Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kletsrym kom tot die redding
Alida Kok
Alida Kok

’N Polities-kulturele tendens waarmee ons die nuwe bulderende 2020’s in Suid-Afrika binnegaan? Bruin hip-hop-kletsrym wat Afrikaans as universiteitstaal gaan help red.

Twee streektale van Afrikaans in musiek – Afrikaapse en veral Oos-Kaapse hip-hop en slordige Standaardafrikaans (wat oorwegend in die noorde van die land gepraat word) – het in 2019 spontaan saam ’n brug gebou wat help om aan Afrikaans as universiteitstaal ’n toekomstige lewenslyn te gee.

Ná die afskaffing van Afrikaans by talle universiteite en die verlies aan Afrikaanse kampuskulture en -radio, begin bruin Afrikaapse hip-hop en wit Afrikaanse rock en alternatiewe musiek om in populêre kultuur nuwe vuur aan Afrikaans as geheel te gee.

Buiten tipiese jong Afrikaanse Pretorianers, Potchefstromers, plattelanders en Bloemfonteiners se diep liefde vir Spoegwolf en Fokofpolisiekar, was Afrikaanse en Afrikaapse hip-hop dié jongmensmusiek van 2019, en het ’n hip-hop-golf gevorm wat in 2020 voortgesit sal word. Kletsrym in Afrikaanse musiek is natuurlik nie ’n nuwe neiging nie, maar wit rock en alternatiewe musiek inkorporeer nou graag hip-hop-kletsrym wat heel anders as tevore is.

Geen potensiële universiteitskultuur kan sonder ’n lewendige jongmens- en musiekkultuur bestaan nie.

Hier is Early B en Loufi die beste voorbeelde. Early B het in 2018 en 2019 met die groep Van Pletzen in die snitte “Die Beats” en “Awaken the Legehness” verskyn, en het sy eie debuutalbum uitgereik. Loufi kletsrym in die vlymskerp, humoristiese “#Blessed” met Bouwer Bosch. Hierdie tipe Afrikaanse hip-hop is ook in nuwe snitte van Bittereinder, Biggy en Snotkop te hoor.

Hoe op dees aarde kan hip-hop en slordige Standaardafrikaans in musiek help om die voortbestaan van Afrikaans as wetenskaps- en universiteitstaal te verseker? Hierdie musiek speel juis so ’n rol omdat dit ’n bruin en wit Afrikaanse jongmenskultuur saambind en aanvuur. Dít is noodsaaklik ná die verlies van kampuslewe in Afrikaans en veral nadat die meeste kampusradiostasies hul musiekspeellys in Afrikaans drasties verkort of afgeskaf het.

Hierdie bruin en wit Afrikaanssprekende jong mense en studente loop nie net klas op tradisionele residensiële kampusse nie, maar skakel met ’n breër Afrikaanse jongmenskultuur wat mekaar vind in skole, private onderrig, sosiale media, “podcasts”, iTunes, Deezer en Spotify, en deur TV, radio en gedrukte media. Geen potensiële universiteitskultuur kan sonder ’n lewendige jongmens- en musiekkultuur bestaan nie.

Bruin en wit Afrikaans vind mekaar in musiek, en gevolglik kan bruin en wit Afrikaans mekaar ook in die bevordering van Afrikaanse universiteite vind, bystaan en aanmoedig.

Hierdie noodsaaklikheid word op ’n treffende manier uitgelig in kykNET se dokumentêre reeks Die Afrikaners, gegrond op Hermann Giliomee se boek met dieselfde titel. Giliomee sê hierin oor die oorlewing van Afrikaans:

“Dis of die taal die vermoë het om ’n nuwe geslag van sprekers te reproduseer, en daarvoor het jy goeie skole en universiteite nodig . . . In ’n sekere sin lyk dit asof daar g’n oorlewingsprobleem is nie, maar aan die ander kant moet ’n mens besef dat hierdie geweldige sterk, dinamiese, polsende kultuurlewe ( . . .) – dit is eintlik soos aan die einde van die dag waar die son begin sak en die lig is nog meer intens as op enige ander oomblik . . . Die toekoms van Afrikaans . . . hang alles daarvan af of ons gaan slaag om alle Afrikaanssprekendes in een gemeenskap saam te voeg. Die Afrikaners alleen is . . . iets soos 3% of 4% van die bevolking. Sonder die bruin Afrikaanssprekendes is hulle ’n heeltemal te klein groepie om te kan bly voortbestaan . . . en (vir) Afrikaans om te bly voortbestaan.”

Meer oor:  Alida Kok  |  Afrikaans  |  Kletsrym  |  Kultuur  |  Jeug
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.