Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Klimaatkrisis is nie in die toekoms nie – dit is al hier

Die toekoms het ’n aaklige manier om ons te bekruip en die hede te word. Onthou jy al daardie waarskuwings oor die klimaatkrisis wat ons net ’n paar jaar gelede nog gedink het alarmisties is? Skielik is dit nie meer die toekoms nie, dit is die hede.

In Kalifornië het derduisende mossels onlangs gevrek, met laagwater gekook in hul eie skulpe weens ’n hittegolf wat die rekordboeke herskryf het.

Tony Weaver
Tony Weaver

Reg oor Europa het temperature tot rekordvlakke gestyg, met Spaanse brandbestryders wat die ergste wegholbrande in menseheugenis beveg.

En terwyl ’n temperatuur van 45,9 °C (Vrydag in Suid-Frankryk aangeteken) nie so ongewoon vir Afrika is nie, is dit ongeëwenaard in Europa, die eerste temperatuur hoër as 45 ºC wat ooit in Frankryk aangeteken is.

Volgens die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) is 2019 nou bestem om een van die warmste jare ooit te wees, en die vyf jaar van 2015 tot 2019 sal waarskynlik die warmste vyfjaarperiode op rekord wees.

Nader aan die huis het ’n wetenskaplike vriend pas teruggekeer van ’n navorsingsreis in die Kalahari. Hy het op Facebook geskryf: “Die reis was goed, behalwe dat die ekosisteem in die Richtersveld heeltemal ineengestort het. Die wêreld se grootste en mees diverse sukkelente-streek is 90% dood; geen reën vir sewe jaar nie. Wie weet waarheen hiervandaan?”

In die Karoo verlaat mense plase en armoede en werkloosheid oorval klein dorpe en omskep hulle in sentra vir dwelmmisbruik en misdaad.

In ’n onlangse artikel in Business Day skets die menseregteprokureur Delme Cupido en Tristen Taylor, ’n postdoktorale navorser by Maties, ’n droewige prentjie.

In die artikel haal hulle dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers aan: “Die omvang is veel groter as wat enig­iemand in hierdie land verstaan. Hierdie droogte is groter as wat enigiemand ooit geken of beleef het.”

Minstens 63 dorpe het dringende droogtehulp nodig en kommersiële boerderye in die Karoo is in ’n toestand van “totale ineenstorting”, met 8 000 werkgeleenthede in die landbou wat al daarmee heen is.

Volgens Hester Obermeyer van die nie-regeringsorganisasie Save the Sheep op Sutherland het dié omgewing in 2015 ’n drakrag van 400 000 skape gehad. Dit het nou afgeneem tot 63 000.

’n Vriend wat ’n lodge in Zambië besit, het vir my WhatsApp-boodskappe gestuur van ’n vlieënier wat in Botswana se Okavango Delta werk.

Die vlieënier het geskryf: “Ons het f****l water en almal se m***e raak minder. Die olifante maak die vee vir water dood. Ek reken ons gaan die meeste van ons wildlewe hierdie jaar verloor. Die Zambezi is 4 m laer as gewoonlik, die Kariba is leeg, hulle kan nie meer krag maak nie. Hotelle by die Vic-valle sit in die donker en brand diesel teen bykans $5 per liter. Ek het die ander dag oor die Zambezi gevlieg, en net voor jy by Cahora Bassa kom, is dit ’n p*sstraaltjie van ’n stroompie.”

Dit lyk dalk na ’n reeks onverwante gebeure, maar dit is nie. Dit is ’n blik op die toekoms – maar die toekoms is nie meer dekades weg nie, dit is hier.

Aardverhitting is ’n werklikheid, klimaatsveranderinge is ’n werklikheid. Dit is hoog tyd dat wêreldleiers die feit aanvaar dat, tensy ons nie aardverhitting as ’n wêreldwye noodtoestand hanteer nie, die aarde ’n totale stelselineenstorting in die gesig staar.

Meer oor:  Tony Weaver
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.