Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kleiner partye help net ANC – DA-LP

Kleiner partye verswak net die DA in sy stryd by die stembus teen die ANC, skryf die DA-LP Cilliers Brink.

Mandla Nhlapo, die DA se suksesvolle kandidaat in Pretoria-Wes. Foto: Gallo Images

Moenie die DA met die badwater uitgooi nie, sê Beeld, Die Burger en Volksblad op 24 Mei in ’n hoofartikel.

Én, sou ek graag wou byvoeg, verstaan wat vir die land en veral die metro’s op die spel is.

Anders as byna elke ander politieke party, maar veral die ANC, kan die DA hom nie op etniese samehorigheid beroep om stemme te wen nie (of staatsgeld gebruik om stemme te koop nie).

Onder die DA-sambreel is kiesers – wit, bruin, swart, Indiër en elke ander menslike variant – met hoë verwagtinge wat deur oortuiging daar gekry en gehou moet word.

Watter oortuiging? Dat Suid-Afrikaners waardes en belange deel wat belangriker as die verskille op grond van ras, stam en taal is.

Ons moes tegelykertyd op drie fronte baklei – ’n goeie oefening vir Oktober se landwye munisipale verkiesing, maar ook duur en uitmergelend.

Dis nie nasionalisme, rassekwotas of swart ekonomiese bemagtiging wat dienste en infrastruktuur onderhou en uitbou nie, maar wel bekwame bestuur en die toepassing van universele beginsels, die DA se handelsmerk.

Makliker gesê as gedaan, selfs al is die top-vyf-munisipaliteite in die land onder volstrekte DA-beheer.

So moes die DA in Pretoria verlede week verbete baklei om ons winste van 2016 in die tussenverkiesings, insluitend ons stemvoordeel oor die ANC in die Tshwane-metroraad, te beskerm.

Ons moes tegelykertyd op drie fronte baklei – ’n goeie oefening vir Oktober se landwye munisipale verkiesing, maar ook duur en uitmergelend omdat die uitslae sou bepaal hoe die hoofstad vir die volgende vyf maande regeer word.

Eerste front: Arcadia (Wyk 92)

DA
DA-raadslede in Tshwane vier die suksesse in verlede week se tussenverkiesings. Van links is: Christo van den Heever (raadslid vir wyk 44), Kwena Moloto (raadslid en voormalige SR-voorsitter by Tuks), Leanne de Jager (raadslid vir wyk 92), Dikiledi Selowa (raadslid en lid van die burgemeesterskomitee vir vervoer) en Mandla Nhlapo (nuwe raadslid vir wyk 3). Die panda is eers gebruik om die eenheid tussen wit en swart te verteenwoordig in SR-verkiesings by Tuks en is nou die DA in Tshwane se amptelike gelukbringer. Foto: Verskaf

Die demografie van hierdie gemeenskap het drasties verander sedert die DA die eerste keer hier gewen het.

’n Groot meerderheid van die kiesers is swart. Toevallig was die DA-kandidaat, Leanne de Jager, wit.

Minstens 10% van alle swart kiesers – ’n aansienlike deel van die totale kieserspubliek en genoeg om die beheer van die metro’s te bepaal – is bereid om by die stembus verby ras te kyk.

Dit is hierdie kiesers wat verlede Woensdag in Arcadia vir Leanne en die DA gestem het.

Natuurlik was daar ook ’n groot wegblystem wat die ANC gekelder het. Maar dit kon netsowel stemme vir die DA ook beïnvloed het.

Die DA het in Arcadia met 57% van die stemme gewen nadat ons in 2019 skaars steun van 30% hier kon behaal.

Tweede front: Pretoria-Wes (Wyk 3)

Hier is ’n groot deel van die DA se ondersteunersbasis wit. Toevallig was die DA-kandidaat, Mandla Nhlapo, swart.

Mandla se hoof-teenstander in wyk 3 was die ANC, maar die uitslag sou altyd bepaal word deur die aantal stemme wat ’n onafhanklike kandidaat (vroeër ’n onsuksesvolle aspirantkandidaat van die DA) by die DA sou kon afrokkel.

Drie was Mandla se gelukkige nommer, want dit is die aantal stemme waarmee die DA uiteindelik Wyk 3 behou het.

Derde front: Faerie Glen en dele van Garsfontein (Wyk 44)

Cilliers Brink

Die tussenverkiesing in dié wyk het die meeste aandag geniet.

Die VF+ het al sy hulpbronne hier in die stryd gewerp.

Dié klein party het baie geld spandeer op Facebook- en halfblad-advertensies in die plaaslike koerantjie en die aanry van stemwerwers van so ver as die Vrystaat.

Te oordeel hierna én aan die aantal plakkate wat hier aan lamppale gepryk het, het die VF+ verwag om die wyk te wen.

In ’n spotprent wat die VF+ se kandidaat, Nick Pascoe, voor verkiesingsdag op sosiale media gedeel het, hardloop die leier van die VF+, Pieter Groenewald, met ’n wyk 44-bal terwyl die DA oor sy eie voete val.

Die onderskrif voorspel: “Woensdag sal veral onthou word vir hierdie onderskepdrie . . . ”

Toe nie, want 65% van Faerie Glen se kiesers het vir die DA gestem.

Maar die opkoms van randpartye soos die VF+ en die Patriotic Alliance beteken dat die DA minder hulpbronne het om verkiesings in ANC-gebiede te veg.

Verlede week is daar nie net in Arcadia, Pretoria-Wes en Faerie Glen gestem nie, maar ook in ANC-wyke soos Sunnyside en Winterveld.

Vyf maande voor ’n landwye verkiesing kon die DA nie bekostig om aan hierdie tussenverkiesings deel te neem nie, omdat ons die setels wat ons het teen die ANC en kleiner opposisiepartye moes beskerm.

Dis net die ANC (en die EFF) wat wen wanneer die opposisie in etniese elemente verbrokkel.

In hierdie verband was ons meer suksesvol teen die VF+ en die onafhanklike kandidaat in Pretoria as teen die Patriotic Alliance in Johannesburg.

Nie een van hierdie randpartye het die mag om die DA te vervang as amptelike opposisie nie, maar hulle elkeen kan net genoeg skade berokken om ons veldtog in ANC-gebiede aan bande te lê.

Dit is wat die DA bedoel as ons sê: Moenie jou stem op ’n klein party vermors nie. Dis net die ANC (en die EFF) wat wen wanneer die opposisie in etniese elemente verbrokkel.

Maar in Oktober sal die DA wel in Sunnyside en Mamelodi en ander ANC-vestings tot die stryd toetree – plekke waar die VF+ en die Patriotic Alliance nie hul voete sit nie, maar waar ’n klein groepie DA-ondersteuners kan bepaal wie die metro regeer.

Brink is ’n DA-LP van Centurion. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Patriotic Alliance  |  Vf Plus  |  Cilliers Brink  |  Tshwane  |  Pretoria  |  Tussenverkiesings  |  Munisipale Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.