Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Klein konsert in Nkandla pla nie

Die intieme teepartytjie tussen twee van die grootste sloopballe wat die Suid-Afrikaanse politiek al opgelewer het, het omtrent die naald geroer. Natuurlik is dit nuus as Julius Malema, leier van die derde grootste politieke party, die eens gulsige president van Suid-Afrika, Jacob Zuma, ontmoet.

Maar die klein konsert wat hulle op die planke gebring het, behoort ons allermins te laat wakker lê en drome te laat droom dat hulle besig is om die gang van die Suid-Afrikaanse politiek te verander. Natuurlik was dit ’n goed gechoreografeerde oefening – alles om relevant te probeer bly. Die teepartytjie het glad nie uit die lug geval nie. Dit was beplan en die uitnodiging is toe skielik die digitale ruimtes ingestuur vir maksimum impak.

Malema se aankoms – nogal met ’n helikopter – by Nkandla was ook nie toevallig nie. Hy wou die indruk skep dat hy iemand van statuur is en nie die gewone, gemiddelde politikus nie. Die helikopter moes die status van mag skep en die duur Duitse motors wat hom by die landingstrook ingewag het, moes hom presidensieel laat lyk. Luukshede soos dié is wat diktators bruisend van opgewondenheid maak. Beslis vir Malema ook.

Ironies, Malema en luuksheid is soos ’n tweeling. Dit is nou die man wat hoog opgee dat hy die armstes van die armes verteenwoordig. Dis nou mense wat nie eens elke dag brood op die tafel het nie en wat gebuk gaan onder erge armoede, van wie hy die leier is.

In die parlement is dit ’n rooi werkersklas-oorpak en mynstewels, maar dit is alles ’n fasade waaragter Malema skuil.

In die parlement is dit ’n rooi werkersklas-oorpak en mynstewels, maar dit is alles ’n fasade waaragter Malema skuil. Sy preke van radikale ekonomiese vryheid is bure bog. Radikale ekonomiese vryheid ja, maar net vir hom en sy boksombende. Mense by die VBS-bank sit nou sonder ’n sent nadat hul swaarverdiende spaargeld gesteel is deur kaders wat geld glo gekanaliseer het na Malema en sy rooi-baret-bende. Daai ondersoek loop nog.

Bymotiewe, komplotte en verskuilde agendas is vir Malema en sy makkers ’n manier van lewe, tweede natuur. Korrupsie is bysaak.

Kyk maar ook bietjie na wie Malema vergesel het na die teepartytjie.

Nou, Yengeni is nie ’n man wat in ’n Toyota Corolla by jou opdaag nie. Nee, hy is ’n Maserati-man.

Een van die hoogs bedenklike karakters was Tony Yengeni. Nou, Yengeni is nie ’n man wat in ’n Toyota Corolla by jou opdaag nie. Nee, hy is ’n Maserati-man. Yengeni is ook ’n veroordeelde bedrieër omdat hy afslag ontvang het vir ’n Mercedes toe hy nog hoofsweep was van die ANC in die parlement.

Hy dien ook van 1994 af in die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC. Hy is ook die man wat Cyril Ramaphosa so ’n paar maande gelede gevra het om te bedank as president van die land. Tony Tornado, soos hy in die politiek bekend staan, se vriende is almal wat teen Ramaphosa gekant is. Dus: ’n omstrede figuur net omdat hy altyd stroom-op wil swem.

Dan was daar Mzwandile Masina, burgemeester van die Ekurhuleni-metropool. Dieselfde Masina wat gedreig het hy sou bedank as Ramaphosa president word. Ons wag nou nog vir sy bedanking. Praat van krummeltjie wat dink hy is ’n brood.

Aan EFF-kant was daar Dali Mpofu en Vuyani Pambo wat Malema vergesel het. Nie met een van die twee Malema-luitenante kan jy ’n nasie bou nie. En dit is sagkens gestel. Soos die arrogante Pambo agterna aan joernaliste gesê het: Die tee was soet en warm.

Ons wat rassepolarisasie haat en nog glo aan die oppergesag van die reg, is selfs bly dat Zuma ’n vetgemaakte kalf vir Malema geslag het. Maar onthou net: Die koffie in die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria is nie altyd soet nie. Of hoe, mnr. Zuma?

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Julius Malema  |  Jacob Zuma  |  Nkandla  |  Politiek  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.