Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Klassieke fabel of propaganda?
Willie Spies

Walt Disney het 25 jaar gelede die animasiefliek Lion King vir die eerste keer uitgereik.

Dit was Junie 1994. Suid-Afrika het twee maande tevore die nuwe era van meerderheidsregering betree met Nelson Mandela as staatshoof. Daar was algemene euforie in die lug, ’n splinternuwe regering, nuwe ministers en ’n nuwe parlement. Maar die staatsdiens en openbare ondernemings, soos Eskom, die SAL, Denel, die Poskantoor en die SAUK, asook die algemene infrastruktuur, was nog in die funksionele toestand waarin die vorige regering dit nagelaat het.

In daardie atmosfeer van euforie ná die verkiesing in 1994 het Lion King destyds vir Suid-Afrikaners na net nog ’n storie gelyk. Bygesê, ’n baie mooi storie, met humor, hartseer, mooi musiek, teleurstelling, lewenslesse en triomf vir die goeie oor die slegte. Vir Walt Disney was dit destyds sy suksesvolste animasiefliek ná Snow White, 101 Dalma­tions en Fantasia met ’n wêreldwye bruto opbrengs van R8,4 miljard.

In Julie is Lion King opnuut uitgereik, dié keer met die hulp van animasietegnologie wat so te sê lewensgetroue beelde lewer. Dié keer is moeite ook gedoen om Zoeloe-woorde in die dia­loog reg uit te spreek, met John Kani as een van die stemme. Die kopiereg vir die Suid-Afrikaanse komponis Solomon Linda se 1939-komposisie “The Lion Sleeps Tonight” is ook dié keer behoorlik erken.

Maar daar is nog ’n stuk realiteit wat met die 2019-produksie duidelik na vore kom. Die vervaardigers het, wetend of onwetend, met die nou reeds oorbekende storie sosiale kommentaar gelewer.

Die vervaardigers het, wetend of onwetend, met die nou reeds oorbekende storie sosiale kommentaar gelewer.

Mufasa, die leeukoning, berei Simba, sy kroonprins-welpie, voor op sy toekomstige rol as heerser. In sy kinderlike naïwiteit vra Simba sy pa of die hele koninkryk eendag sy eiendom gaan word. Sy pa wys hom daarop dat dit nie sy eiendom is nie, maar slegs aan hom toevertrou word om te beskerm in almal se belang.

Hy waarsku hom teen gierigheid en toeëiening en leer hom hoe belangrik balans en selfbeheersing is. Hy verduidelik hoe belangrik dit is dat een geslag met die omgewing omgaan op ’n manier dat die balans onversteurd bly en toekomstige geslagte kan deel in die natuurlike lewensiklus.

Dan is daar Scar, Mufasa se broer wat tot elke prys mag soek deur ’n al­liansie met die hiënas, wat bekend is vir hul onvergenoegdheid met hul erg ongelyke plek in die voedselketting.

Scar en sy hiënas vermoor Mufasa, maar skep en gebruik skuldgevoelens by Simba om van hom ontslae te raak. Simba emigreer na ’n sorgvrye paradys en onder die heerskappy van Scar verval die eens trotse koninkryk in ’n woesteny van plundering, agteruitgang en hongersnood.

Die natuurlike voedselketting word selfs deur Scar omvergegooi en die hiënas vervang die leeuwyfies. Só word elke simbool vernietig wat onderdane kan herinner aan die vorige bestel waarin die balans gehandhaaf is en heersers selfbeheersing toegepas het.

Uiteindelik keer Simba terug uit sy ballingskap en herstel die orde.

Uit linkse oorde word hierdie boodskap raakgesien en woedend veroordeel. Ewan Cameron, rubriekskrywer van die webwerf politics.co.uk, beskryf die fliek as “a crazed piece of capitalist propaganda”. Die Nederlandse skrywer en spreker Dan Hassler-Forest beskryf dit in The Washington Post as ’n “fascistiese verhaal” van onderdrukking van die swakkeres.

Ná 25 jaar van belewing van ’n sosialistiese bewind in Suid-Afrika beskou ek Lion King as ’n klassieke fabel wat die werklikhede in Suid-Afrika vandag raak saamvat.) Spies is ’n prokureur van Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.

Meer oor:  Willie Spies  |  Fliek  |  Lion King  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.