Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Klink ’n glasie op Moody’s
Roelof Botha
Roelof Botha

Stilbly is ook ’n antwoord, lui ’n gesegde wat laas naweek duidelik deur die kredietgradeerder Moody’s Investors Service beaam is.

Vóór die tyd is die asem in bykans elke uithoek van die land opgehou oor die moontlikheid dat Moody’s Suid-Afrika se staatskuld na sogenaamde rommelstatus sou afgradeer, hoewel die oorwig van menings darem slegs ’n verlaging van die vooruitsig vir die land se skuld voorsien het (van stabiel na negatief).

En toe verras Moody’s vriend en vyand deur absoluut niks te sê nie. Maar in die proses het die agentskap stilweg bevestig dat niks wesenlik plaasgevind het nie sedert die vorige oorsig van die kredietwaardigheid van Suid-Afrika se staatseffekte, toe die status van beleggingsgraad behou is en die vooruitsig trouens van negatief na stabiel verbeter het.

Pres. Cyril Ramaphosa en finansminister Tito Mboweni kraai seker nou nog van plesier oor Moody’s se besluit, veral ná die publikasie vandeesweek van ’n bondige oorsig van die land se kredietrisiko’s deur die einste Moody’s.

Leidrade vir hul oorwegend gunstige houding jeens Suid-Afrika word daarin vervat, met spesifieke verwysing na die bestaan van grondliggende fiskale stabiliteit, veral op die gebied van uitgawebeheer. Trae groei in belastinginkomste weens lae ekonomiese groei bly egter ’n bekommernis.

Moody’s verwag duidelik dat Ramaphosa sy beloftes gaan nakom om hoër ekonomiese groei voorop te stel.

Verder word daar meermale na die vooruitsig van hervormings aan ekonomiese beleid ná die verkiesing op 8 Mei verwys. Moody’s verwag duidelik dat Ramaphosa sy beloftes gaan nakom om hoër ekonomiese groei voorop te stel, veral deur middel van samewerking met die private sektor – ’n duidelike klemverskuiwing van die Zuma-era.

Op die keper beskou is die handhawing van beleggingstatus vir die land se staatskuld glad nie vreemd nie, aangesien dié status selfs aan die einde van die rampspoedige Zuma-bewind steeds gegeld het.

Sedert Ramaphosa staatshoof geword het, is daar reeds merkbare positiewe veranderings in die benadering tot ekonomiese beleid in die breë, veral ten opsigte van die noodsaaklikheid daarvan om struikelblokke in die pad van groei en werkskepping uit die weg te ruim. Verder is verskeie Zuma-kaders wat sleutelposte in die kabinet en die openbare sektor beklee het, reeds vervang met oënskynlik meer bevoegde persone.

Die wisselkoers van die rand het uiteraard versterk ná Moody’s se aankondiging en die styging in die waarde van die land se staatseffekte was nóg ’n geskenk.

Die wisselkoers van die rand het uiteraard versterk ná Moody’s se aankondiging en die styging in die waarde van die land se staatseffekte was nóg ’n geskenk.

Die heel belangrikste voordeel van beleggingsgradering bly egter die invloed daarvan op die finansiële rekening van die land se betalingsbalans. Die voortgesette regmerkie van Moody’s beteken dat Suid-Afrika steeds in Citigroup se wêreldindeks van staatseffekte ingesluit is.

Slegs 23 lande in totaal word deur Citigroup waardig genoeg geag vir insluiting in dié belangrike beleggingsinstrument, wat ’n gereelde invloei van beleggings uit die buiteland waarborg. ’n Heildronk op Moody’s is aan die orde van die dag!

Die fynskrif bepaal egter dat ’n groot partytjie voortydig is, aangesien heelwat politieke struikelblokke nog keer dat skouer aan die wiel gesit kan word om die ekonomie aan die gang te kry.

’n Wenk aan die land se staatshoof is om so gou moontlik by Mboweni te gaan aanklop vir ’n bietjie ekstra geld vir die Valke en die nasionale vervolgingsgesag.

Die prima facie-bewyse van korrupsie, diefstal en bedrog teen die Zuma-bende laai op en dit is hoog tyd dat die skuldiges vasgevat word.

Dr. Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.