Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
KKNK-koor paddas wat eendagtig sketter . . .

sketter ww. ’n Skel geluid maak. Luidrugtig te kere gaan, dikwels op ’n dogmatiese manier: En die skare skuim en sketter. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn het weer soos gewoonlik puik produksies op die planke gebring. Daar was ook ’n paar dramas wat agter die skerms afgespeel het.

’n Vrou van 60 is hardhandig behandel nadat ’n feesbeampte haar glo vasgehou, aangerand en geweier het dat sy ’n toilet gebruik. Sy het haarself bevuil. Dis nie snaaks nie. Op ’n tragiese noot: Joshua Pharaoh (9) het by ’n weermaguitstalling in ’n pantservoertuig geval en sy kop hard teen ’n metaalplaat gestamp. Hy’s daarna dood.

Die armoede onder die oorwegend bruin plaaslike gemeenskap was soos iets uit ’n apokaliptiese angsdroom, maar dit was geen illusie nie. Kinders en grootmense se uitreikende honger hande en kaal voete op warm teer was oral.

Daar’s ooglopend geen werk nie en dis duidelik dat van hierdie inwoners aan hongersnood blootgestel is. By kosstalletjies het die reuk van roosterkoek, kaiings en lamsvleis in die lug gehang. ’n Man wat ’n sigaret gerook het, het uit sy blink motor se venster die stompie meerderwaardig na die vuil straat toe gegooi, na ’n bloedarmoedige. Hy het dit vinnig met sonverdorde vingers opgetel en die laaste stukkie met dankbaarheid gerook.

Baie van die paaie is vol gate. Ná ’n donderstorm het die water skielik roesbruin geword. Ons was nie seker of ons dit kon drink nie. Te midde van hoogte- en laagtepunte, was daar ’n ander subteks van toksiese vitrioel en ’n geskuim en gesketter wat homself op sosiale media afgespeel het. Akteurs en teaterpraktisyns (belaglike woord) dink gereeld joernaliste en kritici se rol is om as reklamebeamptes vir hul vertonings op te tree.

Dit is ook mediahuise se skuld. Baie profiele wat van hierdie mense verskyn, lees soos mediaverklarings. Die eindelose blinkgevryfde kopie wat oor hierdie soms erg middelmatige mense verskyn, is verstommend. Daarom raak hulle opgepof met selfvoldaanheid. Sodra ’n negatiewe resensie verskyn, word ad hominem aanvalle op die resensente van stapel gestuur. Klaarblyklik is die grootse belediging om dramaties te vra: “Maar wie ís hierdie persoon?”

Baie teatermense sal nie weet nie omdat dit ná baie gesprekke duidelik was hulle lees nie, behalwe as dit oor hulself gaan. In hul parogiale kokon van bewieroking en narsisme bestaan resensente en joernaliste bloot as naragtige figurante of souffleurs wat húl loopbane moet bevorder.

Op Facebook skryf die akteur Wim Vorster oor ’n hoogs bekwame kritikus die volgende: “Ongelukkig, of gelukkig, het ek nie die resensie in vandag se Krit oor Henry Mylne se weergawe van Ibsen se Die vrou uit die see gelees nie. Die resensent is ’n baie aangename persoon, maar myns insiens glad nie bevoeg of opgewasse vir die werklike (soos genoem) verantwoordlikheid (sic) van ’n geskrewe mening oor ernstige teater lig nie (sic).”

Dit skryf hy (met ander se bitsige kommentaar), sonder dat hy (of hulle) eens die resensie gelees het. Ai, die eendagtige gekwaak van lawaaipaddas darem.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.