Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Klas van 2020 presteer toe bo alle verwagting

Veels geluk aan die matriekklas van 2020. Ná een van die uitdagendste skooljare in menseheugenis, is die matriekslaagsyfer 76,2%, ’n daling van 5,1% vergeleke met 2019. Gegewe die abnormale omstandighede en in ag genome dat sommige matrieks langer as ’n kwartaal sonder onderrig was, het die slaagsyfer alle verwagtinge oortref!

Ten spyte van die laer slaagsyfer het die getal onderskeidings en universiteitsvrystellings gestyg. Die raad vir gehalteversekering (Umalusi) het die regte ding gedoen deur nie die vraestelle “aan te pas” nie en sodoende is die integriteit van die uitslae beskerm.

’n Ontleding van die uitslae toon byna geen verskil in die slaagsyfer van private skole (98,07%) en vorige model C-skole nie (gewoonlik 99% tot 100%). Dié skole het hulpbronne vir aanlyn klasse sodat byna geen tyd verlore gegaan het nie. Die toewyding van onderwysers en ouers se ondersteuning is ’n wenresep.

Volgens die syfers is daar geen korrelasie tussen die getal infeksies en die matriekuitslae nie. Die daling in provinsies met die meeste infeksies, was gering: Wes-Kaap (-2,4%), Gauteng (-3,5%), Vrystaat (-3,2%) en KwaZulu-Natal (-3,7%). In Mpumalanga (-6,6), Limpopo (-5%), en die Oos-Kaap (-8,3) is die daling eerder toe te skryf aan die gebrek aan basiese geriewe wat aanlyn onderrig gekortwiek het. In Noordwes (-10,6%) en die Noord-Kaap (-10,5%), het die groot afstande in die afwesigheid van aanlyn geriewe ’n reuse-impak gehad.

Dis kommerwekkend dat die getal matrieks wat wiskunde en fisiese wetenskap neem, steeds afneem.

Ten spyte daarvan dat hul leerlinge in Engels skoolgaan, presteer Desmond Mpilo Tutu Sekondêr in die Paarl (81%), asook Kayamandi High (82%) en Makupula Sekondêr (94%) in Stellenbosch ver bo die provinsiale syfer. Daarteenoor is heelwat skole met Afrikaans as moedertaal se slaagsyfer net bo 50%. Goeie leierskap speel beslis ’n rol. Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury (82%) en Makupula is enkele voorbeelde. En vroulike skoolhoofde staan hul man, soos Klein Nederburg (87%), Kylemore (84%) en Noorder-Paarl (82%) kan getuig.

Dis kommerwekkend dat die getal matrieks wat wiskunde en fisiese wetenskap neem, steeds afneem. Die vakke moet leerlinge toerus vir die vierde industriële revolusie.

Van die positiewe aspekte is dat 95% van matrieks met spesiale onderwysbehoeftes die eksamen geslaag het, wat meer as 900 onderskeidings insluit. Byna 24 000 van die 70 560 gr. 11-leerlinge wat deurgesit is, het dié kans aangegryp en geslaag. Uit die armer geen-skoolfooie-skole het 275 615 matrieks bo hul omstandighede uitgestyg en met vrystellings geslaag.

Maskers, ontsmettingsmiddels en aanlyn klasse is hier om te bly. En Suid-Afrika het nuwe respek gekry vir onderwysers. Ouers wat krities staan teenoor onderwysers en verlede jaar die rol moes vul, sou uitvind dis nie so maklik nie. Menige kind se drome het waar geword danksy onderwysers. Hulle is helde.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.