Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kieswetter se verbeeldingsvlug van koers?

Edward Kieswetter, Suid-Afrika se hoogs bekwame hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het die afgelope week gevra dat daar aan ’n nuwe ekonomiese bestel ná die huidige virus-pandemie gedink word.

Volgens hom het die huidige krisis “Suid-Afrika ’n geleentheid gegee om ongeregtighede van die verlede reg te stel met gelyke geleenthede vir almal”.

Hy meen die pandemie het die gapende ongelykhede in die land ontbloot en sommiges meer kwesbaar gelaat. Daarom moet daar na ’n model beweeg word wat meer gelyke geleenthede bied. Hy vra ook dat die land moet dink oor behuising, openbare gesondheid en vervoer en geografiese beplanning ten einde ongeregtighede op te los.

Kieswetter is 100% reg, want ons gaan nooit volhoubare stabiliteit, veiligheid, geregtigheid en goeie geleenthede vir almal daarsonder kry nie. Hy het (bloot op grond van Fin24 se berig oor sy toespraak op ’n Investec-webinaar) nie verder uitgewei oor hoe dit bereik moet word nie.

Die huidige Suid-Afrikaanse staatsopset se vermoë om enigiets te doen word mateloos oorskat.

As dit wat hy wil “re-imagine” (sy woord) geklee is in die waan van meer staatsbetrokkenheid in ’n soort moderne sosialisme, is hy op ’n verbeeldingsvlug.

Die huidige Suid-Afrikaanse staatsopset se vermoë om enigiets te doen word mateloos oorskat. Die ideale is soms skaflik, maar die vermoë om enigiets uit te voer is finaal ontbloot met die staat van inperking.

Dan is daar nog die politieke “Staliniste” (Tito Mboweni, minister van finansies se woord) en die “barbare” (Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank se woord) wat nie met die ekonomie en staatsgeld te vertrou is nie.

Dit is skandalig dat burgerlike organisasies diewe soos Dudu Myeni en Brian Molefe moet hof toe sleep terwyl hul kamerade hande gevou sit.

Na wie verwys pres. Cyril Ramaphosa as hy vra die ouditeur-generaal moet Covid-19-besteding monitor, want “ek wil nie weer ná die tyd ’n kommissie van ondersoek aanstel nie”.

Voorts is daar die algehele gebrek aan morele wil – dit is skandalig dat burgerlike organisasies diewe soos Dudu Myeni en Brian Molefe moet hof toe sleep terwyl hul kamerade hande gevou sit.

Weens die ongelykhede in Suid-Afrika gaan daar altyd ’n sterk sosiaal-demokraties inslag moet wees, byvoorbeeld deur maatskaplike toelaes en ander hulp.

Maar moontlik is dit onbillik om Kieswetter te verdink van enige flirtasie met meer staatsingryping, soos die wurggreep wat die elite-verrykingsmodel van swart bemagtiging op entrepreneursvaardighede, groei en geleenthede vir almal geplaas het.

Hopelik verbeel hy hom wel die volgende:

  • Doeltreffender dienslewering as die huidige regeringsvlakke, met private hulp waar nodig;
  • Die afsien van die gek idee van ’n nasionale gesondheidstelsel en eerder die aanstelling van staatshospitale se besture, suiwer gegrond op kundigheid; en
  • Die grootskaalse skrapping van regulasies op alle ekonomiese vlakke, van kleinsake tot korporatiewe vlak, om inisiatief, uitbreiding en groei te bevorder.

Laastens kan Kieswetter gerus gaan tee drink by Tewolde GebreMariam, uitvoerende hoof van die Ethiopiese Lugdiens. Die diens is wel volledige in staatsbesit, maar net op papier. Die staat dra nie ’n enkele sent by nie en meng hom nie by aanstellings in nie. GebreMariam het homself vanuit die bagasie-afdeling opgewerk en is in 2019 aangewys as die beste lugdienshoof ter wêreld.

Moontlik kan Kieswetter vir GebreMariam oortuig om wel by die SAL aandele te koop en hom verseker geen minister sal kort-kort die kantore besoek nie, en geen aanstellings met politieke bande sal gemaak word nie. En onproduktiewe vakbondlede met belaglike voordele soos aanmeldtoelaes en lang siekverlof, sonder siekbriewe, sal nie in sy pad staan nie. Dan sal ons groter gelykheid en bemagtiging kry.

  • Beukman is redakteur van Beeld
Meer oor:  Barnard Beukman  |  Saterdag Brandpunt  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.