortuiging en ’n bepaalde verbintenis om te alle tye korrek, verantwoordbaar en met integriteit op te tree. Dit klink so maklik, maar daar is baie slaggate. Ten minste kan ons almal ons opnuut tot eerbaarheid verbind en dit daagliks nougeset nastreef.

Van der Westhuizen is ’n onderwyskonsultant van George en voormalige rektor van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.

Meer oor:  Jannie Van Der Westhuizen  |  Bemarking  |  Reputasie  |  Integriteit  |  Onderwys  |  Skole  |  Onderrig  |  Leerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.