Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Klaagliedere kan inspirasie tot aksie wees

Een van die algemene slagspreuke in ons land is “Kamerade, staak asseblief die klaagliedere”. Die bedoeling is moenie net kla nie, doen iets konstruktiefs aan die, weliswaar beklaenswaardige, situasie.

Ja, daar is plek vir kla. Kla is ’n klassieke praktyk in talle godsdienste. Daar is selfs ’n boek met die titel Klaagliedere in die Bybel.

Deur kla druk jy geloof in God uit, sê jy vir God jy neem Hom baie ernstig op en vertrou Hom. Jy stort jou hart by God uit, jou hart vol deernis en omgee ween oor jou eie lewe en oor die toestand van die wêreld.

Kla is ten diepste edel en heilig. Só beskou is kla ’n uiting van geloof, hoop en liefde.

Kla funksioneer dus nie alleen nie. Dis in die geselskap van harte wat deernisvol is, wat omgee, wat simpatie en empatie betoon, harte dus wat saamvoel met ander se vreugde en veral leed, harte wat hulle indink, voel en leef in ander se omstandighede. Klaende, deernisvolle harte toon selfs interpatie – die vermoë om jou in te leef, te voel en te dink in die omstandighede van mense van ander kulture en mense wat aan groepe behoort van wie jy vervreem was.

Klaende harte leef met die realistiese hoop dat, in Anton Rupert se woorde, hulle wat nie aan wonderwerke glo nie, nie realisties is nie.

Wie kla, leef met responsiewe hoop wat oorgaan tot gepaste response op ons uitdagings, en tot konkrete aksie.

Wie kla, leef met responsiewe hoop wat oorgaan tot gepaste response op ons uitdagings, en tot konkrete aksie. Klaers beliggaam elastiese, veerkragtige hoop wat gerek kan word, maar nie gebreek kan word nie.

Klaende harte gaan nie swartgallig en energietappend deur die lewe nie. Hulle weet in Wie hulle glo, op Wie hulle vertrou. Hulle is nie altyd seker oor elke saak nie, maar hulle leef met die blye versekering van uiteindelike oorwinning te midde van talle onsekerhede.

Daar is soveel dinge in ons persoonlike en openbare lewe wat beklaenswaardig is. Dink maar aan armoede, werkloosheid en ongelykheid; die verval en sosiale patologie in talle gemeenskappe en skole; die geweld, moord en onveiligheid in ons samelewing; en die korrupsiekultuur wat skynbaar deel geword het van ons kollektiewe identiteit.

Dan is daar ook die voortdurende stryd om uiteindelik rassisme, klassisme, seksisme en ander vorme van diskriminasie iets van die verlede te maak; die toenemende voorkeur aan oorvereenvoudigde oplossings vir komplekse probleme; die polarisering wat in hierdie verkiesingsjaar deur talle aangeblaas word.

Dis belangrik om oor hierdie uitdagings te kla, te treur en selfs te ween. Die klag het immers inherente waarde. In die klag lê die kiem van konkrete aksies wat vloei uit harte en handelinge van geloof, hoop en liefde. Wie kla dus isoleer van konstruktiewe en handelende geloof, hoop en liefde, moet maar die slagspreuk hoor: Geen klaagliedere nie asseblief!

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Sielsgoed  |  Inspirasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.