Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kinders se reg tot onderwys só geskaad

Dit is ’n skreiende skande dat meer as 6 000 leerlinge in die Wes-Kaap aan die einde van Maart steeds nie in ’n skool was nie. Duisende leerlinge het die eerste kwartaal misgeloop – ’n skending van hul grondwetlike reg op onderwys. Gevolglik het die ANC, SAKP, Cosatu, Sadou en Cosas die Menseregtekommissie (MRK) gevra om in te gryp.

Dit is veral kinders uit voorheen benadeelde werkersklasgemeenskappe wat steeds benadeel word. Billikheidshalwe moet genoem word dat die Wes-Kaap nie die enigste provinsie is met hierdie probleem nie.

In die Oos-Kaap en Noord-Kaap was die syfer teen 15 Februarie minder as 500. Opvallend is dat ons verlede jaar hierdie tyd dieselfde probleem ervaar het. Dit was voor die pandemie ons getref het, ’n bewys dat dit nie ’n Covid-probleem is nie.

Onderwysowerhede is al etlike jare bewus van die probleem en die verskonings klink elke jaar dieselfde: daar is nie geld om skole te bou nie en ouers doen te laat aansoek vir plasing.

Vakbonde wys egter daarop dat die meeste ouers betyds aansoek gedoen en die vereiste dokumente verskaf het, maar hul kinders is steeds nie geplaas nie. Die snelgroeiende leerlingtal weens verhuising na die groter stede word ook aangevoer as verskoning. Tog was die syfer in ons digsbevolkte provinsie, Gauteng, minder as 2 000 toe die skole heropen het.

Politieke partye se respons op die krisis het (voorspelbaar) ontaard in ’n politieke moddergooiery.

Politieke partye se respons op die krisis het (voorspelbaar) ontaard in ’n politieke moddergooiery. Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, het gesê die ANC moet verduidelik waarom onbekostigbare salarisverhogings oorweeg word terwyl die nasionale onderwysbegroting besnoei is. Die ANC en sy vennote beweer dit is ’n kwessie van swak beplanning en dat die DA sy prioriteite moet regkry. Blykbaar word miljoene rand begroot vir entstowwe ten koste van leerlinge.

Dis tyd dat politici hul geskille opsy skuif en fokus op die krisis. Dis nie nou die tyd om politieke punte aan te teken nie. Dit skeel ouers bitter min wie vir die probleem verantwoordelik is. Hulle vereis dat hul kinders in die skool moet wees. Van die ouers het gesê hulle wag al twee jaar vir ’n plek in ’n skool.

Dis 6 000 kinders wat ronddwaal en 6 000 potensiële bendelede met die gepaardgaande negatiewe gevolge. Dis 6 000 jeugdiges wat ’n kans op ’n loopbaan ontneem word omdat iemand sy plig versuim het. Dat van hulle Oos-Kapenaars is, is irrelevant. Hulle is Suid-Afrikaners en geregtig om te verhuis na werksgeleenthede.

Ironies was dit tot dusver juis die skole wat dit die minste kan bekostig, wat ekstra leerlinge ingeneem het. Dit is egter nie net arm skole se probleem nie. Covid-19 het die regering gedwing om met volhoubare oplossings vorendag te kom omdat tot 60 leerlinge in ’n klas ingeprop word. Weens Suid-Afrika se finansiële tekort, sien ek geen ander oplossing as om die leerlingratio te vergroot sodat meer leerlinge plek kan kry in voormalige model-C-skole nie. Nie net sal dit transformasie bevorder nie; dis al plek wat nog beskikbaar is.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Skole  |  Onderrig  |  Leerders  |  Onderwysers  |  Leerkragte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.