Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kim Jong-oen stel kern-keuse aan Joe Biden
Leopold Scholtz

Te midde van die stadig toenemende spanning tussen China en Amerika – iets wat ’n nuwe Koue Oorlog genoem kan word – is ’n verdere bousteen vandeesweek in die proses vasgemessel – berigte dat Noord-Korea sy kernreaktor Jongbjon weer heraktiveer.

Jongbjon is waar Kim Jong-oen, Noord-Korea se diktator, ’n paar jaar gelede kernwapens gebou het. Die plofkoppe is elders getoets en een daarvan was luidens onbevestigde berigte selfs ’n kragtige waterstofbom.

In 2018 en 2019 is die ontwikkelingsprogram gestaak nadat Kim en oudpres. Donald Trump mekaar twee keer, in Singapoer en Hanoi, ontmoet het. Die twee kon mekaar nie vind nie.

Kim was bereid om die kernprogram volledig stop te sit en af te takel, maar in ruil vir die opheffing van alle internasionale sanksies. Sy doel was enersyds om sy land se status as gevaarlike skurkstaat opgehef te kry en andersyds om sy rampspoedige ekonomiese ellende met ruimskootse Amerikaanse skenkings te niet te doen.

Die twee kon mekaar nie vind nie.

Trump se doel was andersyds om Noord-Korea se gevaar as kernmoondheid uit te skakel. Hy was dus tot die stapsgewyse opheffing van sanksies bereid, maar eers nadat Kim telkens sekere verifieerbare bakens verbygesteek het.

Daartoe was Kim nie bereid nie. En dus het die twee onverrigtersake uitmekaar gegaan. Die probleem het gebly.

Sedertdien was Jongbjon stil. Maar op satellietfoto’s was ’n paar dae gelede te sien dat die kernreaktor weer aan die gang gesit is.

Volgens ’n verslag van die Internasionale Atoomenergie-Agentskap (IAEA) is dit “ ’n duidelike skending van die relevante resolusie van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en is dit besonder teleurstellend”. Inspekteurs van die IAEA is al in 2008 uit Noord-Korea geskop en sedertdien word die land se kernprogram uit die ruimte dopgehou.

Luidens die verslag het Kim selfs ná sy belofte aan Trump in die diepste geheim eenvoudig voortgegaan met die ontwikkeling van kernplofkoppe, al is hulle nie getoets nie. Blykbaar het die land genoeg plutonium vir verskeie plofkoppe vervaardig.

Presies waarom Kim die kernreaktor weer openlik aan die gang gebring het, is onbekend. Die mees logiese verklaring is dat hy politieke druk op Trump se opvolger, pres. Joe Biden, wil plaas om sanksies opgehef te kry. Biden het juis die sanksies ’n paar weke gelede met ’n jaar verleng en die kans dat Kim sy sin sal kry, lyk nie baie groot nie.

In die praktyk plaas hy Biden en die internasionale gemeenskap egter voor ’n keuse: Help my om my ekonomie met julle geld aan die gang te kry, of aanvaar dat ek vir ’n onbepaalde tyd lank ’n uiters destabiliserende faktor in die internasionale politiek sal wees. Met die missiele wat hy reeds laat ontwikkel het, is Kim teoreties in staat om Los Angeles en San Francisco aan die Amerikaanse weskus te vernietig.

Dinge gaan nog baie interessant word.

  • Dr. Scholtz is ’n skrywer en politieke kommentator wat in Nederland bly.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.