Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Koebaai, Ace. En lekker braai doer in Dubai!

‘Rea Hlasela. Free State Provincial Government Has Delivered.”

Charles Smith

Dit is met hierdie oordrywing dat Ace Magashule die uitnodiging vir sy “diensleweringsekspo” van R6 miljoen uitgestuur het.

Dit is klassieke Ace: As die provinsie waarvan jy premier is in duie stort weens jou kaders wat jy ontplooi het se patetiese dienslewering, organiseer jy ’n ekspo oor dienslewering.

En daarvoor hoes die belastingbetaler R6 miljoen – geld wat kon gaan om broodnodige dienste te lewer. Maar nee, as die boere Nampo kan hou, kan die kommuniste seker ’n ekspo onder Fidel Castro se nuwe beeld hou.

En siedaar! Al die vullis waai uit Bloemfontein se strate Kaapstad toe (waar die DA dit kan opruim), al die munisipaliteite het dadelik water, die riool wat in elke dorp in die strate vloei, is weggetoor (as jy jou neus en oë toedruk, Ace, is dit seker waar . . .) en die armes in die sinkhuise sonder werk, water en krag gaan huil van aandoening oor sy ruimhartigheid.

Kameraad Ace se ekspo is – soos sy regering van 10 jaar – ’n blufspul. Dis ’n grootpratery oor dienste terwyl net die Guptas soos by Vrede en die Docrats met hul reuse-tender om medisyne in die Vrystaat af te lewer, gediens word. Dit is niks anders nie as ’n rookskerm van R6 miljoen om die chaos in die Vrystaat te verbloem.

Die spoggerige galadinee wat hy gister in die Sand du Plessis-teater sou hou, bygewoon deur ANC’s in blink karre en kamerade wat baat by tenders in nóg blinker karre, was meer soos die afskeidsete van ’n diktator wat soos Pontius Pilatus sy hande in onskuld gewas het terwyl sy ryk tuimel. Soos die Ramaphosa-winde al hoe sterker waai, is sy politieke toekoms ná Desember nie baie rooskleurig nie.

Dalk sorg die Guptas ook vir ’n plekkie in Dubai en kan hy en kameraad Jacob Zuma saans ’n stukkie kameelvleis op die kole gooi en praat soos die koloniale Rhodesiërs van “when we . . .”: “Toe ons nog tenders kon uitdeel en met Mercs en Beamers kon rondjaag en ons die Boere kon melk en die boere gesorg het vir die kos . . . Ja-nee, daai was lekker ou dae, Ace . . .”

Kyk, as jy met staatsgeld vir jou ’n mediaryk op die been bring om jou eie nie-dienslewering so te probeer spin dat die volk jou as ’n messias moet sien en loof, maar jy steeds uitgeskop word, is dit laat in die dag.

Die ANC se KKK-era is vinnig besig om tot ’n einde te kom – kaders, korrupsie en KFC. ’n Nuwe regering sal egter ’n reuse-ondersoek van stapel moet stuur om vas te stel waar al die rekenings is waarin miljarde rande gepomp is wat met staatskaping die land uit is.

Maar eisj, Ace. Ons sê solank koebaai. Ek glo nie die Vrystaat gaan huil as jy aftree nie. Lekker braai doer in Dubai, Ace. En dink soms aan ons armes hier in die eens trotse, vernietigde Vrystaat sonder dienste.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Charles Smith  |  Korrupsie  |  Ekspo  |  Dienslewering  |  Bedrogspul  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.