Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kim Jong-oen dalk slimmer as wat hy lyk

Is die Koreaanse krisis verby? Die spitsberaad tussen pres. Donald Trump van Amerika en die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, wat vir Mei beplan word, het mense behoorlik regop laat sit.

Die probleem om dié verwikkeling te beoordeel, is dat niemand werklik weet wat agter die skerms in die uiters geslote Noord-Korea gebeur nie. Dis onbekend wat Kim se strategiese doel was met die dreigende kernwapentoetse en oorlogstaal.

Daar is waarnemers wat meen sy primêre oogmerke was om sy regime se oorlewing te verseker en dat Amerika die diktatuur met respek as gelyke erken. Selfs al gee Kim nou – soos hy teenoor Suid-Korea te kenne gegee het – sy kernwapens prys, sal hy dan sukses behaal het. Ook Trump sal tevrede kan voel. Tog, baie water sal nog in die see moet loop voordat ’n mens kategories kan sê dat die krisis verby is.

Dit begin met ’n ysige verhouding en verskriklike wedersydse dreigemente.

Verskeie redes kan vir Noord-Korea se ommeswaai aangevoer word. Let wel, dis gissings, aangesien niemand weet wat werklik in Pjongjang gebeur nie. Een rede kan wees dat die streng sanksies selfs die regerende elite begin byt. Ook China neem nou daaraan deel, wat ’n beduidende verskil maak.

Nog een kan ’n begeerte wees om ’n wig tussen Suid-Korea en Amerika in te dryf. Omdat die Suide ernstig deur ’n oorlog beskadig kan word, is dié land eerder as Amerika bereid om na alternatiewe vir gewapende konflik te soek.

Derdens is dit moontlik dat Noord-Korea in die geheim tyd wil wen om sy kernwapens só ver te ontwikkel dat hy die wêreld voor ’n voldonge feit kan stel. En laastens het Kim dalk geskrik vir Trump se krygshaftige dreigemente dat hy Noord-Korea met die grond gelyk sal maak as dié te ver gaan.

Dit sou ewenwel ’n fout wees om te gou te juig. Die onlangse geskiedenis is nie aan optimiste se kant nie; die betrekkinge tussen Noord-Korea en die res van die wêreld het nou al herhaaldelik deur ’n siklus gegaan.

Dit begin met ’n ysige verhouding en verskriklike wedersydse dreigemente. Dan soek Amerika en Suid-Korea versigtig toenadering, en die ys smelt skynbaar vinnig.

Dan soek Amerika en Suid-Korea versigtig toenadering, en die ys smelt skynbaar vinnig.

Handelsbetrekkinge en wedersydse besoeke en glimlagge volg. En dan, skielik uit die bloute, draai die Noorde om en verbreek alle verbindingslyne met die Suide. Wapens word sigbaar getoets. Terug by dreigemente om die Suide (en Amerika) uit te wis.

Al wat gebeur het, is dat die Noorde sulke “vriendelike” tye gebruik om sy kernwapenprogram verder te voer. Of dit nou weer dieselfde siklus gaan wees, kan nie gesê word nie. Gesien die geskiedenis van die laaste sowat 30 jaar, klink dit wel logies.

Maar goed, die moontlikheid van ’n Amerikaanse aanval binne die volgende paar weke op Noord-Korea is voorlopig afgeweer.

Miskien is Kim slimmer as wat hy lyk.

Meer oor:  Kim Jong-Oen  |  Politiek  |  Leierskap  |  Noord-Korea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.