Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kinders moet die waarde van stilte leer ken
Annelie Botes in haar tuin in Port Elizabeth. Foto: Salvileo Meyer

Met die skooljaar op dreef, is ek dankbaar ek verdien nie meer my dagbrood uit juffrou-juffrou wees nie.

En, ongeag die salaris of magsposisie, wil ek nóóit ’n skoolhoof wees nie.

’n Skoolhoof is die verbindingswerwel tussen die kop en rugstring, die sogenaamde atlaswerwel. As dit nie behoorlik in lyn is nie, kan dit legio skete veroorsaak: gebarste hakskene, ingroeitoonnaels, migraine, rugpyn.

In sy posisie as die atlaswerwel van ’n skool, dra ’n skoolhoof ’n verbysterende verantwoordelikheid. Nie net akademies, op die sportveld en kultuurgewys nie. Sy gróótste verantwoordelikheid is om ’n gebalanseerde kind die grootmenswêreld in te stuur.

Vanselfsprekend is ouers ook ’n atlaswerwel. Tog, die helfte van Amerikaanse huishoudings het nie meer ’n stoof nie, net ’n mikrogolfoond om kitskos warm te maak. Dit bring ouers se bydrae tot hul kinders se welstand onder verdenking. Almal skarrel en skrop. Daar is nie tyd om aandag te gee aan ’n kind se innerlike en emosionele geluk nie.

Dit bring ons by ’n vak wat verpligtend behoort te wees, genaamd Stilte. Tog ruim weinig ouers en skole daarvoor tyd in. Dr. Helen Lees se boek Silence in Schools vertel hoe vaste stiltetye in skole ’n positiewe impak het op kinders se prestasies en selfwaarde. Hoe dit swak gedrag en afknouery teenwerk.

Ons praat nie van gedwonge stilte as strafmaatreël nie, maar van opbouende stilte waartydens ’n kind asemhalings- en ontspanningstegnieke geleer word.

Tientalle Britse skole maak al langer as ’n dekade plek vir stiltetye in die daaglikse rooster.

Tientalle Britse skole maak al langer as ’n dekade plek vir stiltetye in die daaglikse rooster. Dis alombekend dat dit nie waffers gaan in Britse skole nie, maar by skole waar reflektiewe stilte ’n instelling is, gaan dit merkwaardig beter.

’n Skoolhoof by ’n primêre skool in Suid-Londen sê kinders het erge probleme om saans tot slaap te kom weens videospeletjies, televisie, ’n gebrekkige dieet en power huisdissipline. Dus daag hulle moeg by die skool op.

As hulle ontspanningstegnieke in stiltetyd geleer word, dra dit by tot beter skoolbywoning en konsentrasievermoë. En dit vorm ’n ketting met meer selfbeheersing en ’n styging in prestasie.

Ongeag waar in die wêreld jy jou ook al bevind, kinders is ’n toekomsbelegging. Om aan hulle die waarde van stilte te leer, kan geen skade doen nie. Maar dit kan betekenisvol wees vir hul sieleheil.

Maar ons as ouers, die skoolstelsel ingereken, vind skynbaar ’n behae daarin om hulle genadeloos van een aktiwiteit en prestasie na die volgende te druk, totdat hulle soos ryp puisies oopbars. En lelike letsels agterlaat.

Jess Lair, voorheen by die Universiteit van Montana, sê: “Children are not things to be moulded, but they are people to be unfolded.”

Frank Ocean, ’n Amerikaanse sanger en fotograaf, sê: “Werk hard in stilte, en laat jou sukses die geluide maak.”

Meer oor:  Annelie Botes  |  Herinneringe  |  Kinders  |  Opvoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.